Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (AKV) het ’n skrywe aan gemeentes en ringe gerig rakende die ringsvergaderings van 2026. In hierdie skrywe versoek die Kommissie dat daar indringend, positief en opbouend met mekaar gesprek gevoer sal word oor die Kerk en die werk van die Kerk in die wêreld (eie opsomming).

Daniel Migliore is op 2 Maart vanjaar in die ouderdom van 90 jaar oorlede. Hy was ’n invloedryke teoloog in die Sistematiese Teologie en vir dekades lank verbonde aan die Princeton Theological Seminary.

Migliore het ’n kosbare bydrae gelewer tot die debat rondom die roeping van die kerk. Sy opsomming van die kerk se missionale roeping in die wêreld en die gees waarin hierdie roeping uitgeleef moet word, is na my oordeel in lyn met die Kommissie van die AKV se versoek oor die gesprekvoering by ringsvergaderings.

Migliore het ’n populêre dogmatiese werk met die titel Faith seeking Understanding, gepubliseer. Die eerste uitgawe van hierdie boek het in 1980 en die laaste in 2014 verskyn. Die titel van die werk is waarskynlik by St Anselmus van Kantelberg geleen wat hierdie woorde in die 11de eeu gewild gemaak het. Anselmus se uitgangspunt was dat geloof dieper rasionele nadenke, intellektuele en geestelike navorsing van ons vereis.

In sy boek noem Migliore vier sake wat vir die kerk se nadenke oor haar missionale gees ononderhandelbaar is:

    • Elke kerk wat erns maak met missionale bediening maak ook erns met inklusiwiteit. Hy gebruik Galasiërs 3: 28 as vertrekpunt hiervoor: Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie … (AFR83). Die taak van die kerk is om ’n inklusiewe gemeenskap te skep en te handhaaf. In hierdie nuwe gemeenskap sal diegene wat vroeër as vreemdelinge gebrandmerk was, omarm word as susters en broers in Christus. Otherness and differences, verskille en andersheid, kan nooit as ’n bedreiging gesien word nie. Daar moet eerder ’n samehorigheid leef van alle mense in ’n eenheid en ruimte waarbinne onderlinge verhoudinge hervorm en nuut gemaak word.

Ek is nie seker in watter mate die NHKA hierin geslaag het nie. In baie opsigte is ons ligjare weg van ’n klompie dekades gelede se eksklusiwiteit, maar in sekere opsigte voel dit asof ons steeds net aan die oppervlakte van inklusiwiteit krap. Soms voel dit asof ons die stryd rasioneel voer, maar in wese steeds verstrengel is in argaïese konstrukte.

    • Die missionale gees van ’n gemeente behoort alle gawes en talente van lidmate te verwelkom en dit te benut tot voordeel van die geheel. Die Gees van God deel ryklik gawes uit aan almal. Dit is ons roeping om positief en met oorgawe, met dít wat ons ontvang het, te werk tot eer van God, die Een wat die gawes immers aan ons skenk.

Andersheid in terme van gawes en talente is te dikwels nog ’n bedreiging vir kerke. Ons sal talente eerder onder ’n spreekwoordelike maatemmer wegsteek as om die varsheid en uniekheid daarvan raak te sien en te waardeer.

    • Kerke se missionale gees moet voorts deur vreugde en dankbaarheid gekenmerk word eerder as wat dit gesien word as ’n swaar las op die kerk se skouers en ’n moeisame gewig wat ons moet saamsleep. Vrees en onsekerheid kan nooit die onderbou van ons kerklike werk wees nie. Die agenda moet eerder gebou wees op onverskrokke aksie en met die roeping van ons Heer en die werk van die Gees wat ons lei en stuur. ’n Remmende, vreesbelaaide voortbestaan slegs ter wille van voortbestaan, kan nie ons nadenke oorheers nie.
    • Die missionale gees van die kerk sal laastens die teenwoordigheid van die Gees herken, erken en verwelkom. Hierdie raaksien en verwelkoming moet op elke denkbare terrein van ons lewens geld. Of dit politiek, kuns, wetenskap of godsdiens is, ons is dankbaar oor die Gees van God wat ons lewens rig. Hierdie dankbaarheid geld waar lewe en vrede heers, maar ook daar waar dood en verwoesting in die oë gestaar moet word. Waar dit tog soms gebeur dat kerke deur politieke en menslike omstandighede gelei of bestuur word, durf óns ons nie daardeur te laat inperk nie. Natuurlik is dié omstandighede deel van ’n groter geheel, maar dit is nie rigtinggewend in ons aktiwiteit nie. Die rykdom van moontlikhede in die verkondiging van die evangelie kan nie deur wêreldse konstrukte beperk word nie. Ons maak soms die fout om te dink dat ons die Gees van God en die Seun van God tot ons beskikking het om ons kerklike aktiwiteite te help bestuur. Ons is hoogstens deelnemers aan die missie van ons Heer en die Gees.

John Taylor skryf dat ons teologie sal verbeter wanneer ons daaraan dink dat ons as kerk aan die Here behoort eerder as dat ons glo die Here behoort aan die kerk.

Ons sal in komende tye voldoende geleentheid om tydens ringsvergaderings en op verskeie ander forums positief en konstruktief te besin oor ons taak en roeping as Kerk. Laat ons geleenthede raaksien en nie toelaat dat omstandighede of vooroordele ons aan bande lê nie. Laat ons positief en onbevange op God se roepstem reageer en met oorgawe werk.