Sien ons nog die mooi herfskleure raak? Daardie goue akkerblare en die witter lug waarvan Van Wyk Louw praat? Of is daar te veel skeller kleure om ons wat ons aandag vasklem? Mag ons Anne Frank se woorde onthou: “Ek dink nie aan die swaarkry nie, maar aan al die skoonheid wat nog oor is.”
dis ’n lieflike herfsdag in april
die lug babablou
ligblou soos die vroegmôresee
maar die berigte kom deur
van ’n rooftog by dawie se kompleks
skote gevuur
Goddank almal ongedeerd
die blare lê verstrooi oor die gras
koos kombuis sê kyk na die patrone
fyn lyne in die rooi en bruin
voor dit krakend verbrokkel
die lug se blou verdiep só mooi!
maar willem laat weet
van covid in sy gesin
die prisma kantel
die skerper kleure spat uiteen
skelrooi blý
kantel en kantel
terug na skokwit
balans en vrede
in die nuus
ma en gestremde seun
afgemaai
ontvoerde onderwyseres in graf gevind
pasgebore baba in vullissak
die esdoring begin verkleur
goud en rooi
onder die asuurblou lug
terwyl brande woed op tafelberg
en stakers bande brand
en klippe strooi
die prisma kantel weer en weer
vlamrooi bloedrooi
suiwerwit
onthou gisela se stilte:
windklokkies van glas
ag Heer
beskerm my mense
alle mense
hou u hand oor almal maar veral
oor my dogters my geliefde
my allerkosbare kleinkindjieklein
wéés met u Gees oral om ons
in die brokkelende blare
die seebloulug
die reën op die sinkdak
die donderende storm
waarvoor kindjieklein so grootoog staan
genade Vader
daar is niks meer
net die brokkelende blare
en glasklingels in die wind
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)
