Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken… (Lukas 24: 30-31)
Lees Lukas 24: 13-33
Ek het dié pad tussen Jerusalem en Emmaus – daardie 12 kilometer – al ’n hele paar keer, tree vir tree en heen en weer, saam met Jesus en Kleopas en sy naamlose metgesel geloop. Dié metgesel is na alle waarskynlikheid Kleopas se vrou, nog ’n Maria (Joh 19: 5). Dit is ’n geestelike pad, ’n hartsveranderende pad – amper soos die fisiese Camino de Santiago in Europa of die Jesus-Trail in Israel.
Dié saamloop met Jesus na Emmaus is absoluut die moeite werd, want dit vat jou elke keer tot by die hart van die evangelie – die lewende hoop wat ons vind slegs in die opstanding van die Here Jesus Christus uit die dood. Daar is hoop by die dood verby…
Maar op daardie eerste dag nadat die nuus dat Jesus opgestaan het bekend geraak het, was hierdie lewende hoop nêrens te vind vir die twee Emmausgangers nie. Alles begin met hierdie hart-verskeurende ervaring. Hulle het so pas die ontnugterde en leierlose dissipels agtergelaat in Jerusalem. Hulle soek desperaat na sin. Die Heer wat hulle liefgehad het en gevolg het, is wreed en brutaal vermoor aan ’n kruis. Net ’n week vantevore, op Palmsondag, het hul hoop die hoogte ingeskiet, want hul langverwagte Verlosser wat die onderdrukking van die Romeine sal kom breek, was hier.
Maar nou lê Hy begrawe in ’n toegeseëlde graf, agter ’n groot grafsteen. Hul hoop is vernietig – hul hoop is saam met Hom begrawe. Die berig dat Christus se graf leeg was, het nie veel aan hul eie leegheid kom verander nie. Ons menslike hoop is ’n uiters breekbare ding en wanneer dit eers begin verdwyn, is dit baie moeilik om dit weer terug te kry.
Hoe wonderlik vol omgee en vol deernis is ons Here! Jesus tree met teerheid dié twee se breekbare gemoedere tegemoet. Hy stap sag hul lewe binne, soos net Hy kon, en Hy luister net. Net so het iemand wat hoop verloor het, eenvoudig net jou daar-wees nodig – ’n opregte hart en oor wat luister; nie ’n mond wat goeie, slim raad uitryg nie.
Jesus wil hê dat hulle by hul hooploosheid verbykom. Jesus wil hierdie soekende harte Hom laat vind in hierdie warboel. Erken ons Hom altyd hier langs ons – hier en nou? Wat verblind jou sodat jy Jesus nie nou in jou lewe herken nie? Soms strompel jy voort sonder enige hoop en is jy salig onbewus van die heerlikheid van Jesus hier by jou.
Sonder hoop in Jesus, verloor die lewe sy betekenis. Jesus is nog steeds hier. Hy is die onsigbare alomteenwoordige Here, wat saam met ons loop, wat luister na ons, en as ons gewillig is om sy stem te hoor, openbaar Hy Homself aan ons. Jy moet net glo dat die Here met jou saamloop…
Jesus neem beheer oor hul hartseer. Hoe doen Hy dit? Hy wys hulle hoe God nog elke keer hoop gebring het in mense se lewens. Jesus moes vir dié twee die grootste Ou-Testamentpreek gegee het, met die inhoud dat die verwagtings van Jesus nou vervul is. Die feit dat Jesus die dood en die sonde oorwin het, was die bewys dat Hy werklik die Messias is.
Toe Jesus hierdie Skrif vir hulle oopbreek, reageer hulle positief, en daar begin weer hoop deurbreek; hulle wou selfs meer hê, en dit lei hulle tot die hart-wat-warm-klop-ervaring.
In Emmaus word Jesus ingenooi. ’n Basiese ete is vinnig voorberei. Die brood is op die tafel en die oomblik vir Jesus om Homself aan hulle bekend te maak, het aangebreek. Die brood wat breek in bekende hande laat hulle skielik sien. Hierdie hande was nou die spykerdeurboorde hande van hul Here. Hul gebroke wêreld het weer heel geword. En so ook hul hoop in die opgestane Heer!
Mag ek en jy ook ’n hartsverandering ervaar wanneer Christus self ons lewens kom aanraak. Mag hooploosheid plek maak vir daardie hart-wat-warm-klop-ervaring wanneer ons hoop weer opflikker in sy teenwoordigheid en ons in die lewende hoop van die opgestane Christus kan leef. Daar is hoop! Christus leef!