Een van my gunstelingstories is Jane Eyre (1847) van Charlotte Brönte. Dit vertel die verhaal van ’n dogtertjie wat wees gelaat word en na ’n skool vir meisies gestuur word. Sy word uiteindelik’n onderwyser by die einste skool, wat vir haar ’n deur oopmaak om ’n goewernante te word. Wanneer laas het jy hierdie woord gehoor?

Om ’n lang storie kort te maak: Jane en haar bombastiese, ongeskikte, ongevoelige werkgewer raak op mekaar verlief. Skoonlief en die ondier. Toe hulle in die kerk voor die predikant staan wat hulle in die eg sou bevestig, storm iemand by die deur in en verklaar dat hulle nie kan trou nie, omdat Edward, dis die ondier se naam, reeds getroud is. Sy vrou se naam is Antoinette, sy is van Jamaika afkomstig, en sy woon in een van die vleuels van dieselfde enorme herehuis waar Jane hierdie hele tyd nog ook woon en werk.

Edward gryp Jane aan die hand en lei haar, die pretbederwer en die predikant na die vleuel waar sy wettige vrou woon. Daar is ooglopend groot fout met haar. Haar hare is deurmekaar, sy is nie ordentlik aangetrek nie, en daar is goed soos matrasse teen die mure vasgemaak. Dit blyk toe dat sy geestesongesteld is. In die tyd waarin die boek afspeel, het hulle nog van “mal” gepraat en die wet het gesê ’n mens kan nie van so iemand skei nie.

Edward vertel ’n hartverskeurende storie oor hoe hy om die bos gelei is om onder valse voorwendsels met haar te trou en hoe ernstig haar geestesongesteldheid is en hoe hy haar nie na ’n hospitaal vir geestesongesteldheid sal stuur nie, omdat hulle die pasiënte daar soos diere behandel.

Jane wil niks weet nie en hardloop in die nag weg; die “mal” vrou steek die herehuis aan die brand en spring van die dak af na haar dood toe; Jane keer terug want sy verlang te veel; en sy en haar geliefde leef vir ewig gelukkig saam. Hy is ’n bietjie blind en mank en iets aan sy lyf is lam, maar die punt is, hulle is gelukkig.

Dis ’n vreeslik romantiese storie en my vreeslik siniese hart is vreeslik mal daaroor.

Maar toe verskyn daar in 1966 ’n boek uit die pen van Jean Rhys. Dit vertel die storie van Antoinette, die “mal vrou” in Jane Eyre se verhaal. Haar grootwordjare; hoe sy die Engelsman ontmoet het en met hom getrou het; hoe hy haar emosioneel en verbaal mishandel het; haar uiteindelik teen haar sin saam met hom teruggeneem het Engeland toe; haar in die vleuel van die herehuis saam met ’n versorger laat toesluit het terwyl hy die wêreld vol reis.

Een van die geringste karakters wat in Jane Eyre glad nie ’n stem of storie van haar eie gehad het nie, kry in Wide Sargasso Sea – dis die tweede storie se naam – ’n eie stem en storie.

En nou kan ’n mens nie meer dink Jane Eyre is die mees romantiese storie ooit nie, want jy kan nie meer die mishandeling en die onreg wat jy aanvanklik in Jane Eyre misgelees het, ignoreer nie.

Ek wou vir baie lank nie Wide Sargasso Sea lees of kyk nie. Ek was bang dat dit Jane Eyre vir ewig vir my sou ruïneer.

Elke saak het twee kante.

Daar is sulke stories in die Bybel ook. Stories wat bekend en gelief is, waarop ons ons geloof en teologie bou. Stories wat vir ons geruïneer voel wanneer iemand die onreg daarin vir ons uitwys.

Soos die verhaal van die beloofde land. Daar was mense in daardie land. Daar was volke en kulture en godsdienste wat nêrens anders gehad het om heen te gaan nie. En hier marsjeer ’n volk in, wat tot nou die dag nog slawe was, en hulle hou nie op om oorlog te voer tot die hele land hulle sʼn is nie. En wat meer is: Hulle sê dis hulle God wat die land aan hulle belowe het.

 Het daar nou iets aan jou binnekant gebeur?

Voel jy skielik ’n bietjie ongemaklik?

 Groot en mooi stede te gee wat hulle nie gebou het nie,

huise vol voorrade waarvoor hulle nie gewerk het nie,

putte wat hulle nie uitgekap het nie,

wingerde en olyfboorde wat hulle nie geplant het nie.

Dit alles sê hulle het God vir hulle belowe. (Deuteronomium 6)

Hoekom klink dit bekend?

Ons lees nie hoe die mense wie se land afgevat is dit beleef het nie.

Ons lees net Israel se kant van die storie.

Een duisend jaar later doen hulle dit weer! (Esra 8-10)

Die room van die samelewing is in ballingskap na Babilonië weggevoer.

Die gewone mense, die arm mense het agtergebly.

Tussen 40 en 80 jaar later val die Babiloniese Ryk onder die Persiese Ryk en die room van die samelewing, of ten minste hulle kinders, keer terug na Israel en kry die arm mense, of ten minste hulle kinders, in die huise en op die plase.

Hulle het 80 jaar terug maar ingetrek en die plek aan die gang gehou.

Nou moet hulle uit.

Maar hoe gaan die elite hierdie mense uit die huise en van die plase af kry?

Hulle sal moet sê dis God se wil.

Want as God sê hulle moet gaan, dan móét hulle gaan.

So hulle noem die elite wat weggevoer is en teruggekom het die heilige saad van Israel.

Omdat hulle die heilige saad is, moet hulle suiwer wees.

En om “suiwer” te wees, gryp hulle skielik terug na reëls oor wie hulle nie mee mag meng nie.

Die volke met wie Israel nie mag meng nie, word in Esra 9: 1 gemeld: Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete, Ammoniete, Moabiete, Egiptenaars en Amoriete. Nie een van hierdie volke woon meer daar nie. Dis amper ’n duisend jaar nadat Israel hierdie volke se land gevat het en die mense uitgewis of verdryf het.

Die volk met wie die heilige saad wel gemeng het, was Babilonië.

Soos wat die mense wat in Israel agtergebly het nou maar aangegaan het met hulle gewone lewens, het die mense wat weggevoer is dieselfde gedoen.

Hulle het in Babilonië getrou en kinders gekry en vir hulleself nuwe lewens gebou.

Die vroue en kinders het saam met hulle teruggekom Israel toe.

Die mense wat terugkom, is alreeds ’n volgende generasie wat in Babilonië gebore is.

Hierdie Babiloniese vroue met wie die rykste en belangrikste mans uit Israel getrou het, EN die kinders wat uit hierdie huwelike gebore is, moet teruggestuur word na Babilonië toe.

Die arm mense wat die land so op ’n manier aan die gang probeer hou het, se stories word nie vertel nie.

Nog minder hoor ons in die Bybelse teks van die vroue en kinders wat teruggestuur word.

Honderde gesinne en families wat daarheen getrek het in die hoop op nuwe lewe, word nou uit mekaar geskeur.

Hoekom klink dit bekend?

Sodat die heilige saad van Israel die grond en die land kan terugkry van die armes wat dit vir die laaste 40-80 jaar bewerk en onderhou het.

En hulle sê weer hulle kan dit doen, want dit is wat God wil hê.

Dis hierdie mense wat die geskiedenis neerskryf.

’n Geskiedenis wat twee en ’n half duisend jaar later in elke denkbare taal op aarde gelees word.

Hoe God deur mense, ook deur Bybelse mense, geïnterpreteer word, is nie dieselfde as hoe God God-self openbaar nie.

Die manier waarop mense God interpreteer, kan nie losgemaak word van die konteks waarbinne dit gedoen word nie. Tyd, plek, kultuur, omstandighede waarbinne mense in God glo, beïnvloed hoe mense oor God dink.

Maar die manier waarop God self optree, verander nie.

God skep. God bevry. God skenk lewe.

Ons ken God anders as wat die mense in Esra se tyd of Deuteronomium se tyd God geken het.

Ons ken God in Jesus.

Jesus wat vir die stemloses ’n stem gegee het.

’n Eie stem is nie ons vermoë om te kla nie.

’n Eie stem is ons vermoë en ons reg om oor ons eie menswees te mag besluit.

Partykeer besluit die reëls namens mense oor mense.

Of dit nou die reëls van die kultuur of die politiek of die godsdiens is.

Dis dan wanneer onreg geskied.

As ’n mens onseker is oor wat onreg is, kan jy ’n paar vrae vra om vas te stel.

Wie vertel die storie? Wie se storie word nie vertel nie?

Wie val deur die krake van die stories wat vertel word,

en word nooit weer van gehoor nie?

Jesus het dieselfde vrae gevra.

Miskien nie in dieselfde woorde nie.

Maar met sy lewe.

Die elite van sy dag het baie reëls gemaak oor wie die storie mag vertel en wie se stemme nie gehoor mag word nie.

Daar het baie mense deur die krake geval.

Sondaars, tollenaars, prostitute.

Siek mense, arm mense, anderS mense.

Vroue en kinders.

Samaritane en Galileërs.

Mense sonder ’n eie stem.

Mense met wie enige iemand wat enige iemand was, niks te doen wou hê tensy dit hulle op die een of ander manier kon bevoordeel nie.

Die manier waarop Jesus hierdie mense sigbaar en hoorbaar maak in ’n samelewing wat hulle nie wil sien of hoor nie, sê vir hulle God sien en hoor hulle.

God kan met groot gemak in die politiek en kultuur van die dag besig wees.

Maar die politiek en kultuur, ook die godsdiens van die dag, is nie sonder omhaal gelyk aan God se wil nie.

Ons weet dit nie net uit die laaste 100 jaar in ons eie land nie.

Ons sien dit ook in die Bybel.

Die mense met stemme is dié wat die meeste mag het.

Mense wat dink hulle mag maar oor ander mense se lewens besluit.

Volgelinge van Jesus behoort hulle besig te hou met dieselfde dinge as Jesus.

Om mense sonder stem te sien en te hoor.

Op ’n manier wat hulle menswaardigheid beskerm

en hulle vermoë om hulle eie stories te vertel, respekteer.

Miskien kan ons bede vir hierdie land wees dat God by ons begin.

Dat God ons sal leer om na ander mense se stories te luister sonder om bedreig te voel en onsself te begin verdedig voordat enige iemand ons eers beskuldig of aangeval of uitgedaag het.

Ek wil jou uitdaag om krities met jou omgewing om te gaan.

Met die stories wat jy hoor.

Met mense se interpretasies van hulle lewens. En van God.

Wie vertel die stories?

Wie kan nie oor hul eie lewe besluit nie?

En wat dink jy dink God daarvan?

af
af
Deel met behulp van
Copy link