Ons maak gereed om Kersfees te vier. Die herdenking van die geboorte van Jesus Christus is vir Christene seker die belangrikste feesdag op die jaarkalender. Dit is vakansietyd, rustyd, familietyd. En tog, te midde van ons vreugde oor die geboorte van Jesus Christus, leef ons steeds in ’n stukkende wêreld vol ellende.

Dit wat ons oor die afgelope twee jaar met die Covid-19-pandemie beleef het, het ons opnuut onder die indruk van ons nietigheid en verganklikheid gebring. Die viering van Kersfees laat nie die ellende en swaarkry uit die wêreld verdwyn nie. Slegte nuus bly deel van ons daaglikse lewe. Sterftes, ook op ons paaie, roof, aanvalle, moord, armoede, diskriminasie, korrupsie, siekte en swaarkry herinner ons voortdurend dat ons nie in ’n idilliese wêreld leef nie. Hierdie wêreld is nie ’n sprokieswêreld nie. Die Kersverhaal begin nie soos ’n sprokie of ’n legende nie. Mooi sprokies kan ’n mens bly maak solank jy jou kan verplaas die droomwêreld in, soos die kersvadermite. Maar dis net ’n tydelike bly maak, net ’n storie.

Die Kersevangelie is nie so nie. Dis nie ’n droom nie, dis nie ’n sprokie nie. Dit is geskiedenis, feite, werklikheid. Dis nie fiksie nie, maar nuus. Dit het werklik gebeur op hierdie aarde, tussen mense soos ons, met mense soos ons.

Lukas begin sy beskrywing van die geboorte van Jesus met verwysing na Augustus, die beroemde keiser van Rome. Lukas verwys ook na Sirenius, die prokurator van Sirië. Oor die algemeen aanvaar ’n mens dat so ’n verwysing help met die datering. Die verwysing na Augustus en Sirenius het baie meer betekenis as net datering. Dit sê ook iets van die wêreld en omstandighede waarin Jesus gebore word.

Keiser Augustus het homself gesien as die verlosser van die wêreld. Hy was ’n wêreldheerser met baie mag en roem. In hierdie omstandighede word Christus gebore. Aan die een kant is daar die mag en heerskappy van Augustus, en andersyds die nederige geboorte van ’n kind. God neem ’n wêreldse leier in diens om sy profesieë van eeue tevore in vervulling te bring.

So is die geboorte van Jesus Christus en die hele evangelie deel van die konkrete aardse geskiedenis waarin ons almal staan. Die wêreld van daardie tyd was nie ’n idilliese wêreld nie. Daar was die harde werklikhede van politieke oorheersing, magstryde, oorlog, ellende, en tog ook hoop en vreugde. Ons leef in hierdie selfde wêreld vol ellende en werklikhede van swaarkry en smart. In hierdie wêreld word Jesus gebore. God maak bemoeienis met hierdie stukkende wêreld waarin ons elke dag staan.

God bring sy vrede, Hy laat kom sy koninkryk binne hierdie aardse werklikheid waarin ons elke dag leef. Hierdie vleesgeworde Woord bring hoop vir ’n wêreld in ellende gedompel, vir hulle wat honger is, swaar ly, vir eensames, sondaars, treurendes, vir strydende kerke en Christen-martelare. Hierdie ingrype van God, die geboorte van ons Verlosser, die liefde van God, is nie net stories en drome nie. Dis feite. God kom woon op hierdie aarde onder ons en Hy laat sy beloftes aan ons in vervulling kom.

Augustus gee bevel tot volkstelling in Rome. In Sirië, een van die kleiner uithoeke van die magtige Romeinse Ryk, voer Sirenius, die prokurator, die opdrag uit. Josef het ook gaan registreer – in Betlehem. So word die Skrif vervul dat die Verlosser van die wêreld in Betlehem gebore sou word. Augustus en Sirenius het, sonder dat hulle weet, deel geword van God se reddingsplan vir die wêreld. God gebruik mense, selfs mense wat Hom nie eer nie, om die kwaad ten goede te laat meewerk. God is in beheer. Ons lot, ons toekoms, ons hele lewe is veilig in sy hande.

En dit is die blye boodskap van Jesus se geboorte. Ons hoef nie mismoedig te wees nie. Ons hoef nie bang te wees dat die geskiedenis uit God se hand sal glip en sy koninkryk gekeer sal word nie.

Ons is so geneig om net altyd die negatiewe dinge raak te sien. Ons word moedeloos as ons die harde werklikheid van die ellende, swaarkry, kommer en nood van ons tyd sien en beleef. Ons raak negatief en swaarmoedig en sien geen toekoms nie. En dan klink die Kersevangelie in ons ore. God maak bemoeienis met ons, in ons tyd. Sy ingrype is ook ’n ingrype in die ellendige wêreld waarin ons leef. Hy stuur sy Seun juis om binne die werklikheid van ’n stukkende wêreld sy liefde en genade vir ons te laat realiseer. Die koms van Jesus na die wêreld bring nie net redding nie, maar is ook die belofte dat Hy weer sal kom om ons te kom haal sodat ons kan wees waar Hy is.

Kersfees is die goeie nuus dat God by ons kom woon het. Omdat God die wêreld lief het, maak Hy bemoeienis met hierdie wêreld. Moet nooit twyfel nie, ons leef nie in ’n wêreld sonder God nie. Hy is by ons. Dit is die goeie nuus van Kersfees. In Christus het God se koninkryk gekom, is dit besig om te kom en sal dit in sy volheid kom. Die wêreld het goeie nuus nodig en ons, sy kerk, is geroep om draers van hierdie nuus te wees.

(Ds Willem Kok is skriba van die Kommissie van die AKV en leraar in Gemeente Potchefstroom)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap