God seën sy kinders. Hy het dit belowe en ek glo dit onvoorwaardelik. Maar soms sien ek nie sy seën raak nie, en soms lyk die dinge wat met my gebeur eerder soos beproewing of straf en nie soos seën nie. Daarom het ek geleer om elke oggend te bid: Here, help my om vandag raak te sien hoe U my seën.

Die koronavirus het ons almal se lewens drasties kom verander. Almal het planne gehad vir 2020, maar skielik was ons in ons huise ingeperk en van ons vryheid ontneem. Duisende het hul werk verloor en ander se salaris is gesny. Mense is gedwing om by die huis te bly, en onsekerheid oor die toekoms het ’n lêplek in die meeste se harte kom kry. Hoe gaan die toekoms, die sogenaamde “nuwe normaal” waarvan almal praat, lyk? Waar is God in hierdie krisis? Is Hy steeds besig om ons te seën?

Sowat twee weke nadat die grendeltyd ingestel is, het ek ’n opname gedoen om te bepaal wat die algemene gevoelens is wat mense gedurende die inperking ervaar. Die respondente was hoofsaaklik lidmate van die drie Afrikaanse susterkerke en die resultate het nie veel verskil van ander soortgelyke opnames nie. Die grootste kwellinge was die onsekerheid wat die pandemie gebring het, en die feit dat mense finansieel kwesbaar voel en gefrustreerd en angstig is.

Kort na die eerste opname het ons dit opgevolg met ’n vraelys waarin ons gevra het waaruit jy krag put gedurende die krisistyd. Watter dinge help jou oorleef te midde van die onsekerheid? Die top-vier-antwoorde was: God; vriende en familie; my eie innerlike krag (resilience); en die ondersteuning van my kerklike of geloofsgemeenskap. Dit was verblydend om te sien watter prominente rol God en die geloofsgemeenskap tydens die krisis speel.

Ongeveer drie maande na die begin van die grendeltyd het ons vir mense gevra: Deel met ons jul positiewe ervarings tydens die inperking. Hoe het jy God se seën in hierdie tyd beleef? Die reaksie was oorweldigend. Daar was negatiewe ervarings, maar almal wat gereageer het, kon talle voorbeelde noem van God se seën.

Grendeltyd is ’n tyd vir besinning en herwaardering. Mense moes opnuut nadink oor watter dinge in die lewe regtig belangrik is. In die geroesemoes van ’n gejaagde lewe is daar nie altyd genoeg tyd om te reflekteer nie. Kosbare ervarings gaan verlore omdat ons te besig is met allerlei onbelangrike dinge. Mense het weer die vreugde van ’n sonsondergang beleef, gesien hoe die herfsblare val en die winter stelselmatig ’n greep op die natuur kry. Daar was die lekkerte van ’n koppie koffie in die tuin saam met ’n lewensmaat of familielid, saam kosmaak en eksperimenteer met nuwe resepte, die eenvoud van spit in die tuin, om saam ’n vertrek in die huis uit te verf.

Introspeksie het veral verhoudinge na die voorgrond gebring. Hoe lyk my verhouding met God? Met my lewensmaat, my kinders en ander wat vir my belangrik is? Baie getuig van ’n geestelike verdieping. Nog een sê: Ek het in hierdie tyd weer myself gevind. Diepe selfondersoek het gelei tot nuwe insigte. In ons soeke na en praat met God het Hy Hom opnuut openbaar as die troue Versorger.

Ons het opnuut onder die indruk van ons eie weerloosheid en nietigheid gekom, en daarmee saam was daar die erkenning hoe afhanklik ons van God is. Ons het gedink ons is in beheer van ons eie lewens en die wêreld waarin ons leef. Ons maak staat op geld, kennis, wetenskap, posisie en mag om ons lewens gemaklik te maak, maar Covid-19 het ons in ’n oogwink tot stilstand geruk en vele van ons gewaande sekerhede onder ons uitgeruk. Dit wat ons as vanselfsprekend aanvaar het, was skielik nie meer sulke vaste sekerhede nie.

Ons het geleer dat ons met baie minder kan klaarkom as waaraan ons die afgelope jare gewoond geraak het. Ons kom goed klaar sonder vakansie, fliek, uiteet, huiswerkers en ure in die verkeer. Die (on)belangrikheid van sport op TV is in perspektief geplaas. Ons raak opnuut daarvan bewus dat geluk nie in die eerste plek in materiële dinge, in dit wat ons het, of ontvang, te vind is nie, maar juis in die eenvoudige dinge en in die voorreg om te kan gee. Mense het opnuut die bevrediging ervaar om vir ander iets te beteken, al was dit net deur ’n bemoedigende woord, ’n luisterende oor of ’n skouer om op te huil.

Dankbaarheid is ’n sentrale tema in soveel mense se reaksie. Ons het te veel dinge as vanselfsprekend aanvaar. ’n Werk, gesondheid, kos en klere, ’n warm bed om in te slaap en die vermoë om rekeninge te betaal is ’n voorreg, ’n stuk genade uit die hand van God.

Tyd is in perspektief geplaas. Omdat mense nie werk nie, of van die huis af werk, is daar skielik meer tyd beskikbaar om met geliefdes deur te bring, stokperdjies te beoefen, te skryf en na musiek te luister, om nuwe vaardighede aan te leer en professionele kennis te verbreed.

Aan die een kant is die virus ’n groot gelykmaker. Siekte en dood onderskei nie op grond van voorkoms, geld of status nie. Aan die ander kant is die groot ongelykhede uitgelig tussen verskillende mense se vermoëns om by die uitdagende omstandighede aan te pas en te oorleef. Nood en ellende is op die voorgrond gedruk, maar dis wonderlik om te sien hoe mense saamwerk om die nood van ander te verlig. ’n Man wat betrokke is by ’n groot gemeenskapsprojek vertel hoe al die betrokke partye vir die eerste keer begin saamwerk het ongeag ras, kleur, politieke affiliasie en selfs geloofsoortuiging. Hy sluit af deur te sê: Hierdie samewerking het my vertroue in die mensdom ’n hupstoot gegee en my sommer nuwe hoop gegee vir die toekoms van ons land.

Grendeltyd was ’n tyd van verhoogde kreatiwiteit. Ons is gedwing om nuut te dink oor die manier waarop ons werk en nuwe oplossings te vind. Die rol van tegnologie is uitgelig en daarmee saam die noodsaaklikheid van basiese rekenaarvaardigheid.

Baie mense is finansieel hard getref deur die krisis as gevolg van veranderde werksomstandighede. Ander het geld gespaar. Hul maandelikse reiskoste het dramaties afgeneem en daar is minder geld uitgegee op ontspanning. Die geld wat gespaar is, is gebruik om gate toe te stop, of items aan te koop wat hulle vroeër nie kon bekostig nie. Maar baie getuig dat die geld wat hulle gespaar het dit moontlik gemaak het om ander in nood te help.

Iemand sê tereg: Soos wat ons maskers opgesit het, het daar ander maskers afgeval. Die krisis het mense se ware kleure na vore gebring. Mense van wie jy dit nooit verwag het nie, het uit hul pad gegaan om ander te help, maar daar was ook diegene wie se selfsug en selfgerigtheid skerp in die kollig geplaas is.

Die humor tydens Covid-19 is kosbaar. Ons is geseën met wonderlike grappies wat die las sommer ligter gemaak het op donker dae.

Ten slotte: God is getrou. Hy hou nooit op om ons te oorlaai met sy seëninge nie, al is dit soms op vreemde en onverwagte maniere. Maar Hy het ons ook duidelik voor die uitdaging geplaas om deur ons liefde en omgee vir ander ’n seën te wees. Daarom behoort ons elke môre te bid: Here, help my vandag om u seën in my lewe raak te sien. En ook: Help my vandag om, in navolging van Jesus, vir ander tot seën te wees.

(Ds Pieter Oberholzer is ’n emeritus Weermagkapelaan)

Die Hervormer – Augustus 2020
Share via
Copy link
Powered by Social Snap