Woensdag 18 Maart 2020 lui my selfoon om 20:28. Dis Jasper van der Westhuizen. Hy vra of ek gehoor het van Hannes en Ibel Beukes. Ek sê Nee. Hy vertel my dat hulle albei dood is, vermoor.
Die detail is maar vaag. Ek val neer op ’n stoel. Ek móét bevestiging kry. Ek bel vir Willem Sauer, my redakteur by Die Hervormer en iemand wat lank saam met Hannes by SENTIK gewerk het. Hy bevestig die slegte nuus. Ek hoor sy stem bewe, maar myne bewe nog erger. Willem hoor dit ook en sê: Maak toe jou oë. Hy bid vir my net daar oor die selfoon.
Toe breek die damwal. Ek ruk soos ek snik in die stoel. Karin hou my vas, maar ek kan nie ophou huil nie. Toe ek bedaar, moet ek met iemand praat. Ek bel my twee bloedbroer-kollegas. Jakkals van Rensburg, normaalweg die kalmte en vriendelikheid vanself, vloek sulke lang vloeke. Christo van der Merwe is erg aangedaan. Hy en Hannes ken mekaar van studentedae af en was in ’n stadium kamermaats.
Later klim ek in die bed. Slaap ontwyk my.
Ek dink terug aan die jare wat ek Hannes ken. Ons is goed 30 jaar saam betrokke eers by die Raad vir Kategese, later by die Raad vir Gesinsorg, en mees onlangs by die Kategeseboekekommissie. Ek dink net die kollegas wat deur die jare so saam met Hannes gewerk het aan die opstel van die Kerk se kategesehandleidings sal ’n begrip hê vir die enorme rol wat Hannes gespeel het om die kategesehandleidings, soos hulle tans daar uitsien, ’n werklikheid te maak. Hannes het letterlik ure, maande en jare se werk ingesit. Hy het beplan, gedelegeer, gesoebat om die werk terug te kry, gemodereer, self oorgeskryf, en dan het die proses weer voor begin as die teologiese inhoude na die opvoedkundiges gegaan het vir die skryf van die lesse.
Toe die reeks feitlik klaar was, begin sommige gemeentes kategesemateriaal van buite die Kerk gebruik wat gebaseer is op modulêre lesse. Dié materiaal kos derduisende rande. Plaas van sy nek styf maak, die Kerkorde uitpluk en gemeentes daarop wys dat hulle nét die Kerk se goedgekeurde materiaal mag gebruik, doen Hannes die moeite om daardie materiaal deur te werk en dinge te identifiseer wat in ons boeke kan werk. Hy werk groeps- en faselesse uit vir die hele reeks, ’n stap wat amper profeties van aard was, want kort hierna berig meer en meer gemeentes dat hulle jaargroepe moet kombineer omdat daar nie genoeg kinders vir afsonderlike klassies is nie.
In die paar maande voor sy dood doen Hannes intensiewe navorsing oor moontlikhede om die kategeseboekies elektronies beskikbaar te kry, navorsing wat hy nou nooit sal voltooi nie. In ’n tragiese stuk ironie verskyn die nuwe handleiding vir volwasse kategese, wat volledig Hannes se handewerk is, presies op die dag waarop hy en Ibel vermoor word.
Vir Hannes se onvermoeide arbeid en onblusbare entoesiasme vir die saak van kategese in die Kerk sal ek altyd net die grootste bewondering hê. Maar dis die ménse Hannes en Ibel wat die diepste indruk op my gemaak het. Hulle is deur diep waters in hul lewe. Corne, hul tweede jongste, was vasgevang in ’n web van dwelmverslawing. Sy ouers is saam met hom deur ’n paar rehabilitasiepogings en terugvalle. Toe Corne uiteindelik vir bykans ’n jaar skoon was, sterf hy en sy meisie op slag in ’n motorongeluk, ’n ondenkbare trauma vir enige ouerpaar.
Vir Hannes en Ibel het die lewe voortgegaan. Hulle het steeds albei hul geloof voluit uitgeleef in hul bediening as predikant en onderwyseres. ’n Mens kon nie anders nie as om te sien hoe lief hulle vir mekaar en vir die lewe was. Wanneer hulle vir hul kinders oorsee gaan kuier het, het hul voertuig hier by my gebly. As Hannes nie by was nie, sou Ibel kla: Hy maak my mal, hy kan amper niks meer hoor nie. As Ibel nie by is nie, kla Hannes: Sy maak my mal, al wat sy wil doen is net shop, shop, shop!
Tweeuur die oggend van 19 Maart lê ek nog wakker. ’n Besef tref my. Ek is diep lief vir Hannes en Ibel. Ek huil weer. Ek het dit nooit vir hulle gesê nie.
Dr JA (Hannes) Beukes (emeritus/Morgenzon) en sy vrou, Ibel, is op 18 Maart oorlede. Dr Hannes is op 19 Januarie 1975 georden, en het gemeentes Kempton Park-Oos (1975), Pretoria-Suid (1978), Roedtan (1985), en Bethal (1990) bedien. Hy het in 2015 emeritaat aanvaar, en daarna steeds gedien in Bethal en Morgenzon (2015) en Morgenzon (2016). Mev Ibel Beukes, ’n afgetrede onderwyseres, het dr Hannes gehelp met die leerplanindelings van die Kerk se reeks kategesehandleidings.
(Ds Etienne Fourie is leraar in Gemeente Kempten)