Dr Johan Bester het die graad PhD in Praktiese Teologie met die titel ’n NLP-modelleringsproses vir gemeenteontwikkeling en begeleiding aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Hy ondersoek maniere om gemeentes te help om meer doelgerig aan te pas by die veranderende konteks waarin gemeentes hulle tans bevind. 

Uit konsultasies die afgelope jare het dit duidelik geword dat gemeentes terdeë daarvan bewus is as hulle agteruitgaan. Tog bly hulle steeds glo dat alles sal regkom: Ons moet net weer doen wat ons vroeër gedoen het, ons moet byvoorbeeld net weer die jongmense terugkry in die kerk. Ons was immers ’n vooruitstrewende gemeente. Daar word met dieselfde intensie en toewyding in verskillende gemeentes gewerk. Sekere gemeentes wyk nie af van gevestigde idees en uitgediende gebruike nie, terwyl ander wel aanpassings maak en missionaal vernuwend funksioneer.

Gemeentes van verskeie denominasies is onder druk om by veranderende omstandighede en kontekste aan te pas. Die NHKA het aan die tendense nie ontsnap nie. Verskeie gemeentes weet dat aanpassings in hul bediening gemaak moet word, maar die wil en spesifiek die proses om hierdie aanpassings te maak, ontbreek by die meeste gemeentes.  Volgens Gerben Heitink is dit in die huidige gesekulariseerde samelewing algemeen bekend dat die kerk in ’n krisis is. Gevolglik het die kerk sy impak in die post-Christelike era verloor.

’n Situasie-analise is belangrik om vas te stel waar die kerk haar bevind, sodat die uitdagings die hoof gebied kan word. Die agteruitgang en negatiewe statistiek word nie alleen binne die werkruimte van die NHKA ervaar nie, maar sedert 1980 in die Weste. David T Runia het reeds in 1988 na die situasie in Nederland en Duitsland verwys en die kerklike agteruitgang gedokumenteer. Die moontlikheid van ’n Godsverduistering (die afwesigheid van missio Dei) is in die verlede as moontlike rede vir die kerklike verval genoem. Die gebrek aan die uitleef van gestuurd-wees of gestuurdheid word ook in die sogenaamde hoofstroomkerke in Suid-Afrika beleef.

Die tendens van agteruitgang duur voort ten spyte van talle pogings wat reeds aangewend is: Die Gemeentebou-aksie van die vroeë 1990’s, Seisoen van Luister en die Vennootskap van Gestuurde Gemeentes (c 2003).  Die vraag is of hierdie pogings groeiende en blywende veranderinge tot gevolg gehad het. Elke keer word daar weer na nuwe prosesse en aksies gesoek. Die nuutste poging om nuwe vitaliteit en momentum te bewerkstellig, is Fresh Expressions.

Darrell Guder ondersteun hierdie argument: The crises are certainly many and complex: diminishing numbers, clergy burnout, the loss of youth, the end of denominational loyalty, biblical illiteracy, divisions in the ranks, the electronic church and its various corruptions, the irrelevance of traditional forms of worship, the loss of genuine spirituality, and widespread confusion about both the purpose and the message of the church of Jesus Christ. The typical North American response to our situation is to analyse the problem and find a solution. These solutions tend to be methodological. Arrange all the components of the church landscape differently, and many assume that the problem can be solved. Or use the best demographic or psychological or sociological insights, and one can redesign the church for success in our changing context. All it takes, it would seem, is money, talent, time, and commitment.

Die situasie wat in die kerk geld, bring allerlei kritieke vrae na vore: na die huidige manier van doen (status quo); die bruikbaarheid en volhoubaarheid daarvan; en die koerswysigings met betrekking tot die toekoms. Jennifer Kunst stel dit goed: The church does not exist fundamentally to meet needs; in its being, the church, like Christ, exists to glorify the Father.

Verder is die ampsbeskouing van die NHKA en die gevolglike rol en funksie van die predikant van die vernaamste redes waarom die meeste kerklike aktiwiteite om laasgenoemde sentreer. As betalende werknemer in diens van die plaaslike kerkraad, word van die predikant verwag om die omdraaiproses te fasiliteer deur byvoorbeeld weer behoorlike huisbesoek by elke lidmaat te doen en al die bejaardes en siekes so gereeld moontlik te besoek. In gevalle waar die gemeente vakant is, is dit van kritieke belang dat ’n eie predikant so gou moontlik beroep word. Finansieel volhoubaar al dan nie, is ’n sekondêre kwessie.

Bovermelde bevestig ’n ingesteldheid van instandhouding waar die plaaslike gemeente as ’n geslote entiteit beskou word. In sodanige gemeentes is daar nie regtig plek vir nuwe lidmate met nuwe idees en energie nie, aangesien nuwe lidmate met nuwe idees en energie vir bestaande lidmate ’n kultuurverandering impliseer wat as bedreigend ervaar word. Laasgenoemde bevestig ’n na-binne-gerigtheid en ’n gebrek aan ’n koninkryksvisie.

Ten spyte van die feit dat alle moontlike gevare en feite uitgewys word, hou die gemeente by haar besluit. Die lidmate fokus dus baie sterk op hul identiteit as gemeente; op wie hulle is. Malan Nel beklemtoon veral dié identiteit in sy nuwe boek, Identity-driven churches: Who are we, and where are we going?

In gemeentes waar daar wel konstruktiewe verandering plaasvind, verskuif die fokus na gemeentelike bedieninge. Die NHKA het tydens die 70ste AKV die besluit geneem om weg te doen met die begrip standplaas en eerder te fokus op die bediening in die gemeente (Besluitebundel 2013:125). Tydens die 71ste AKV is besluit dat gemeentes ten volle verantwoordelik is vir die volhoubaarheid van die bediening van die evangelie (Besluitebundel 2016:2-3). Die gemeente kry gevolglik nie net insig in haar eie situasie nie, maar raak veral bewus van God se roeping vir die bepaalde gemeente binne ’n bepaalde konteks. Die fokus verskuif weg van hul eie situasie en behoeftes na die behoeftes en nood buite die direkte werkruimte van die betrokke gemeente, en die hele bediening word dienooreenkomstig aangepas. Die gemeentes ontdek as’t ware hul unieke spiritualiteit en begin vra: Vir Wie bestaan ons?

Dit het die vraag laat ontstaan: Hoe kan neurolinguistiese programmering (NLP) ’n bydrae maak om Richard R Osmer se model te ondersteun om meer konsekwent die verwagte uitkomste te bereik? Die bevinding is gemaak dat ’n NLP-modelleringsproses wel gemeentes kan help om te fokus op hul onmiddellike bediening sodat hulle die gemeente kan wees wat God hulle bedoel het om te wees.

In die volgende uitgawe sal aan die praktiese deel van die proefskrif aandag gegee word.

(Dr Johan Bester is ’n spesialis-brugpredikant en gemeenteprosesfasiliteerder en bedien tans Gemeente Pretoria-Noord)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap