Johannes, en die gemeente tot wie hy hom rig, het hulself aan die einde van die eerste eeu na Christus as ’n minderheidsgroep in ’n vyandige gemeenskap bevind. Te midde van konflik met die Joodse gemeenskap en die Romeinse owerhede, het hulle as ’n groep met ’n eie identiteit gefunksioneer.

Hul identiteit is bepaal deur hul geloof in God (wat Liefde is) en hul verbondenheid aan Jesus Christus. Die Johannese gemeenskap moes vanuit ’n posisie van relatiewe magteloosheid hulself in die gemeenskap handhaaf en hul Christelike geloof uitleef. Dikwels het hulle harde, fisieke geweld ervaar. Hulle was nie in staat om hulself teenoor hul opponente te verweer nie. Hulle moes as Christene in ’n gewelddadige en vyandige gemeenskap staande bly. Die enigste manier om dit te doen, was om die liefde van God konkreet in die gemeenskap uit te leef.

God se besluit om in liefde met die wêreld te handel, berus op sy keuse wat Hy in Goddelike vryheid neem. Niemand dwing God of oortuig God om die mens in liefde ter wille te wees nie. Dit staan in skrille kontras met die antieke godsbeskouing, waar gode dikwels vyandig teenoor mense was en (volgens die opvatting van destyds) die lewe vir mense moeilik maak. Mense moes deur offerhandelinge en op ander maniere die gode oortuig om net ’n bietjie genade te betoon. Hierteenoor verkondig die evangelie van Johannes aan ons dat God die wêreld onvoorwaardelik liefhet en dat God Hom van die eerste dag af oor mense ontferm. God wil nie in die eerste plek mense veroordeel en straf nie, Hy wil veel eerder aan hulle ewige (ware) lewe skenk.

Liefde is die wesenskenmerk van God. Die Nederlandse teoloog Herman Ridderbos merk op dat die liefde die belangrikste onderliggende motief vir die sending van die Seun in Johannes se denke is (Joh 3: 16; 15: 13; 17: 26). Die liefde van die Seun word volgens hom ook duidelik in Johannes 13 as Jesus die dissipels se voete was – liefde wat Hy tot aan die einde met sy dood konkreet sou uitleef. Jesus beskou die liefde as ’n gebod (Joh 13: 34-35), en sy volgelinge word herkenbaar aan die manier hoe hulle God se liefde uitleef.

Die prediking oor Johannes 3: 16 kan nie beperk word tot ’n piëtistiese verlange na die ewige lewe nie; of in Marxistiese taalgebruik, a pie in the sky when you die nie. Ons leef in Suid-Afrika in ’n getraumatiseerde samelewing waarin moord, geweld en verlies elke mens raak. Dit konfronteer die Hervormde Kerk met die vraag na ons eie kerkwees, na die manier hoe ons in die wêreld teenwoordig is.

Mense moet tot geloof en bekering geroep word, nie net Sondag tydens die erediens nie, maar ook in die wêreld. Die evangelie is ook bedoel vir buitestanders, dié op die rand van die gemeenskap wat dikwels vir ons onaanvaarbaar is (vergelyk Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou in hoofstuk 4). Dit is opmerklik hoe dikwels Johannes familiale terminologie gebruik wanneer hy oor die gelowiges praat. Die gelowiges is ’n gesin, God se familie waar almal welkom is. Die gemeente moet uitgaan na die wêreld (Matt 28), maar ook mense innooi om deel te wees van God se familie. So word die kerk (ook die Hervormde Kerk) ’n deelnemer aan God se sending, aan die missio Dei.

Dit gaan in Johannes 3 nie om ’n individualistiese of emosionele gevoel van bekering of wedergeboorte nie, maar om ’n doelbewuste en intensionele deelname (partisipasie) aan en identifikasie met die koninkryk van God, en per implikasie God se handelinge met die wêreld (missio Dei). Daartoe moet elkeen wat wil luister opgeroep word, nie uit ’n posisie van mag nie, maar vanuit die oortuiging dat die liefde van God mense sal dring om te bely: Waarlik, God is hier by julle.

(Prof Wim Dreyer is medeprofessor aan UP se Departement Historiese en Sistematiese Teologie)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap