Op 16 Oktober 1994 orden ds Paul Buitendag my as predikant. My bediening het in Gemeente Volksrust as proponent begin, waar ek onder ’n uitstekende leermeester die praktyk van kerkwees van nader leer ken het. Ds Buitendag bly vir my ’n mentor, medegelowige en vriend. Ná hierdie vormende tyd het ek ’n beroep na Gemeente Vrede in die Vrystaat ontvang.

Vir bykans 32 jaar het ek die voorreg gehad om die evangelie van ons Here Jesus Christus in Gemeente Vrede te verkondig. Ná my huwelik met ’n boer in die Vrede-distrik het ek destyds vir die gemeente gesê dat hulle vir die volgende 30 jaar saam met my sou stap. Daardie jare het verbygegaan; die kinders is nou groot, en van hulle kan saam met my man die boerdery behartig. Dit het vir my groter bewegingsvryheid gebied en ’n nuwe geleentheid tot diens geskep.

My paaie en dié van die NHKA het tydelik geskei, maar ek het my pad terug na die Kerk gevind. Toe ’n afvaardiging van die kerkraad van Gemeente Volksrust my in 2025 met ’n beroep na die gemeente genader het, het ek dit biddend oorweeg en met dankbaarheid aanvaar. My man kon steeds voortgaan met die boerdery en terselfdertyd saam met my in Volksrust diensbaar wees. Onder leiding van dr Hein Delport van die Hervormde Teologiese Kollege, prof Jaco Beyers van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria, ds Annerie Conradie van die Proponentseksamenkommissie en lede van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering kon ek op 19 Julie as predikant van Gemeente Volksrust bevestig word. Ek is opreg dankbaar teenoor almal wat deur eerlike gesprekke, vriendelike bemoediging en hartlike ontvangs hierdie pad in die NHKA saam met my moontlik gemaak het.

Die beweging van die NHKA na die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes en weer terug na die NHKA, was vir my ten diepste ’n geloofsaak. Waar ek ook al geroep word om die goeie boodskap van verlossing in ons Here Jesus Christus te verkondig, wil ek in gehoorsaamheid dien. Ek glo dat God van ’n mens rekenskap vra oor die bediening waartoe Hy jou roep. Soos Paulus, kan ek ook sê: Maar vir my is dit nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur ʼn menslike regbank beoordeel word nie. Trouens, ek beoordeel dit self nie eens nie. Daar is ook niks waaroor my gewete my aankla nie, maar dit beteken nog nie dat ek vrygespreek is nie. Dit is die Here wat my beoordeel (1 Kor 4: 3-4, AFR83).

My wortels lê in die Kerk. My teologie is deur dosente aan die destydse Afdeling A van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria gevorm. Ek is dankbaar vir hierdie uitmuntende grondslag vir my werk in die Kerk. In diens van die Heer van die Kerk, en onder leiding van die Heilige Gees, wil ek steeds dien en van nut wees. Om van die Waarheid te getuig tot eer van God, bly die doel en sin van my bediening.

Aan Hom kom die eer, die dank en die lof toe.

(Hooffoto: Di Paul Buitendag, Antoinette van Zyl, Leon Geel en Colin Hertzog)

(Ds Antoinette van Zyl is leraar van Gemeente Volksrust)