Na die 71ste Algemene Kerkvergadering is die Kerk deur ’n briefskrywer daarvan beskuldig dat die vergadering, as gevolg van die besluite oor mense in enkelgeslagverhoudings, tot ’n somer van liefde gereduseer is. Die 72ste AKV sal dan waarskynlik as die vergadering van die vrou beskryf kan word.
Besluite wat lank gelede reeds geneem moes wees, is nou oor die vrou in die Kerk geneem. Lank reeds pla dit my persoonlik dat vrouepredikante baie maal – om die woorde te gebruik van ’n vrouepredikant wat tou opgegooi en van lewenstaat verander het – as niks meer as glorified Sondagskoolonderwysers gesien is nie.
Daar wag in elk geval ’n verrassing vir die hardvogtige kerkrade wat nie vroue wil beroep nie, omdat die meerderheid teologiestudente tans vroue is. Ek wonder of daar dalk êrens in die toekoms ’n AKV gaan wees waar die plek van die man in die Kerk deur besluite verskans sal word…
Die terugvoer wat ek gekry het van verskeie ouderlinge en dominees oor hoe hulle die 72ste AKV beleef het, was positief. Een dominee het dit baie mooi gestel; hy het gesê dat hy die gevoel gekry het dat daar besondere moeite gedoen is om elke stem te laat hoor. My bede is dat ons Kerk die toets van die tyd sal slaag deur die mooi besluite wat ons geneem het tot op grondvlak deur te voer.
Verduur my asseblief as ek iets op persoonlike vlak deel. Dit is nou reeds drie jaar dat ek die verantwoordelikheid het om as redakteur van Die Hervormer te werk. Aan die begin van die termyn het die redaksie besluit om die styl van Die Hervormer te verander. Die uitleg is weer verander na dié van ’n koerant. Medewerkers is voortdurend gemaan om so te skryf dat ook kinders kan verstaan wat hulle skryf, want Die Hervormer is die Kerk se koerant, nie net vir ’n uitgesoekte klompie teoloë wat die betekenis van al die moeilike woorde en hoë taal kan verteer nie. Indien ek nog oor hierdie redaksionele beleid gewonder het, het die antwoord oor die laaste maande gekom. Eerstens toe ’n emeritusleraar vir my by ’n sosiale geleentheid gesê het hy is dankbaar dat hy my te siene kry, want hy wou al lankal vir my sê dat die huidige redaksie gemaak het dat hy weer Die Hervormer begin lees het. Hierdie boodskap is deur verskeie afgevaardigdes by die 72ste AKV herhaal.
Ek wil van hierdie geleentheid gebruik maak om die redaksie te bedank vir hul harde werk. Ds Etienne Fourie (voorsitter van die redaksie, subredakteur van Die Hervormer en redakteur van Blitspos), dr Johan van Staden (subredakteur), dr Anet Dreyer-Krüger, dr Elritia le Roux, ds Elmien Shaw, ds Dalene Lourens, dr Wouter van Wyk (sekretaris: Kommissie van die AKV)… En dan die hart van Die Hervormer, Tessa Oppermann (produksiebestuurder) en Hugo van Niekerk (grafiese ontwerper). Hierdie twee het my weer in wonderwerke laat glo, want hulle kan selfs die uitgawe waarmee ’n mens die meeste sukkel, in ’n oogwink in ’n meesterstuk verander. Baie dankie aan die span, want kom ons wees eerlik, ’n redakteur kan net so goed soos sy span wees. Julle het my altyd soos ’n wêreldkampioen laat voel.
Op persoonlike vlak was hierdie jaar ook vir my vol uitdagings. Vroeg in die jaar het die retina van my regteroog eers geskeur en toe losgekom. Die eerste besoek aan die retinaspesialis was traumaties. Sy woorde het soos ’n doodsvonnis geklink: Het jy maar net vroeër gekom, nou is die werklikheid dat jy die gebruik van jou oog kan verloor. Ek kan jou niks waarborg nie. Baie mense wat in jou posisie is, verloor die gebruik van hul oë. Vandag, maande later, kan ek egter vir die Here nie genoeg dankie sê nie vir die genade wat Hy aan my bewys het. As kind was ek skeel. Gevolglik het my regteroog nooit meer as 50% gesien nie en het ek vir die laaste 40 jaar bril gedra. Op 2 Oktober het ek egter ’n lensvervanging gehad, ’n gevolg van die retina-operasie wat gewoonlik ’n katarak veroorsaak. Op 16 Oktober toets hulle my oë tydens die opvolgondersoek. My sig is 90%, ek loop sonder ’n bril.
Toe ek baie opgewonde is oor die feit dat God my genadig was, vra my dokter my: Sê my, Willem, hoe deel God sy genade uit? Hoekom kan jy so goed sien en ’n volgende pasiënt verloor die gebruik van sy oog? Hoekom oorleef een mens kanker en die volgende een nie?
Dit het my laat dink aan die vraag wat Jürgen Moltmann gevra het nadat sy vriend langs hom tydens ’n lugaanval dood is terwyl hy self ongedeerd was. Nie HOEKOM EK? nie, maar HOEKOM NIE EK NIE? Hoekom het ek nie ook die gebruik van my oog verloor nie? En dan die besef: DIT IS ALLES NET GENADE. Genade wat ek nie kan verduidelik nie. Genade wat ek nie verdien nie. Maar genade wat my laat besef het dat ek, witbroodjie van God, nie net oor hierdie genade moet gaan praat nie, maar deur sy genade moet gaan leef. Prys die Here!
Geseënde Kersfees, en ’n geseënde 2020 vir u almal.