My ma was die liefdevolste mens wat jy ooit sou ontmoet. ’n Mens kon net enkele oomblikke met haar deurbring, maar nadat jy met haar kontak gehad het, sou jy dalk haar naam of gesig vergeet, maar jy sou vir seker weet dat sy jou liefhet. Sy was ’n klein vrou met ’n baie groot hart, en in die somer van 2018 kon haar klein liggaam nie meer teen die siekte veg nie, en sy het gesterf.

Ek vertel mense graag dat my ma se klein liggaam nie haar groot liefde meer kon inhou nie, so sy moes na ’n plek gaan wat al die liefde wat sy wou gee, kon hanteer. Meer as vier jaar later, en mense het my ma en haar liefde al begin vergeet. Haar stem het weggeraak. en haar liefde vergete. Nou wil ek my akademiese werk en my lewe daaraan toewy om die vergete vrouestemme in die gelykenisse van Jesus te hoor.

Jesus se gelykenisse

Die gelykenisse van Jesus, en eintlik die hele Bybel, was nog altyd blootgestel aan patriargale interpretasies. Dikwels lees ons ’n teks met net mans as karakters, en slegs die belange van mans geniet aandag. Maar in die agtergrond van hierdie tekste, en baie keer in die voorgrond maar versteek, was daar vroue wat aktiewe, betekenisvolle lewens geleef het. Hierdie vroue se lewens was van kritieke belang, en daar kan slegs ’n volledige prentjie van die verlede wees as vroue ook ingesluit word in die geskiedenis. Ons weet tog dat vroue ongeveer die helfte van die bevolking in die geskiedenis uitmaak, en om vroue te ignoreer, skakel dus die helfte van die geskiedenis uit. In hierdie bydrae bespreek ek graag die gelykenis van die verlore seun.

Nou mag jy dink, maar daar is geen vroue in daardie gelykenis nie! Maar daar is! Hulle is oral en ek glo dat hul stemme belangrik is en gehoor moet word sodat ons nie net ’n akkurater weergawe van die geskiedenis kan kry nie, maar dat meer mense kan verstaan dat vroue aktiewe rolspelers was in Bybelse narratiewe.

Die verlore seun wat weer terugkeer na sy ma

Die gelykenis van die verlore seun in Lukas 15 is moontlik die gelykenis wat ons die beste ken. Dit het al in ons alledaagse lewens ingebloei met iemand wat sommer sal uitroep, A, die verlore seun keer terug, sonder om eens te dink aan die Bybel. Nou hoor ek jy vra, waar is die vroue? Sonder om komplekse tegnieke soos sosiaal-wetenskaplike kritiek of diep eksegese toe te pas, kan ’n mens net die eerste reël van die gelykenis in die Bybel lees: Daar was ’n man wat twee seuns gehad het. Daardie sin impliseer onmiddellik dat daar ’n moeder was, of ten minste ’n vrou. Wie anders het geboorte gegee aan hierdie kinders? So, iewers in hierdie storie is daar vroue.

In die eerste eeu is vroue gereeld geassosieer met die huis (oikos in Grieks). Vroue sou tipies die take van die huishouding behartig, soos die voorbereiding van kos, die maak van klere, en om kinders te onderrig. Dit beteken ook dat ’n eerste-eeuse persoon, soos die eerste hoorders van Jesus se gelykenisse, die woord oikos sou gehoor het en onmiddellik aan vroue en hul rolle sou dink.

Dink aan die feesmaal wat vir die verlore seun voorberei word wanneer hy terugkeer. Wie sou daardie kos voorberei en bedien? Vroue. Nog te meer, as ’n mens dink aan die pa wat vir sy seun wag: Die skrywer van Lukas, in Lukas 15: 20, vertel dat die pa die seun innig jammer gekry het. Dit is moontlik dat die pa tyd met sy vrou deurgebring het in hul huis gedurende die seun se afwesigheid. Vroue was ook bekend daarvoor dat hulle ’n aktiewe rol sou speel in sake van erfporsies, en hulle het gereeld ingetree as mediators met familiesake en konflik. Dit is moontlik dat die pa se hart verander is deur kontak met sy vrou.

Gevolgtrekking

Ons kan dus in ons geestesoë sien dat die verlore seun nie terugkeer na ’n fees wat sy pa vir hom voorberei nie, maar ’n fees wat vroue vir hom voorberei. Net so keer hy nie terug na sy pa se arms nie, maar die arms wat sy ma vir hom voorberei het. Die eerste-eeuse luisteraars na Jesus sou vroue as teenwoordig beskou het in hierdie gelykenis, al word hulle nie genoem nie. As die eerste luisteraars van Jesus die versteekte stemme van vroue kon hoor, hoekom hoor ons in die 21ste eeu nie hul stemme nie? Ons lees nie van hulle in kommentare oor die gelykenis nie, en ons hoor nie van hulle in preke nie. Net soos my ma wat net ’n paar jaar gelede oorlede is, verdien die vroue wat duisende jare gelede ’n nalatenskap gelos het, om vandag gehoor te word.

(Charel du Toit is ’n PhD-student en lektor aan die Universiteit van Pretoria)