Die Christelike Seemansorganisasie (CSO) is in 1944 gestig, in daardie stadium met die doel om voorsiening te maak vir die behoefte van Nederlandse soldate en seelui op pad na en terug van Indonesië. Vir baie jare het net die Nederlandse skepe aandag gekry, maar geleidelik het dit duidelik geword dat daar geweldige geleenthede is vir sendingwerk onder alle seemanne in die Kaapstadse hawe.
Met verloop van tyd is die werk uitgebrei na die hawens in Durban, Richardsbaai, Port Elizabeth en Saldanha. Hoewel die CSO ’n interkerklike organisasie is, het dit ook vir baie jare ’n noue verband met verskillende kerkverbande en het die bande deur die jare voortbestaan.
Die CSO se doel is om aan elke seeman ’n Bybel in sy eie moedertaal te gee. Dit bly egter nie net ’n Bybelverspreidingsprojek nie. Inteendeel; elke evangeliebedienaar is ’n ten volle opgeleide predikant. Die rede daarvoor is die feit dat die seemanne pastoraal versorg en begelei moet word.
Om van ’n teologie aan die seemanne te praat is eintlik maklik. Die seemanne is gewoonlik ongekunstelde mense. Die teologie waarmee hulle bedien moet word, is die eenvoudige teologie van Jesus Christus as Gekruisigde en Opgestane Here. Die meeste van hulle glo soos kinders. Dit wat hulle hoor, dra hulle oor aan geliefdes en gemeentes in hul tuislande.
Die beste voorbeeld hiervan is die Russiese kaptein wat graag ’n Bybel in sy moedertaal wou hê. Hy het reeds ’n Engelse Bybel. Die Engelse Bybel praat met sy kop. Die Russiese Bybel praat met sy hart, in sy moedertaal. Dit is sy teologie. ’n Hart-teologie.
Sy teologie het te doen met eksistensiële vraagstukke. Skeepsrowery, storms, gevare. Manne wat maande nie geliefdes gesien het nie, wat na hom opkyk. Manne wat baie ver van huis en haard moet leef en oorleef. Manne wat ingekerker hul eie emosies moet beleef. Manne wat binne vier staalwande hul bekommernisse en soms doodsmart met hul hart-teologie moet verwerk.
Dan is dit te verstane dat hierdie hart-teologie wat ’n baie sensitiewe karakter het, ook baie maklik versteur word. Dit word maklik gestroop tot op die been. Dit word maklik gereduseer tot kopkennis, waar dit eerder deur die are moes bruis en in sy hart geskryf moes staan. Daarom is die nood vir moedertaal-evangelie by hulle baie hoog.
Hy wil die Bybel hoor. Hy wil die Bybel voel praat in sy diepe binneste. Hy wil dit sy eie maak, dit deurleef en dan weer iewers by die huis gaan oorvertel. Hy wil homself verryk met die waarheid van die Bybel, eerder as om ideologies te dink. Dit gaan oor die geloofskennis – om daaroor na te dink en dit te verstaan.
Hy wil die belydenis van Petrus hoor. Hoë titels en hogere woorde maak vir hom geen sin nie. In die moontlike versteurdheid, klou hy gewoon aan die evangelie as waarheid vas. Jesus Christus is die Here. Hy wil in sy fisiese en emosionele weerloosheid hoor dat iewers tussen niks en nêrens Iemand sy hartklop hoor. Dit wat vir hom waardevol is, kan ook weerloos wees. Hy wil iewers in stilte, met sy hartsgoed, skuiling kan vind teen die wind en storms.
Hy wil die liefde hoor. Liefde is immers altyd hartsgoed. Die boodskap van Christus se liefde het sy hart getref. Maar dit het ook vir hom weerloosheid gebring. Hy loop ook die risiko van lyding. Hy leer egter dat liefde sy weerloosheid oorwin – nie omdat dit magtig is nie, maar omdat díe liefde kan verduur en vergewe. Vir die pad van geloof en sy hart-teologie het hy die geloof nodig dat liefde waardevol is, al is dit ook weerloos.
Hy wil vrede hoor – die vrede wat alle verstand te bowe gaan. ’n Versugting van ’n stukkie hemel, hiér, nóú, op aarde. Die rede waarvan sy Bybel in sy eie taal praat: vrede in die mense, ’n welbehae. Hy wil vrede hoor wat anders is as die vrede wat die wêreld bring. Die soort vrede wat Jesus aan die dissipels beskryf: Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Hy wil vrede hê wat innerlike rustigheid gee – ’n vertroue wat God op sy hart lê.
Hy wil God uit sy hart uit beleef. Hier en nou. Of dit ’n ontmoeting met God is in die woorde tussen die blaaie wat hy lees, of in die hemelgewelf, dit maak nie saak nie. Of dit die grootsheid van walvisse is wat êrens op die oop see lui-lui verby jou skip swem, of ’n skool van ’n duisend dolfyne wat grasieus en vriendelik langs die boeg verbykom, dit tref hom. Die aarde wemel van die Hemel. Hy wil die grootsheid van God beleef wanneer die son soggens op die horison verskyn, tot dit vanaand weer daaragter verdwyn. Hy wil God beleef wanneer die plat water wat seepglad die horison span, skielik deur ’n briesende wind aangejaag word. Wanneer golwe wat groter is as jou skip die skip ongenaakbaar peper, dán wil hy God beleef.
Hy wil ’n diep bewustheid hê van wie God is. Nie oor wie hy is nie, maar oor wie God is. Sodat hy daagliks in afwagting kan wees op God wat hier en nou in sy eksistensie bestaan en ingryp. Eers dan kry hy ’n diep bewustheid van wie hy self is. Dan kan hy bewus word van die ander rondom hom. Dan kan hy langs die ander een loop of selfs in die ander een se skoene loop.
Hart-teologie. Soos Jesus sy dissipels geleer het toe Hy hul voete gewas het. Hy wat die dienende Kneg geword het wat elkeen aangeraak het – selfs diegene wat Hom binnekort sou verloën en verraai.
Maar dit is ook wat die kerk van Jesus Christus moet beleef en verkondig. In die eksistensiële vraagstukke waarin ons staan en wat ons beleef, juis daar moet die kerk die hart-teologie weer by die wêreld tuisbring. Daar waar alles versteur word en tot die been gestroop word, moet dit weer in elkeen se hart bruis: Die Here lééf. Ons moet weer en helder die boodskap van God se vrede, liefde en teenwoordigheid, asook ’n diepe bewustheid van God se almag, beleef en uitleef.
Gaan lees gerus meer oor die seemanne en hul daaglikse lewe by www.cso.co.za.
(Dr Wimpie van Schoor is leraar in Primrose-Oos en voorsitter van die CSO)