Die 74ste Algemene Kerkvergadering (AKV) van die Hervormde Kerk wat in Oktober 2025 in Midstream vergader het, het ’n Geloofsverklaring as getuienis teenoor die owerheid en al die inwoners van Suid-Afrika uitgereik. Dit dien ook as riglyn vir die Kerk se verstaan van ons roeping, dienswerk, teologiese arbeid en verkondiging.
Die AKV het deur middel van dié Geloofsverklaring getuig van die hoop wat in ons leef en die inwoners van Suid-Afrika tot bekering en geloof in God Drie-enig opgeroep.
Die AKV wou ook met die Geloofsverklaring die Hervormde Kerk se besorgdheid en bekommernis verwoord, veral ten opsigte van die volgende sake:
- Die groeiende ekologiese krisis;
- Oorloë wat in verskillende kontinente woed en dreig om wêreldwyd te eskaleer;
- Geweldsmisdaad in Suid-Afrika, veral teenoor vroue en kinders, ook op plase en in arm gemeenskappe;
- Armoede en werkloosheid in Suid-Afrika en die res van die wêreld;
- Korrupsie en wanbestuur in staatsinstellings wat die lewenskwaliteit en werksgeleenthede van die burgers van Suid-Afrika bedreig;
- Dwaalleer wat deur sogenaamde godsdienstige leiers en kerke verkondig word, die misbruik van die evangelie ter wille van selfverryking, politieke invloed en kerke se legitimering van politieke ideologie;
- Sekularisering van die samelewing en denke wat gelowiges verwar en die bestaan van God betwyfel.
Teen hierdie agtergrond het die AKV dit nodig gevind om ses stellings te formuleer wat ons geloof in die konteks van die 21ste eeu verwoord.
Die ses stellings sal kortliks bespreek word – die eerste twee in hierdie uitgawe van Die Hervormer en die ander in volgende uitgawes.
Stelling 1: Die Woord van God
Jesus Christus, volgens die Heilige Skrif, is die unieke Woord van God na wie ons luister, by wie ons leer, aan wie ons gehoorsaamheid verskuldig is en op wie ons in lewe en sterwe vertrou. Daar is geen ander bron vir die geloof en verkondiging buite en benewens die Woord van God nie.
Stelling 1 verwoord iets van die Hervormde Kerk se verstaan van die Woord van God soos dit reeds deur die 73ste AKV (2022) geformuleer is. Tydens daardie AKV is konsensus bereik oor die begrip Woord van God.
Ons is eerstens daarvan oortuig dat wanneer God spreek, daar iets gebeur. In Genesis 1 leer ons dat God se Woord skeppingsmagtig is.
Ons is verder daarvan oortuig dat God Homself deur die Woord bekend maak. God maak van profete en apostels en ander mense gebruik om die Woord te verkondig. Dit is ook die roeping en verantwoordelikheid van die Kerk om God se Woord te verkondig. Die belangrikste van alles is dat God in en deur Jesus Christus sigbaar tussen mense kom woon het. Daarom is Jesus Christus die Woord wat mens geword het (Joh 1: 1).
Ons moet in die Woord van God drie sake onderskei: die geskrewe Woord (die Bybel), die verkondigde Woord, maar veral die vleesgeworde Woord (Jesus Christus). Hierdie drie kan nie van mekaar geskei word nie, maar kan van mekaar onderskei word. Dit is soortgelyk aan ons verstaan van God: God die Vader, Seun en Heilige Gees kan onderskei word, maar nie geskei word nie. Daar is immers net één God soos daar net één Woord is.
Die Woord van God is dus nie beperk tot die geskrewe tekste of Bybelboeke nie, maar verwys eerder na Woordgebeure, waardeur God Homself aktief aan mense bekend maak as ’n daad van selfopenbaring. God se Woord gebeur voortdurend: God se Woord het deur die profete en apostels gekom, het in Jesus Christus hoorbaar en sigbaar geword, maar gebeur telkens weer wanneer hierdie Woord onder leiding van die Heilige Gees gepreek, gehoor en geglo word. Die feit dat God se Woord dinamies, beweeglik en kragtig werk, is op verskillende maniere deur reformatoriese teoloë soos Luther, Bullinger en Barth geformuleer.
Só ’n verstaan van God se Woord impliseer dat die Woord nie uit ’n geslote sisteem of proposisies bestaan nie, maar telkens weer gebeur. Die Bybel word keer op keer die Woord van God wanneer die Heilige Gees ons daarvan oortuig dat die Bybel God se Woord is en God aan ons openbaar. Die Woord van God kan nie op ’n fundamentalistiese wyse gereduseer word tot ’n enkele teksvers wat kategories ewige uitsprake oor God en die wil van God maak nie. So gesien is elke erediens, waar die Woord van God gelees, verkondig en geglo word ’n Woordgebeure waardeur God mense aanspreek en tot geloof bring.
Dit is hierdie verstaan van die Woord van God, soos geformuleer deur die 73ste AKV, wat die agtergrond vir Stelling 1 van die Geloofsverklaring bied:
Jesus Christus, volgens die Heilige Skrif, is die unieke Woord van God na wie ons luister, by wie ons leer, aan wie ons gehoorsaamheid verskuldig is en op wie ons in lewe en sterwe vertrou. Daar is geen ander bron vir die geloof en verkondiging buite en benewens die Woord van God nie.
Daarmee het die AKV en die Hervormde Kerk onomwonde getuig dat daar geen ander bron vir ons geloof en verkondiging bestaan as God se Woord nie, en dat die kern daarvan God se selfopenbaring in en deur Jesus Christus is. Daarom wil ons as Kerk na Jesus Christus luister, by Hom leer en wil ons Hom in alles volg. In lewe en in sterwe vertrou ons op God en vind ons troos in die evangelie van Jesus Christus.
Stelling 2: God se koninkryk
In en deur Jesus Christus maak God aanspraak op ons hele lewe. In en deur Jesus Christus ervaar ons ’n vreugdevolle bevryding van die bande waarmee die wêreld ons bind, sodat ons in vryheid diensbaar kan wees aan God, aan mekaar en God se mense. In en deur Jesus Christus skenk God uit louter genade aan ons vergifnis, en maak God ons deel van sy Koninkryk. Daar is geen deel van ons lewe wat nie onder die heerskappy van Jesus Christus staan nie.
Vir baie Christene is die koninkryk van God ’n vae en abstrakte begrip met min betekenis vir ons alledaagse lewe. Sommige mense dink God se koninkryk bestaan net in die hemel en het net betekenis vir die lewe na die dood wanneer ons by God is. Jesus leer ons iets anders. Jesus leer ons bid: Laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel (Matt 6: 10, AFR83). God se koninkryk is nie net iets vir die hiernamaals nie, maar dit bestaan reeds hier en nou. Dit is ’n werklikheid.
Sommige dink dat die Kerk bydra tot God se koninkryk en die uitbreiding daarvan. Ons hoor so dikwels dat ons as gelowiges, of die Kerk, of een of ander organisasie moet bydra tot die vestiging en uitbreiding van God se koninkryk. Jesus kondig aan: Die koninkryk van God is hier! Dit het reeds gebeur en gebeur steeds sonder die inset van enige mens. Die koninkryk van God bestaan omdat God dit self tot stand gebring het deur die dood en opstanding van Christus. God self laat sy koninkryk uitbrei deur die werking van God se Gees in mense se harte. Ons as Christene, ons as Hervormde Kerk, kan maar net getuig dat God se koninkryk ’n werklikheid is en dat God self sy koninkryk in stand hou en laat voortgaan.
God se koninkryk kom nie met trompetgeskal nie, maar in nederigheid. Jesus word in ’n stal gebore; is deur mense verag, verneder en verraai. God se koninkryk word op die vreemdste manier denkbaar sigbaar wanneer die timmerman van Nasaret aan die kruis sterf. En tog – bokant sy kop aan die kruis is die kennisgewing vasgespyker: Die Koning van die Jode. Jesus as gekruisigde Koning laat ons besef: God se koninkryk word nie sigbaar in die moderne katedrale wat ons oprig nie, maar in die eenvoudige geloof van ’n kind; in die bewerige stem van ’n oumens wat bid; in klein groepies mense wat saam bely dat Jesus die Here is! In God se koninkryk bid jy selfs vir jou vyand, draai jy die ander wang. Ons wat deel is van God se koninkryk, bely: Jesus is die Vredevors. God se koninkryk is die ruimte waar swaarde en spiese gesmelt word om ploegskare te maak (Miga 3: 4 en 5). Daarom het die engele met Jesus se geboorte gesing: Vrede op aarde! (Luk 2: 14).
Met Stelling 2 het die Geloofsverklaring die koninkryk van God as kernbeginsel van ons geloof en kerkwees verwoord. Die Hervormde Kerk se roeping en opdrag is om met woord en daad te getuig dat God se koninkryk in en deur Jesus Christus ’n werklikheid geword het en steeds is, en dat ons ons hele lewe onder sy heerskappy stel. Alles wat die Kerk doen en sê moet in gehoorsaamheid aan Christus gedoen en gesê word.
In ’n volgende aflewering sal aandag aan die volgende stellings van die Geloofsverklaring gegee word.
(Prof Wim Dreyer is emerituspredikant en leraar by Gemeente Outeniqua)