Het iemand God al gesien? Nee, dit is tog onmoontlik vir mense om God op aarde te sien en steeds te bly lewe. So hoor ons dit vanuit Ou-Testamentiese perspektief. In Christus sien ons God egter in “aardse gedaante” – as mens tussen ons. In Christus ontmoet ons God! 

Ná ongeveer 2 000 jaar het hierdie wete steeds nie heeltemal “tuisgekom” by ons nie. Steeds dink ons oor Christus as ’n persoon wat gekom, en gegaan het. God was dus vir ’n  tyd lank sigbaar op aarde, en toe nié meer nie. Hoe beleef ons God se sigbaarheid op aarde in ons tyd? 

Ons vier elke jaar Epifanie – die verskyning van God tussen ons in die mens Jesus Christus. Maar wat maak ons van hierdie feesviering? Word ons jaarliks in hierdie feestyd deur ons eredienste versterk in die geloof dat Christus met ons is? Of sit ons, uitgeput ná al die feesvieringe rondom Kersfees, die koms van Christus juis ágter ons? 

Wat beteken Epifanie en wat hou dit vir ons in? Indien ons as kerk van Christus nie met sekerheid hierop kan antwoord nie, kan ons nie verwag dat die wêreld rondom ons iets daarvan sal verstaan nie. 

Hoe verkondig ons Christus se blywende teenwoordigheid, en hoe leef ons dit voor aan die wêreld? Is daar tekens van Christus se hiérwees in ons doen en late as kerk van Christus? Diensbaarheid, geduld, opoffering, lydsaamheid, ondergeskiktheid aan mekaar? Of sien mense “maar net nog ’n organisasie” wat toenemend in wêreldse terme “meeding” ter wille van “sukses” en “volhoubaarheid”? Natuurlik sien mense wanneer die kerk “soos die wêreld” geword het! Is daar dan nog vir hulle sin daarin om deel van die kerk te wees of te word? 

Kan ons hierdie Epifanie konkreet vul met die bewys van God se teenwoordigheid in ons lewe en in ons werk as kerk van Christus? Kan ons ander laat naderkom om die wonder te aanskou van gewone mense wat naby aan God leef – en wat dit ook uitstraal? Kan ons die taal en lewe van liefde laat sien en hoor: eensgesindheid, verdraagsaamheid, nederigheid, vergewensgesindheid en versoening? Kan ons dié Christus-taal van liefde praat én dit lewe, ook teenoor eie broers en susters “wat ons verlaat het”, én teenoor die wêreld wat ons vervolg en kruisig? 

Net deur die taal van liefde te lééf, kan ons die werklikheid van Epifanie vier: dat God teenwoordig is op aarde en dat mense God in ONS kan sien.   

(Hierdie artikel het verskyn in die Januarie/Februarie 2019-uitgawe van Konteks; dit was dr Wian Kloppers se redaksionele berig)

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link