Elke jaar is daar ’n klomp inisiatiewe en kreatiewe idees waarmee die Bybelgenootskap gemeentes motiveer om fondse in te samel vir Bybelverspreiding. In Ermelo het ons in 2022 ’n paar idees van stapel gestuur, maar dit het nie die opbrengs gehad waarop ons gehoop het nie.
Dit het toe so gebeur dat ek in 2023 saam met my skoonfamilie ingeskryf het om die Trans Baviaans te gaan ry. Dit is ’n fietswedren van Willowmore tot Jeffreysbaai – 230 km wat binne 24 uur gery moet word, en daarvoor is natuurlik lekker baie oefening nodig.
Met groot bravade daag ek die gemeente uit om teen my voor te berei vir hierdie groot wedren met die Bybelgenootskap as begunstigde van die uitdaging. Vir elke kilometer wat ek op die fiets van Februarie tot Bybelsondag in Augustus gery het, daag ek die gemeente uit om R10 te skenk vir Bybelverspreiding.
Die kerkraad het ingestem, maar wou weet wat gebeur met die verloorder. Ongelukkig het ek die spottery oral waar ek gaan dat wanneer mense vra wat ons moet aantrek vir ’n bepaalde geleentheid, funksie, en so meer, ek altyd grappenderwys antwoord: ’n speedo en crocks. Vanuit die kerkraad kom die slotsom dat siende ek so lief vir fietsry is, kan ek maar met hierdie speedo van my deur die dorp ry wanneer ek verloor.
Met almal se ego’s wat goed opgewarm is, het ons toe in Februarie 2023 met die groot uitdaging afgeskop.
Kop aan kop het ons Sondag na Sondag die grafieke gewys om te sien wie loop voor, maar ek was nie bewus van die gemeente se sielkundige spel van kompeteer nie. Ek het met groot verwaandheid gespog met my posisie waar ek voorloop in hierdie uitdaging, min wetend van die gemeente se planne.
Gedurende die wintermaande het my kilometers opgedroog, maar ek was steeds voor, so ek het met gemoedsrus saam met my vrou en ons pasgebore dogtertjie tyd deurgebring en met die bediening voortgegaan, want ek loop mos voor.
Op ’n dag gee ons kassiere toe aan my die nuus deur dat iets gebeur het oor ’n tydspan van drie dae. My kilometers is ingehaal en verbygevat, en ek is byna 300 km agter. Ten spyte van vele geleenthede waar ek die storie van die hasie en die skilpad vir my dogtertjies gelees het, het ek klaarblyklik nie daaruit geleer nie.
Selfs met die wedren en laaste paar weke se oefening het ek toe nooit die gemeente kon inhaal nie, en so het ek op 29 September 2023 my straf uitgedien deur met ’n Faf-speedo deur die hoofstraat van Ermelo te ry. Ek het met 730 km verloor, nadat ek met 1 711 km gepoog het.
Met groot vreugde (en verleentheid), dankbaarheid en vertroue in die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, het ek haastig deur Ermelo gejaag op die ou martelpyp. Dit was per slot van rekening ’n besondere voorreg om saam met die gemeenskap van gelowiges by te dra in die bou van gees en fondse vir Bybelverspreiding. Mag dit wees dat ons elkeen bly soek en ontdek watter nuwe vreugdes, geleenthede en energie daar in ons roeping lê.
Nou kan ek ook eendag terugkyk en vertel dat ek met ’n speedo deur Ermelo gery het… vir Bybelverspreiding.
(Ds Schalk Zastron is leraar in Gemeente Ermelo)

