Lees Lukas 22: 39-46 (AFR2020)

Die gebeure wat ons telkens tydens die Lydenstyd in die kerklike jaar herdenk, bereik waarskynlik vir Jesus ’n besondere laagtepunt in Getsemane. Sy uitsprake oor verraad en verloëning tydens die Pasga het gedui op lyding na liggaam en gees wat op Hom gewag het.

In enige normale mens is die wil om te lewe – selfbehoud – so sterk soos die lewe self. Daarom vermy ons pyn, lyding en selfs die dood deur enige onverskillige optrede. In sy volkome mensheid is dit vanselfsprekend dat Jesus ’n streng afkeur sou hê van die onnatuurlike. Trouens, sy verhaal beskryf juis ’n mens wat met fyn aanvoeling en skerp waarneming die pyn van mense in hul nood, siekte, gebreke en verstotenheid raakgesien en genesing en herstel geskenk het.

Dit is daarom onmoontlik vir Hom, in sy volkome mensheid, om nie ’n afkeer te beleef in wat op Hom wag nie. In hierdie nag sal Hy, die regverdige, ongeregtigheid beleef. ’n Groep mense sal Hom soos ’n misdadiger, ’n rower, na die ampswoning van die hoëpriester bring. Hy sal verraai word deur Judas en sal verloën word deur Petrus. Ongeregtigheid sal geskied en geseling, pyn, uitputting en verlatenheid wag op Hom. Die sonsopkoms sal drie kruise toon, die middelste een vir Hom bestem.  

Uiteindelik is dit nie moontlik om in woorde te beskryf wat ons Verlosser in Getsemane beleef het toe die volle werklikheid van die fisiese en emosionele lyding wat wag Hom tref nie. Hy bid: Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied (Luk 22: 42). God se antwoord op hierdie gebed is volgens Lukas se beskrywing: Daar het ’n engel uit die hemel aan Hom verskyn en Hom versterk (Luk 22: 43). Jesus se reaksie: Hy is deur intense angs oorval, en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed op die grond geval (Luk 22: 44). Want nou weet Hy: die beker sal Hy drink tot die droesem.

Juis in die evangelis se bondige verteltrant vind ons die werklike diepte van Christus se lyding. Verlate van sy dissipels, in die wete dat hierdie beproewing aan die kruis die vraag sou oplewer: ‘Eli, Eli, lemá sabagtáni?’ Dit beteken ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ (Matt 27: 46).

Ons teks wys ons op die verskriklike van Christus se lyding. Dit word deur Lukas beklemtoon deur die koms van ’n engel wat Hom versterk tot die laaste kraginspanning. Alles moet immers gegee word. Sy sweet pers uit Hom soos bloeddruppels. Dit is alles om aan te toon hoe groot ons skuld is. Graag sou ons wou wegkyk en sê: “Maar ek, ons, my huis kon dit tog nie veroorsaak nie!” Maar kyk ’n bietjie verder – na die wêreld waarin ons kerk wil wees, ’n wêreld waaraan ons meewerk deur sorgeloos met ons geloof en ons kerkwees om te gaan.

Uiteindelik word dit vir die wat  in die verskrikking van Getsemane en Golgota  gelowig kyk en luister juis ook duidelik: Die offer tot versoening vir al ons sonde word hier só gebring. Die vereffening van skuld het hier plaasgevind. In die beeld wat uit Getsemane opdoem, wil Lukas dat ons mag glo:

  • Sondeskuld is ’n gegewe, maar nie onmoontlik om te delg nie;
  • Sonde kan vergewe en vermy word; en
  • ’n Nuwe bedeling het in die koms, lyding en sterwe van Christus aangebreek.

Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste (unieke) Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh 3: 16).

God gee soms wel ook vir ons, sy gelowige kinders, ’n bitter beker om te drink. ’n Beker gevul met emosionele of fisiese pyn, vertwyfeling en wanhoop. Dan drink ons die beker in gewaande eensaamheid en wroeging met baie vrae: Waarom juis ek, of die wat aan my behoort, my geliefdes? Wie gelowig kyk, sal sien dat God ook sy engel stuur om ons te versterk. Dit kan wees in die vorm van ’n hand op die skouer, ’n besoek van ’n vriend, of meer tasbare dinge. Dit beteken nie dat die nood noodwendig eensklaps verdwyn nie, maar dit mag die geloof versterk dat die Almagtige steeds beskik oor alle dinge, ook oor my, nietige skepsel, se totale bestaan.       

Die vraag wat opdoem by hierdie besef is: Hoe reageer ek as God my roep en stuur om soos ’n engel te wees vir iemand wat in nood verkeer? Bied ek dan, om Christus se ontwil, die troos en versterking waaraan daar in ’n gegewe situasie ’n behoefte bestaan? God sal weet of ons vanuit die oortuiging van ons geloof ons roeping as gelowiges sal vervul.   

Share via
Copy link
Powered by Social Snap