Ds CJ (Stoffel) Smit is Maandag 17 Augustus 2020 in die ouderdom van 93 jaar oorlede. Hy en sy vrou het sedert sy emeritaat op 31 Mei 1988 in Potchefstroom gewoon.
Ds Smit is op 7 Februarie 1953 georden as predikant van die Kerk. Hy het in die gemeentes Koster, Brits, Ventersdorp, Sannieshof, Zeerust en Declercqville as predikant gedien. Hy was instrumenteel met die stigting van verskeie gemeentes in Wes-Transvaal en die Noord-Kaap. Hy het ook op sinodale terrein bydraes gelewer met kategesehandleidings, was voorsitter van die Predikantevergadering en het in die Raad van Finansies gedien. Sedert sy emeritaat was hy ook preekhulp in gemeentes in die ring van Potchefstroom. In gemeentes Potchefstroom, Grimbeekpark en Potchefstroom-Noord het hy as pastorale hulp gedien.
Ds Smit was 67 jaar lank predikant van die Kerk. Vir die afgelope klompie jare tot met sy afsterwe was hy die tweede oudste lewende predikant van die Kerk. Hy het nooit opgehou om teologie te beoefen nie. Hy het nooit ’n vergadering van die Ringsraad vir Predikante misgeloop nie en sy weldeurdagte bydraes was altyd verrykend. Hy was ’n gewaardeerde kollega en vriend, ’n dienaar van die Woord wat vir die Here lief was en ook lief was vir die kerk van die Here. Tot op hoë ouderdom het hy en tannie Eunice gereeld die eredienste bygewoon. Hy was uniek in sy menswees, getrou in sy aanbidding, getrou aan God en sy medemens. Hy het ’n uitsonderlike geheue gehad en was ’n uitnemende storieverteller. Hy was ook baie lief vir visvang en was gedurende seevakansies nooit sonder sy visstokke nie.
Ds Stoffel en tannie Eunice was 67 jaar lank getroud. Op 5 September 2020 is tannie Eunice ook 93 jaar oud. Vir haar is sy heengaan ’n onbeskryflike verlies. Vir die afgelope jaar het hulle in die aftreeoord Saddlebrook gewoon, waar ds Smit vir die inwoners gereeld Bybelstudie aangebied het.
Hul seun Phonnie en skoondogter Anet het met liefde en sorg na hulle omgesien. Sy kleinkinders en agterkleinkinders was sy trots.
Ons innige meegevoel gaan aan tannie Eunice, Phonnie en Anet en sy twee kleinseuns met hul gesinne.
Ds Willem Kok, Potchefstroom
