Op 19 Februarie 2025 het dr André Ungerer die opening van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) behartig. Teen die agtergrond van 2 Korintiërs 3: 1-2 is die studente aan die HTK, in samewerking met die Fakulteit Teologie en Religie (UP), uitgebeeld as die Kerk se aanbevelingsbriewe.

Dr Ungerer het verduidelik dat daar skribas aan die werk is in die studente se lewens wat geskrifte op hul harte geskryf het wat tot hul roeping gelei het. Tydens hierdie dag het ons die geskrifte op hul harte gevier, maar ook die voorreg dat die Kerk deur haar opleiding dieselfde invloed kan uitoefen. Dit beteken dat ons studente as lewende aanbevelingsbriewe in die wêreld na gemeentes gestuur word om dan op die harte van lidmate te skryf met die ink van die Heilige Gees. Dit is ’n besonderse beeld om ons almal te herinner aan die vreugde, maar ook die verantwoordelikheid wat met hierdie opleidingsproses gepaard gaan.

Tydens die geleentheid het prof Jaco Beyers as adjunkdekaan namens die Fakulteit Teologie en Religie die studente verwelkom. Hy is gevolg deur dr Thinus van Staden, namens die Kuratorium, dr Frikkie Labuschagne van die Sentrum vir Gemeentelike Bediening, asook dr Wouter van Wyk, die sekretaris van die Kommissie van die AKV.

Tydens dié viering is die Diploma in Bediening ook oorhandig aan vyf graduandi, naamlik: oudl Rudolf Koekemoer (Vanderbijlpark), mev Magda Serfontein (Gobabis), oudle Susan Vorster (Kruin), Faan Beeslaar (Bethal) en Johan Bloem (Postmasburg). Ds Bouwer Serfontein beskryf die ontstaan en gevolglike sukses van dié Diploma in Bediening as ’n droom wat waar geword het. Na aanleiding van Besluit 47 van die 72ste AKV in 2019 is daar ruimte geskep vir die opleiding van kerkraadslede, lidmate, en kategete met die oog op dienswerk binne en buite die Kerk. Hierdie ruimte is betree deur lidmate van die NHKA, en op dié geleentheid verwerf die eerste vyf studente hul diplomas. Vir die kundige en passievolle drywers van hierdie diploma het ’n droom waar word – ’n droom wat die kontinuïteit van gemeentes ondersteun deur toegeruste individue. Die volgende woorde is deur ds Serfontein aan die graduandi oorgedra: Dit is my gebed dat elkeen van julle die take wat aan jou opgedra gaan word in die gemeente waar jy is, sal kan uitvoer in diens van ons Hemelse Vader en dat jy so in sy Koninkryk ’n verskil kan maak.

Die oorhandiging van hierdie diplomas was ’n hoogtepunt tydens die opening van die HTK, en het by die invalshoek van die preektema gepas. By dieselfde geleentheid waar teologiestudente as lewende aanbevelingsbriewe geskets word, het ons gesien hoe toegeruste graduandi van die Diploma in Bediening ook na gemeentes gestuur gaan word as aanbevelingsbriewe om ’n ware en praktiese verskil te kan maak.

(Ds Iwana Hartmann is die joernalis van die NHKA en is predikant in Gemeente Pretoria-Oos)

Die vyf graduandi is van links oudl Rudolf Koekemoer, mev Magda Serfontein, oudle Susan Vorster, Faan Beeslaar en Johan Bloem.

Dosente van die Diploma in Bediening. Van links is dr Frikkie Labuschagne, mnr Gustav Janse van Rensburg (HUB van Skillspro), dr André Ungerer, ds Bouwer Serfontein, drr Jan de Man en Johan Bester. Dr Deon du Toit was afwesig met die neem van die foto.