In die 1860’s in die dae toe Pretoria nog in sy kinderskoene gestaan het, was Piet (Henning Petrus Nicolaas Pretorius), broer van generaal Andries Pretorius, en president MW se oom, onder andere transportryer, en het hy gewoon op sy plaas by Broederstroom, Pretoria.

Piet was by die Slag van Bloedrivier, en destyds diaken en ouderling van die (Nederduitsch Hervormde Kerk) Geloftekerk in Pietermaritzburg. Hy het goedere heen en weer vervoer tussen Pretoria en Durban. Piet was ook my oupagrootjie aan vaderskant, Diederik (Diek) Johannes Pretorius (1881-1918 Groot Griep), van die plaas Vlaklaagte naby Bethal, se oupa.

In die winter van 1865 was Piet (toe 65) en drie van sy seuns – Johannes Lodewyk (30), Jacobus Johannes (24) en Albertus Wilhelmus (18) – en ’n neef, AFJ (Andries) Smit (18) – weer op ’n transporttog. (Die neef, Andries, was die kleinseun van BG Smit, ‘n kommandant van die voormalige Goewerneur van die Kaap, sir Harry Smith.) My oupagrootjie Diek se pa, ook Diek, was nog te jonk om saam te gaan en het in Pretoria by sy ma agtergebly. Neef Henning Pretorius (21), twee Indiërs, ses volwasse swart werkers en een jong swart seun was ook teenwoordig.

Hierdie keer was Piet se skoondogter Catharina Maria, gebore Gouws, met twee dogtertjies, Petronella (6) en Johanna (3), en boonop ses maande swanger, ook saam. Dalk as vakansiereis saam met haar man Johannes en/of om te help met kos vir die 18 monde en/of om ’n baba-uitset te gaan koop. Die rede weet ons nie meer nie.

Op 27 Junie 1865 op hul terugtog vroeg die oggend in ysige winterkoue was ’n wrede moord die vonk vir die begin van die Tweede Basotho-oorlog. Dit het gebeur by Moorddraai in die Vrystaat teen die Swartberg (Drakensbergreeks), 30 km vanaf Harrismith.

Volgens die ou transportakte was Moorddraai, of ook Dunbar genoem, Wessels-eiendom waarop ’n 25-morg reg van uitspanning geproklameer is. Hierdie Wessels is belangrik, want hy kon die moontlike vlam by die kruitvat gewees het. Ongelukkig het die Pretoriusse vanaf Durban op pad na Pretoria op Dunbar (waarvan Moorddraai later afgesny sou word), uitgespan, salig onbewus van die onrus wat dreig oor die Drakensberg.

Vandag is die plek en die monument daar bekend as Modder-draai – in ‘n bloekombos, amper omring deur plakkers. Dis digby die Klein Kerkie van Van Reenen, langs die N3-snelweg. Die gedenksteen met ystertralies rondom vertel ’n hartseer verhaal…

Munro & Co, die Pretoriase firma vir wie Piet goedere vervoer het, huur twee ekstra waens van Oubaas Krugel en oom Klaas Botha vir hierdie tog – vier tentwaens en ’n bokwa in totaal. Die vrag word in Durban gelaai met negosieware en die swaar waens kies koers terug Noorde toe.

In daardie jare het die waroete verby Underberg (vandag Wyford Farm) en dan oor die ou Van Reenenspas gegaan. Daarvandaan swaai hulle weswaarts in Van Reenen se rigting en kies dan noordwaarts koers, naastenby waar die N3 vandag langs loop.

Van die Swartberg se omgewing af waar Swinburne en Highlands Farm Estate vandag is, is die wêreld plat en moerasagtig sodat dit ’n moeisame tog afgee. Die ou Transportwet van 1865 bepaal dat die togwaens eers moet uitspan as hulle daar verby is op ’n stuk grond van so 25 morge groot naby die hoofhek van die Highlands Farm Estate – so soort van die 1Stops van ons tyd.

Om van die Natalse voetheuwels af oor die Drakensberg tot by die uitspanning te kom, was ’n uitdagende tog van ’n goeie 15 ure, en daarom span die geselskap donkeraand op 26 Junie by die oorstaning uit. Hulle is morsdoodmoeg, en nadat die aandstuk gemaak en boeke gevat is, kruip almal onder hul karosse in vir die ysige winternag. Voordag die 27ste is hulle op en begin inspan.

Moorddraai se storie het meer as een kant, blyk dit uit volksverhaling. Wie was die aanvallers en wat was hul motief? In die een scenario speel ’n kansvatterdief die hoofrol; in die ander ’n wraakbende.

Leswana en sy rowerbende het te perd bokant Harrismith langs gevlug voor ’n Boere-perdekommando wat op hul spoor was. Hierdie Leswana is ’n geslepe skurk. Hy is ’n Basotho wat dwarsdeur die Oos-Vrystaat en die weste van Natal bekend is as die grootste veedief wat leef. Enigiets op vier pote steel hy.

Kort na sonop gewaar die Pretoriusse die klomp ruiters aankom. Instinktief gryp hulle na gewere, maar Leswana het aangedui die wittes kan maar hul gewere laat staan – hulle wou praat. Hy is so glad met sy bek, dit lyk asof hy boerseep vir ontbyt geëet het. Nee, hy kom nie kwaad doen nie, hy wil net uitvra oor die toestand van die pad oor die berg. Goedgelowig sit die vyf wit mans (Henning was reeds vooruit te perd Pretoria toe) hul wapens neer en stap nader.

Sowat 20 treë van die klein laertjie af, val die eerste skoot. De Oude Piet Pretorius val in sy spore neer as gevolg van ’n koeël reg voor die kop. Sonder omhaal word Smit en die drie Pretorius-seuns, sowel as een van die twee Indiërs en drie bediendes, met assegaaie, spiese en messe afgemaai. Van die wittes is vier geskiet en een doodgesteek.

Die vrou en die twee kleuters sien die moord gebeur. Catharina en haar dogtertjies, Petronella en Johanna, se lewens is wonderbaarlik gespaar. Hulle is, in ’n toestand van totale histerie, vasgebind en in een van die watente geboender. Leswana is ’n opregte Basotho – dis nie deel van die stamkultuur om vroue en kinders te vermoor nie – maar niks belet hom om gyselaars te neem nie!

Ná die moord het die swartes ’n wag by die waens geplaas en te perd na Natal teruggery. Teen die middag het hulle met ’n groot aantal perde, osse, koeie en skape teruggekeer. Die bende plunder toe die waens en laai alles wat hulle wil hê op twee van die waens. Die twee waens is totaal oorlaai. Daarna maak hulle die ander trekosse bymekaar en die hele tamaaie optog kies koers in die rigting van Basotholand.

Nadat die swart bediendes en die ander Indiërman ’n tyd lank saam met die waens aangedryf is, het hulle ’n kans gekry om in die gras weg te kruip en het hulle na Harrismith gevlug, 20 myl (30 km) ver, en alarm gaan maak.

(Volgende uitgawe: Lees meer oor die dapper Hervormde moeder Catharina Pretorius)

Bronne: 1928-Almanak van die NHKA, SP Engelbrecht; Moord op die generaal se broer, Daniel Lötter; Drakenberg Passes, Gilles van Schalkwyk; Zuid-Afrikaanse Monumenten, A Dreyer; Die historiese monumente van SA, JJ Oberholster; en eie familienavorsing, CJ de Bruin.

(Ds C Johann de Bruin is kurator van die SP Engelbrecht-museum)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap