Hy het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as ’n mens met ’n klip kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” (Lukas 22: 41-42)
Lees Lukas 22: 39-46
Ewig, onbegryplik’ Wese, Vader, Seun en Heilige Gees… Dit is wat ons in Gesang 260 sing, en dit is ook hoe ons God verstaan. Ewig, groot en onbegryplik. Almagtig en verhewe. Die Gans Andere. Dit is hoe God is. Soms kry ’n mens die gevoel dat God, soos ons bely, hoog en verhewe is, maar so hoog dat Hy onbereikbaar is, ver. ’n Mens kry die gevoel dat God uit die hoogte vir ons sê: Dit is nie so erg nie, byt vas, want eendag in die hemel sal dit met jou beter gaan. Weet Hy regtig wat hier aangaan?
In Getsemane het Jesus gaan bid. Gereeld, maar die aand voordat Hy dood is, sien ons ’n méns in die tuin van Getsemane. Ons sien ’n bang mens, ’n mens wat nie vir die dood kans sien nie. Al weet Hy dit is die wil van sy Vader dat Hy moet sterf, al verstaan Hy alles baie goed, is Hy doodbang. Hy bid: Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van my af weg. Hy sien nie kans nie, want enige mens is bang vir die dood. Dan stuur die Vader ’n engel om Hom te versterk. Maar Hy het in doodsangs geraak en nog ernstiger gebid. Hy was steeds bang en sy sweet het soos bloeddruppels geword en op die grond geval. Want Hy was ’n mens op aarde.
Net wanneer jy oortuig is dat niemand verstaan waardeur jy gaan nie, kom staan Jesus die mens voor jou. Hy het ook die ervaring van die lewensfases van ’n mens gehad. Hy was ’n baba, ’n kleuter, ’n tiener, ’n grootmens. Met elke belewenis van elke fase. Hy het ook die menslike emosies beleef wat ons beleef: blydskap, vriendskap, liefde, hartseer, eensaamheid, woede, teleurstelling, magteloosheid. Die ervaring van vernedering en verwerping, Moegheid, uitputting, pyn en angs. Hy weet wat dit is.
Dink jy niemand verstaan jou nie?
- Hy verstaan. Hy verstaan as jy huil, Hy verstaan van liefde, Hy verstaan van bang en Hy verstaan van vreugde. Menslikheid is nie vir Hom vreemd nie.
- Omdat ons dit weet, is ons ook daarvan oortuig dat Christus Hom met ons nood vereenselwig, dat sy bloed aan die kruis gevloei het omdat Hy die nood van mense verstaan.
- Dit sê vir ons dat ons nie ver van Hom af is en ver van Hom moet bly nie. Ek hoef nie in verhewe taal met Hom te praat nie. Ek hoef nie mooi gebede uit ’n gebedeboek te gebruik nie. Hy verstaan my vreugdegille, Hy verstaan my wanhooproepe, en Hy verstaan my hartseer snikke.
- Omdat die Here Jesus so naby aan ons gekom het en die Immanuel geword het, is dit ons grootste begeerte om deur Hom verlos te word – om al meer en meer soos Christus te word, om al meer en meer sy beginsels uit te leef: liefde, barmhartigheid, genade, billikheid, en die keuse vir wat reg is.