Die 74ste Algemene Kerkvergadering (AKV) van die Hervormde Kerk neem van 6 tot 10 Oktober in Midstream (Pretoria) sitting. Soos gebruiklik, sal daar by dié AKV ’n verslag dien oor die werksaamhede van die Kommissie van die AKV. Die verslag gee ’n blik op die uitdagings waarmee die Hervormde Kerk tans worstel. In hierdie bydrae word enkele van die belangrike sake bespreek.
Tydens die 73ste AKV (2022) is die volgende predikante tot die Kommissie van die AKV verkies: Prof WA Dreyer (voorsitter), ds JF van der Merwe (skriba), ds L Geel (sr) (visevoorsitter), ds JM Bevolo-Manders (viseskriba), dr SM de Beer en prof RA Denton. Die volgende ouderlinge is tot die Kommissie van die AKV verkies: Oudle SE Beeslaar, D Esterhuizen, JD Fourie, SL Kotzé, AJP le Roux, FJ Paynter, AD Pieterse, JG van Heerden en MP van Niekerk.
Tydens ’n bosberaad van die Kommissie van die AKV aan die begin van 2023, is besluit om die Kommissie se werksaamhede in drie klusters te verdeel volgens die prioriteite wat die Kommissie geïdentifiseer het. Die drie sake waarop die Kommissie in die afgelope termyn gefokus het, was (1) gemeentelike bediening, (2) teologiese opleiding en (3) finansies en administrasie.
Die bosberaad het as uitgangspunt gestel: Hoe kan ons help? Daarmee is gepoog om die Kommissie, asook die Sinodale Dienssentrum, se fokus te verskuif na dienslewering. Daar is doelbewus aandag gegee om die sinodale aktiwiteite in terme van dienslewering te struktureer. Die bedoeling was om deur middel van toepaslike intervensies dit vir predikante en gemeentes makliker te maak om in ’n komplekse finansiële en regulatoriese omgewing volhoubaar kerk te wees. Dit is onder andere moontlik gemaak deur die integrasie van finansiële en administratiewe stelsels deur middel van die intra- en ekstranet.
Vanweë die kompleksiteit, sensitiwiteit en vertroulikheid van baie gesprekke, is die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB) en die Welstandsprogram tot stand gebring om die Moderamen se werksaamhede te ondersteun. Dit vind plaas deur middel van besoeke aan predikante en gemeentes, vertroulike gesprekke en ondersteunende en multi-professionele dienste wat deur die SGB en die Welstandsprogram gelewer word. Die Hervormde Kerk is uniek in Suid-Afrika, in terme van die omvang, professionaliteit en kwaliteit van die fasilitering, begeleiding en dienste wat deur die Moderamen en die SGB gelewer word.
Daar is heelwat aandag gegee aan die finansiële welstand van gemeentes asook die Kerk in sinodale verband. Die opdrag om te kyk na alternatiewe befondsingsmodelle (byvoorbeeld sweeping), insameling van sinodale offergawes en aanwending van bates het deurlopend aandag gekry, en sal aan die 74ste AKV voorgelê word. Dit is ’n bron van groot dankbaarheid dat gemeentes van die Hervormde Kerk, ten spyte van die Covid-pandemie en finansiële druk waaronder talle lidmate verkeer, asook die daling in lidmaatgetalle, daarin kon slaag om finansieel te oorleef. Ons is diep dankbaar vir die offerbereidheid van lidmate, die rentmeesterskap van kerkrade, en veral dat God mildelik voorsien in die behoeftes van die Kerk, al weet ons dat daar gemeentes en predikante is wat vanweë spesifieke omstandighede swaarkry. Dit maak ons verantwoordelikheid om mekaar se laste te dra, soveel groter.
Sedert 1995, reeds 30 jaar gelede, het die Hervormde Kerk begin met ’n proses van introspeksie oor ons verstaan van kerkwees. Dit het konkreet gestalte gevind in die aanvaarding van die nuwe Kerkorde in 1997, waar (onder andere) Artikel III weggelaat is. Dit het ook gestalte gevind in ’n nuwe sendingbeleid, ekumeniese skakeling, liturgiese vernuwing, ’n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling, Diensboek, Liedboek, Liturgiese Formuliere en VONKK. Die AKV het die afgelope 20 jaar oor kerkwees besin en verskeie belangrike besluite geneem. Dit het reeds ’n beduidende invloed op die karakter en roepingsbesef van die Hervormde Kerk uitgeoefen. Die Kommissie het die afgelope termyn deurlopend, in terme van die besluite van die AKV, gemeentes begelei om kerk van die Here te wees en om in die plaaslike gemeenskappe diensbaar te wees.
Een van die uitdagings waarmee die Kommissie van die AKV, die Kuratorium en die Dosentevergadering die afgelope 30 jaar geworstel het, is teologiese opleiding. Die Kuratorium het die afgelope drie jaar met verskillende rolspelers indringende gesprekke gehad, en ’n voorstel geformuleer wat by die 74ste AKV sal dien. Dit maak voorsiening vir akademiese opleiding aan ’n universiteit asook kerklike opleiding aan die Hervormde Teologiese Kollege.
Die Hervormde Kerk was bevoorreg om die afgelope tyd aan verskeie herdenkings van historiese gebeure deel te neem:
- Die 200-jarige herdenking van die eerste AKV (1824-2024).
- Die 100-jarige herdenking van die Kerk se sending, saam met die Maranatha Reformed Church of Christ (1924-2024).
- Die ingebruikneming van die eerste Afrikaanse Liedboek (1944-2024).
- Die 1 700-jarige herdenking van die Belydenis van Nicea (325-2025).
- Die 100-jarige herdenking van Afrikaans as amptelike taal (1925-2025), en ook die 90-jarige herdenking van die Bybel in Afrikaans (1933-2023).
In dié tyd het verskeie gemeentes hul eeufeeste gevier. Die Hervormde Kerk is reeds vir eeue in Suidelike Afrika gevestig, geroep om die evangelie van Jesus Christus aan die mense van hierdie kontinent te verkondig.
Ons is dankbaar teenoor die Here, vir sy sorg en seën oor eeue heen. Ons leef met die hoop en die verwagting dat die Here ons ook in die toekoms sal gebruik om te verkondig: Die koninkryk van God is hier… Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1: 15).
(Prof Wim Dreyer is voorsitter van die Kommissie van die AKV en leraar in Gemeente Outeniqua)