In hierdie en die volgende uitgawes word biografiese sketse geplaas van meer en minder bekende figure uit die ryke verlede van die NHKA. Baie maal word in kerklike biografieë gefokus op die lewens van veral predikante. Dit is egter dikwels die kerkraadslede wat gedurende die Kerk se geskiedenis gesorg het vir die uitbou van die Kerk.
Een so ’n persoon was PJ van Staden wat in 1841 (’n jaar voor die eerste predikant in die Transvaal aangekom het) as kerkraadslid ’n kollektelys onderteken het vir die bou van ’n kerkgebou op Potchefstroom. Oor die aanstelling van PJ van Staden is daar geen gegewens bekend nie. Ons moet aanneem dat hy deur die Raad van Hendrik Potgieter (die Trekkerleier) aangestel is om die geestelike versorging van die Voortrekkers in Potchefstroom te behartig.
In 1842 besoek ds Daniël Lindley van Pietermaritzburg die Voortrekkers oorkant die Vaalrivier. Op Potchefstroom het hy Gemeente Potchefstroom formeel gestig en die eerste lidmaatregisters opgestel. Hy het ook drie ouderlinge en vier diakens wat deur die Volksraad in Pietermaritzburg voorgestel is, bevestig. Een van die eerste ouderlinge was oudl FG (Frederik) Wolmarans.
Frederik Gerhardus Wolmarans is op 15 November 1788 gebore as die tweede kind van Joseph Johannes Wolmarans en Dorothea Geyser. Hy het in 1810 met Catharina Maria le Roux getrou. Hulle het in die distrik George gewoon en het met hul kinders aan die Groot Trek deelgeneem. Hulle was deel van die Potgieter-trek wat ten weste van die Drakensberge gevestig was en het reeds in 1840 in Transvaal gewoon. Hy het hom op die plaas Boschhoek naby Potchefstroom gevestig waar hy gebly het tot met sy dood in 1872.
Oudl FG Wolmarans was iemand met ’n helder verstand wat groot invloed op kerklike sowel as staatkundige gebied uitgeoefen het. Hy het as Volksraadslid die gebied wes van die Drakensberge verteenwoordig. Hy was ’n getroue ondersteuner van genl Andries Pretorius, maar het ook goeie verhoudings met genl Hendrik Potgieter gehandhaaf. Toe Andries Pretorius in Januarie 1852 met 300 burgers na Sandrivier gegaan het om die twee Kommissarisse van die Engelse regering te ontmoet, was hy een van dié wat saamgegaan het. By Sandrivier is ’n traktaat opgestel wat die politieke onafhanklikheid van die Transvaal verseker het. Wolmarans was een van 16 Voortrekkers wat die traktaat onderteken het, interessant genoeg in sy hoedanigheid as ouderling van die Hervormde Kerk.
In kerksake was Wolmarans ’n vurige stryder vir die Hervormde Kerk se onafhanklikheid van die Kaapse Kerk, wat hy as voorwaarde gesien het vir die Transvaal se onafhanklikheid van die Kaapse regering. In daardie stadium was die Kaapse Kerk grootliks onder die beheer van die Britse koloniale owerheid.
Toe ds Andrew Murray en sy broer, ds John Murray, in 1851 die kerkrade van Rustenburg en Potchefstroom wou beweeg om afgevaardigdes na die ring van Transgariep te stuur, waardeur hulle in die Kaapse kerkverband ingeskakel sou word, is dit op aandrang van Frederik Wolmarans geweier. Hy het ingesien dat om iemand te stuur om sitting te neem by ’n ringsvergadering dieselfde sou wees as om te erken dat jy ’n lidmaat van daardie kerk is, iets wat die Voortrekkers van die Transvaal ten alle koste wou vermy as gevolg van die moontlike invloed wat die Engelse regering dan op die Kerk sou kon uitoefen.
Met die bevestiging van ds Dirk van der Hoff, die eerste predikant wat deur die Hervormde Kerk beroep is, het sake op ’n soortgelyke wyse verloop. Toe ds Van der Hoff in 1852 in Kaapstad aankom, het hy gereël dat ds Andrew Murray van Bloemfontein, een van die predikante van die Kaapse Kerk, hom in die Transvaal sou bevestig. Toe ds Van der Hoff in Potchefstroom aankom, het hy gevind dat genl Andries Pretorius en die kerkraad onder leiding van oudl Frederik Wolmarans heftig daarteen gekant was. Die saak van die bevestiging van ds Van der Hoff het gedien by die eerste Algemene Kerkvergadering van die Hervormde Kerk in 1853 te Rustenburg, onder voorsitterskap van oudl Wolmarans. Die AKV het besluit dat ds Van der Hoff eerder deur oudl Wolmarans bevestig moet word as deur ’n leraar van die Kaapse Kerk. Dit het toe so geskied, met die eenparige goedkeuring van die Volksraad en die Krygsraad.
In dieselfde jaar was oudl Wolmarans ook voorsitter van die tweede Algemene Kerkvergadering, dié van 22 November te Potchefstroom, terwyl ds Van der Hoff as skriba gefunksioneer het. Dit is een van die min kere in die geskiedenis van die Hervormde Kerk dat ’n ouderling as voorsitter en ’n predikant as skriba van ’n amptelike vergadering verkies is.
Oudl Wolmarans was ’n voorvegter vir die onafhanklikheid van die Zuid-Afrikaansche Republiek sowel as van die onafhanklikheid van die Hervormde Kerk. Nie een moes in die minste onderworpe wees aan ’n buitelandse gesag nie. Oudl Wolmarans het tot met sy dood ouderling gebly en was ’n leiersfiguur, nie alleen in Potchefstroom nie, maar in die hele Hervormde Kerk. Hy is op 28 April 1872 op sy plaas Boschhoek oorlede, nadat sy vrou hom reeds op 9 September die vorige jaar ontval het.
Die Wolmarans-familie het lank bekendes in die ou Transvaal gebly. Tot so ’n mate dat toe ds Van der Hoff hom moes verdedig teen aantygings dat hy die Voortrekkers van die Kaapse Kerk afvallig gemaak het, ds Van der Hoff homself verweer het deur hom te beroep op gesiene persone soos Paul Kruger (die latere Staatspresident) en die “familie Wolmarans”.
Die geskiedenis van die Hervormde Kerk in hierdie vroeë periode is nie soseer die geskiedenis van predikante nie, maar van gewone gemeentelede en kerkraadslede. Oudl FG Wolmarans se lewe getuig daarvan. Dit spreek boekdele oor die vermoë van gemeente- en kerkraadslede om hul stempel af te druk op die Kerk.
Lank lewe ons kerkraadslede!
(Ds Willem Dreyer is leraar in Delareyville)