Dit was op ’n redelike laat stadium in my teologiese opleiding dat ek en my medestudente met die naam, Gustavo Gutiérrez, kennis gemaak het – en toe net op ’n baie beperkte wyse. Die een rede hiervoor is dat ’n teologiese kurrikulum altyd volgeprop is: Elke belanghebbende het ’n redelike sterk geformuleerde opinie oor wat aan ’n teologiestudent geleer moet word, en dus is daar ’n poging om wat as die noodsaaklike beskou word, eerste aan teologiestudente oor te dra. Dit is natuurlik op sigself ’n vraag – een wat die kerk-fakulteit ellips meermale laat rek en strek het. Laasgenoemde sluit aan by die tweede moontlike rede hoekom teologiestudente tydens my opleiding bietjie later van Gutiérrez kennis geneem het: Gedurende dié tyd was daar ’n versigtigheid (dis diplomaties gestel) vir aspekte van wat as bevrydingsteologie bekendgestaan het. Die agtergrond van hierdie versigtigheid is kompleks en hierdie artikel is waarskynlik nie lank genoeg om daardie kompleksiteit uiteen te sit nie.

Ek meen die versigtigheid vir ’n bepaalde teologiese invalshoek kan dikwels terug herlei word na hoe iemand die verstaan van kennis (epistemologie) en die verstaanproses self, (hermeneutiek), definieer. Kortom, kom suspisie oor kennis dikwels van hoe ons oor kennis self nadink, en die riglyne en maatstawwe wat ons gebruik om te bepaal watter kennis ons met vertroue, en wat watter kennis ons met agterdog, bejeën. In ons huidige gepolariseerde wêreld waar ons almal sekondêre kennis in groot maat verteer (nuusplatforms, opiniestukke, blogs, sosiale media en WhatsApp-kettinggroepe), is die wyse waarop ons kennis self verstaan, nogal belangrik. Een van die kernaspekte van bevrydingsteologie, en by name die werk van Gustavo Gutiérrez, was juis om die manier oor hoe ons oor teologiese kennis na te dink, uit te daag. Binne hierdie verwysingsraamwerk het teologie ’n sterk kontekstuele karakter, dit wil sê daar is ’n sterk beklemtoning dat jou teologie nie afsonderlik van jou konteks gevorm word nie, en dat jou ervaring in hierdie opsig ’n medebron van teologiebeofening word. Hierdie is onder andere in sy skrywes oor etiek deur die Duitse teoloog, Dietrich Bonhoeffer, ook beklemtoon: As mense staan ons nie buite geskiedenis nie en dus moet ons oor ons roeping (teologie, geloofspreke) nadink binne baie spesifieke, gegronde, werklike gebeure.

Bevrydingsteologie se oorsprong is dus te vinde in kontekste wat op ’n kanonagtige wyse as bronne vir teologie, vir ’n lang tydperk oor die hoof gesien is – kontekste waarin sosio-ekonomiese uitdagings, politieke misdrywe of wanbestuur en vermengings van kultuur en godsdiens spesifieke marginaliserings tot gevolg gehad het. Marginalisering in hierdie sin verwys na die manier waarop bepaalde persone of groepe tot randfigure of onbeduidend, geminimaliseer word. In hierdie konteks, was (is?) die vraag van daardie randfigure: “Hoe weet ek dat God vir my lief is?” Dit is só ’n eg, amper kinderlike, versugting aan God – een waarmee talle gelowiges ten tye van hulle diepste nood al geworstel het. Dit is binne hierdie konteks dat die slagspreuk, God se voorkeuropsie vir die armes, ontstaan het. Gutiérrez se teologie het veral sterk by die intensie van hierdie slagspreuk aangesluit.

Gutiérrez is op 8 Junie 1928 in Lima, Peru, gebore. As jongmens het hy aan osteomiëlitis (’n ernstige beenmurginfeksie) gely, en het hy tussen die ouderdom van 12 en 18 jaar meestal van ’n rolstoel gebruik gemaak. Hy wou aanvanklik homself as psigiater bekwaam en het aanvanklik in dié rigting studeer. Tydens hierdie studietydperk het hy egter besef hy wil eerder ’n priester word en het gevolglik aan die teologiese fakulteite in Leuven (België) en Lyon (Frankryk) gestudeer.

Daar is natuurlik ’n bepaalde ironie dat iemand wat in Europa studeer het uiteindelik wesenlik bygedra het tot die ontstaan van bevrydingsteologie wat veral in die Suidelike Halfrond ontwikkel het. Waarskynlik was dit eerder ’n verdere katalisator vir iemand soos Gutiérrez se werk. Sy eerste opspraakwekkende boek, A theology of liberation, is in 1971 in Spaans gepubliseer en later in die middel 1970’s en nog later in vele ander, nuwer uitgawes, in Engels gepubliseer. Hierdie was nie noodwendig ’n nuwe teologie nie, maar eerder ’n nuwe manier om teologie te beoefen: Dit het die leser aangemoedig om die Bybel te ontdek en te interpreteer vanuit die verwysingsraamwerk van jou konkrete omstandighede. Dit was veral die metode van die boek, en die metode van bevrydingsteologie wat die wêreld destyds aan die gons gehad het.

Gutiérrez skryf op ’n keer (my vrye vertaling): Die teologie van bevryding, soos enige ander teologie, is oor God. God, en God se liefde, is uiteindelik die enigste tema. Die dieper vraag onderliggend hieraan, is egter ons uitdaging om oor God se liefde aan te hou praat, te midde van omstandighede van swaarkry en lyding. Trouens, dit is een die Christelike geloof se oudste en uitdagende vrae. In ’n soeke na ’n antwoord op hierdie vraag, het Gutiérrez se teologie gefokus op dit wat ons in die Bybel lees van God se liefde vir die lewe en die oorkoepelende oortuiging dat lewe-in-volheid vir die ganse skepping ’n opregte bedoeling van God is. Gutiérrez het binne die vraagstuk oor hoe ons weet dat God vir ons lief is te midde van swaarkry, byvoorbeeld gefokus op die Eksodus-verhaal en hoe dit spreek van God se medelye en uiteindelike verlossing. Dit is ’n sterk motief binne sy teologie en binne die bevrydingsteologie, naamlik God se solidariteit met ons. Dit is ’n motief waarby die Duitse teoloog Jürgen Moltmann byvoorbeeld sterk aanklank gevind het tydens sy gevangenskap tydens die Tweede Wêreldoorlog en wat aanleiding gegee het tot sy werk in Crucified God.

Die jaarlikse verslag deur die Wêreldbank het in 2024 aangetoon dat bykans 700 miljoen mense wêreldwyd onder uiterste armoede gebuk gaan. Ons lees die afgelope maand in die  plaaslike media dat ’n pa en seun deur mense se vullis vir kos gesoek het en dat seun koeldrank uit ’n plastiekbottel in een van daardie vullissakke gedrink het en minute later oorlede is. In die woorde van Gutiérrez: “Hoe dra ons aan húlle oor dat God húlle lief het?” Terwyl ek dit skryf, gee my maag ’n draai, want ek het nie die antwoord hierop nie. Daardie tipe lyding en verdriet is soms te groot om gade te slaan en ek moet myself dwing om nie weg te kyk nie. Wat ek wel weet, is dat armoede een van die mees komplekse fenomene van ons tyd is. Ek weet dat van ons dominees in die Hervormde Kerk op ’n daaglikse basis hierdie uitdaging in hul gemeenskappe moet trotseer, en ek weet dat sommige van hulle só aangespreek word daardeur, dat hulle verder daaroor wil studeer. Ek weet van talle gemeenskappe wat saamstaan om te probeer om ’n klein duik in die armoede- en verhongeringstatistiek in hierdie land, te maak.

In wese, is hulle almal besig om konkreet gehoor te gee aan die kernaspek van bevrydingsteologie: Hulle hóór, hulle sién, hulle dóén en besef dat konteks, geloof en teologie onlosmaaklik verbind is. In hierdie opsig, is hulle reeds besig om iemand soos Gustavo Gutiérrez se nalatenskap uit te leef. Daar is egter nog baie om in hierdie verband te verrig.

(Prof Tanya van Wyk is hoof van Departement Sistematiese en Historiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria en predikant by die Nederlandssprekende Gemeente in Johannesburg)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap