Ons het Sondag erediens gehou, in ons kérkgebou erediens gehou.

Daar was net 18 van ons.

Ons was diep geroer.

Dit was ’n moeilike besluit om tot daar te kom. Toe die grendeltyd aanvanklik aangekondig is, was dit maklik om te sê die President het so besluit, en in álmal se belang só besluit. Ons het soos goeie landsburgers berus en soos ywerige bedienaars van die evangelie naarstig op soek gegaan na ander maniere om met die verkondiging by die gemeente uit te kom.

Ek dink ons het dit ook reggekry, in alle eenvoud, met WhatsApp-stemnotas en VONKK-saamsingklankopnames. Só goed het ons daarin kon slaag, dat ons preke Karoo, Kanada en Colombië toe is, hier van klein Kampersrus af. Dit was opwindend! Ons sal graag daarmee volhou.

Maar dat God ook met WhatsApp by ons kon tuiskom terwyl ons nog onder die komberse, in nagkabaai en met oggendkoffie kon erediens hou, het die verlange na ’n erediens nie gedemp nie.

Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige!
Ek versmag van verlange na die tempel van die Here;
met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God.

Slaapkamers is ook God se wonings. Dis nie asof God gemakliker inpas in die 100 of wat vierkante meter hier teen Mariepskop nie. Jy hoef nie hier onder die rooi sinkdak te kom sweet sodat God verplig is om jou moeite met ’n inloer te beloon nie. Maar daar is iets, Iemand in gemeente en erediens… In die reuk van stowwerige tapyte en ou hout, in die geraas van waaiers wat windmakerig volspoed tol en skynheilig voorgee hulle kan die Laeveld afkoel, en selfs in die irriterende gekrap van die dominee se lapelmikrofoon teen die toga, is daar Iemand, Iemand daar wat jou inwag, Iemand wat jy daar ontmoet soos selde elders.

En tog, toe die President sê dis reg, Gaan kerk toe en bid vir ons, vir my ook, was ons skielik onseker: Is dit veilig? Is dit bedagsaam? Strook dit met die liefde? Was dit buitendien regtig dringend, noudat ons so flink geleer het hoe om ingewikkelde sagteware te bemeester en kerk op webplatforms te bou?   

Ons het besluit om konsekwent te wees: Toe die President ons afgeraai het, het ons gehoor gegee. Toe die President vra ons moet saamkom, het ons ons voorgeneem ons gaan dit doen.

Maar ons het besef dis gevaarlik, nie net omdat ons kan siek word nie, maar ook omdat die naam van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in ons gemeenskap op die spel is. As net een persoon hiervan siek word…  Die ander twee susterkerke het besluit om hulle nog ’n ruk van erediens te weerhou. Drie ander plaaslike kerke, het ons later eers gehoor, sou ook op Sondag terugkeer kerk toe.

Gerusstellend was dat die siekte nog nie by ons aangekom het nie, nêrens in ons gemeenskap nie. Nietemin is aan elke vereiste voldoen. Siekes en bejaardes en enigeen wat onrustig gevoel het, is verseker dat ons elke besluit om nie te kom nie, hoog op prys stel. Die kerk is ontsmet, en almal wat sou kom, ook. Koors is gemeet, maskers is gedra, maar net tot binne-in die kerkgebou, want daar was baie plek: Ons het banke teen mekaar gestoot om afstand te hou. Gesinne wat saam afgesluit het, het saam gesit, klein groepies ver uitmekaar.

Ons het nie gesing nie, net geneurie, nooit opgestaan nie, selfs gesit en bid. Iemand het Psalm 84 as toetredelied voorgelees, en iemand anders Psalm 96 as lof. Ons het saam met Dawid se Psalm 51 skuld bely en met grepe uit Atanasius se belydenis, die raaisel van die Drie-Enige God bely al verstaan ons daar maar min van. Ons het afskeid geneem van twee geliefdes wat sedert ons laas saam was, gesterf het, albei moeders van gemeentelede. Thea was siek, tannie Rienie is in haar huis wreed vermoor. Maar die trane het met die gebeier van die kerkklok en die kerkraad se instap al begin, en nie voor die laaste amen opgedroog nie.

Ons het die Drie-Enige God aanbid. Dit was Drie-Eenheidsondag.

Na die laaste seën het ’n lidmaat spontaan opgestaan en gevra om te mag praat. Sy sakebedryf is oornag tot niet: Hy was van internasionale toerisme afhanklik. Hy pluk nou tamaties. Hy weet, het hy afgesluit, die Here sal ons weer seën. Intussen is hy gebroke. Hy kry seer. Hy huil. Ons is swaar gewond, maar onoorwonne, sê hy. Loof die Here!

Diakens wat reeds by die deure was, het uitgeloop om te gaan asem skep. Vroue is die moederskamer in, en ek is eers gou konsistorie toe, vir my masker, sien.  En toe, is ek bevrees, het ons oortree: Ons is terug die kerk in, om hom te gaan vashou. Want ons is, almal van ons, stukkend genoeg dat om net te bly lê, al lekker lyk.

’n Opname van die lied en preek is vroegdag aan almal gestuur, of hulle nou by die kerk was of nie. Daarmee sal ons voorlopig aanhou. Maar ek is bly ons het deurgedruk. God doen goed in eredienste wat net in eredienste gebeur.

Hoe lief het ek U, en u woning, Heer.

 

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap