Die wegraping was nog altyd ’n belangrike en blywende tema in die Amerikaanse kultuur. Die populêre Left Behind-fiksiereeks getuig hiervan asook die aanlyn webtuiste Rapture Ready. In September 2025 het wegrapingkoors wêreldwyd en ook deur Suid-Afrika versprei. Te danke aan sosiale media was elkeen wat video’s gedeel het in ’n sin van die woord ’n hedendaagse eindtydprofeet.

In hierdie eerste van twee bydraes kyk ons na die herkoms van hierdie leer. In die tweede deel sal daar in meer diepte na die sleutelwegrapingteks, 1 Tessalonisense 4: 13-18, gekyk word.

Dit is belangrik om te let dat ek nie beoog om die karakter of geloof van enige iemand aan te val nie. Ek wil wel ’n kritiese (en hopelik verantwoordelike) bespreking voer rakende hierdie leer van die eindtyd.

Wegraping (rapture): Niks nuuts nie

Dit is nie die eerste, of laaste, keer dat September voorgehou word as wegrapingsmaand nie. Whisenant, ’n NASA ingenieur, publiseer in 1988 ’n boek wat 88 redes voorsien waarom die wegraping op 11, 12, of 13 September 1988 sou plaasvind. Onder andere bied hy ’n interpretasie van Matteus 24 aan.

In Matteus vertel Jesus die dissipels van die tekens wat sal aantoon dat die koms van die Seun van die Mens naby is. Die dissipels vra vir Jesus wanneer hierdie dinge sal plaasvind, en Jesus antwoord hulle dat hulle by die vyeboom moet leer. Sodra hierdie boom se takke sag word en nuwe blare uitstoot, dan weet hulle die somer is naby (sien Matt 24: 32-34). In die Ou Testament word Israel soms as ’n vyeboom verbeeld (Hos 9: 10; Jer 8: 13). Gevolglik, wanneer die vyeboom (Israel) se takke sag word en nuwe blare uitstoot is dit wanneer Israel weer ’n lewende volk sal word.

In 1948 word Israel as onafhanklike staat verklaar en in die Bybelse tradisie word die jare van ’n generasie gegee as 40 jaar. So meen Whisenant dat al wat nodig is, is om 40 jaar verder te tel vanaf 1948 en jy het die jaar van die wegraping.

Vir baie is Hal Lindsey se boek The Late Great Planet Earth wat in 1970 uitgekom het meer bekend. Lindsey gebruik dieselfde argumente as Whisenant. Wat Lindsey egter anders doen, is om nie ’n presiese datum te gee nie, maar meen dat Jesus se terugkeer, en die wegraping, teen die einde van die 1980’s sal plaasvind. Wat Lindsey se boek so interessant maak, is dat dit teen die einde van die 1990’s, ongeag dat die voorspelling verkeerd was, ongeveer twintig miljoen eksemplare verkoop het.

Waar kom hierdie leer van die wegraping vandaan? Is dit iets wat versteek is in die Bybel wat deur allerhande berekening vasgestel en uitgewerk kan word? Behoort ons die Bybel te lees as ’n tipe goddelike legkaart?

Wegraping (rapture): Die oorsprong

Die oorsprong van die wegraping is in die 1800’s te vinde. Die Anglikaanse priester uit Ierland, John Nelson Darby (1800–1882), was die eerste wat hierdie interpretasie voorgehou het. Darby het ’n sogenaamde dispensasionele premillennial lees van die Bybel as die ware verstaan geneem. Kortom kom dié daarop neer dat die Bybel gesien word as ’n bloudruk wat die geskiedenis van die mensdom in verskillende dispensasie indeel.

Joachim van Fiore (1135-1202) het reeds iets soortgelyk voorgehou, maar Darby se indeling was meer ingewikkeld en populêr. Darby se despensasies het later neerslag gevind in die Schofield-studiebybel, saamgestel en gepubliseer deur Cyrus Scofield in 1909, en gestandaardiseer in 1917. So ’n studiebybel met kommentaar en kruisverwysings in voetnotas was nie algemeen in hierdie tyd nie. In hierdie Bybel word daar gemeen dat die wegraping van die ware kerk in 1 Tessalonisense 4: 17 die vyfde teken van die eindtyd is. Die rede dat die ware kerk hier weggeraap word, is sodat hulle nie die sewe jaar verdrukking wat volg hoef te verduur nie. Christus sal twee keer kom: die eerste keer voor die vestiging van ’n letterlike duisendjarige ryk (pre-millennial), en ’n volgende keer om die duisendjarige ryk op aarde te vestig.

Slot

In deel 2 sal ons na 1 Tessalonisense 4:13–17 kyk, maar vir nou kan ons die volgende sê: Voor die interpretasies van Darby en Scofield bekend gemaak is, was die wegraping ongekend in die Christen-geloof. Dit is eers sedert die einde van die 1800’s wat hierdie leer as Bybels voorgehou is.

Die wyse hoe die Bybel gelees word, is uiters problematies. ’n Dispensasionele premillennial lees, neem die tekste uit hul historiese konteks en lees die Bybel asof dit ’n goddelike legkaart is. Om sin te maak van sommige voorspellings is dit nodig om verse, of selfs versgedeeltes uit verskeie boeke (Ou en Nuwe Testament) te kombineer om ’n nuwe prent te vorm. Laastens kan ek noem dat die term rapture afgelei is uit die Latynse vertaling, rapiemur (ons sal opgeraap word), in 1 Tessalonisense 4:17. Soos deel 2 sal aandui, het die Griekse teks ’n ander betekenis as om opgeneem te word na die hemele en van die aarde weggeraap te word.

Duidelik is hierdie lees van die eindtyd (eskatologie) nie ’n verantwoordelike omgang met die Skrif nie. Om tekste oor die eindtyd nie in hul historiese konteks te lees nie, is nie die einde van die wêreld nie, maar dit kan mense laat dink dat die einde naby is en dit sal in hul tyd plaasvind. Hierdie is ’n saak wat aangespreek moet word en met verantwoordelike en verantwoordbare Skrifinterpretasie gepaard moet gaan.