Die NHKA se teologiese opleiding is al vir bykans 107 jaar aan die Universiteit van Pretoria (UP) gesetel, en watter ryke geskiedenis lê daar nie in hierdie lang verbintenis opgesluit nie! Van meet af is daar hoë standaarde aan teologiese opleiding gestel – ’n trotse ideaal wat nougeset nagestreef is en waarvan die gehalte van predikante en dosente kan getuig.
Die afgelope dekades het die tradisioneel Afrikaanse kerke se lidmaattalle geleidelik begin daal en het dit ook in die getal studente wat vir teologiese studies aan die Fakulteit Teologie by UP inskryf, begin reflekteer. Gepaardgaande het die aantal dosente aan die Fakulteit ook verminder na die vier voltydse dosente wat daar tans is: Proff Jaco Beyers (adjunkdekaan); Ananda Geyser-Fouché; Tanya van Wyk; en dr Annelie Botha. Dr Antionette Janse van Rensburg is ’n deeltydse posisie by wyse van ’n jaarkontrak aangebied. Hopelik sal dit gekontinueer en na ’n voltydse aanstelling uitgebrei word. Proff Yolanda Dreyer en Wim Dreyer het as emeriti nog bepaalde verpligtinge aan die Fakulteit wat die begeleiding van nagraadse studente betref. Buiten die UP-dosente is daar proff Pierre Jordaan en Rudy Denton aan NWU en dr Johan Nel by UV (elke dosent se spesialiteitsveld word op die middelblad by hul foto weergegee).
Vanjaar het daar ook ’n nuwe ontwikkeling plaasgevind met die aanstelling van vyf nuwe dosente aan die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) – dit is naas drr André Ungerer en Frikkie Labuschagne wat bestaande dosente by die HTK is. Die noukeurige leser mag onmiddellik vra: Vanwaar hierdie besluit en hoekom is dit nodig as daar hierbo oor verminderde studentegetalle berig word?
Die aanstelling van die vyf nuwe dosente by die HTK spruit uit vorige Algemene Kerkvergaderings waar besluit is om die HTK uit te bou. Besluit 46 van die 72ste AKV het die beginsel dat die Kollege uitgebou moet word, bevestig met die volgende bewoording: Die hoof van die HTK, in oorleg met die Kuratorium, benoem predikante van die NHKA met ’n nagraadse kwalifikasie in die teologie as dosente van die HTK op ’n kontraktuele basis om behulpsaam te wees met die doseerwerk by die HTK, en om medeverantwoordelik te wees vir die uitbou van Hervormde teologie.
Hierdie proses het ’n aanvang geneem met ’n advertensie wat aan die einde van 2023 in die kerklike media verskyn het met die sluitingsdatum vir aansoeke aan die einde van Januarie. Die Kuratorium het gedurende Februarie onderhoude met die voornemende kandidate gevoer en die volgende dosente is in deeltydse hoedanigheid met ingang van 1 April 2024 aangestel:
- Dr Marina Kok-Pretorius – Ou Testament en Verwante Literatuur
- Dr Sanrie de Beer – Nuwe Testament en Verwante Literatuur
- Dr Deon du Toit – Dogmatiek en Etiek
- Dr Christo Pretorius – Historiese Teologie
- Dr Hein Delport – Praktiese Teologie
Die toekomstige aanstelling van ’n dosent in die vakgebied Religie en Missiologie (voorheen Godsdiens- en Sendingwetenskap) word in die vooruitsig gestel, hoewel Missiologie tans tuiskom onder Praktiese Teologie wat reeds ’n definitiewe missionale koers ingeslaan het.
Die opdrag aan die HTK-dosente sien soos volg daar uit:
- Nuutaangestelde dosente vergewis hulself voortdurend van die groter akademiese diskoers in hul vakgebied. Daar kan in dié verband met dosente aan die verskillende teologiese fakulteite gekonsulteer word.
- Daar word van die onderskeie dosente verwag om jaarliks ’n artikel in ’n akademiese vaktydskrif te publiseer.
- Lidmaatskap van ’n vakwetenskaplike vereniging en die bywoning van kongresse is ’n vereiste.
- Dosente van die HTK moet werkgemeenskappe in hul betrokke vakgebiede skep om voortgesette navorsing en publikasies te help verseker.
- Werkgemeenskappe kan op ’n gereelde basis simposiums aanbied waarby soveel moontlik teoloë en belangstellendes uit die Kerk betrek word. Vanuit hierdie werkgemeenskappe word die Kerk ook van teologiese advies bedien.
- Daar word verwag dat die dosente, soos nodig, by Voortgesette Teologiese Toerusting (VTT) van predikante betrokke sal wees.
- Die aanbied van lesings by die HTK se TKB (Toerusting Kerklike Bediening) en DKB (Diploma Kerklike Bediening vir sesdejaars).
Dit handel die vraag na die ontstaan en die proses van die aanstelling van die HTK-dosente af.
Die vraag kan tereg ook gevra word hoekom dosente by die HTK aangestel word terwyl die getal studente asook die getal dosente aan UP verminder. Eerstens gaan dit primêr oor die uitbou van die teologiese kapasiteit van die NHKA, veral aangesien daar in die onlangse verlede kommer was oor die gebrek aan aanstelbare kandidate in sekere vakgebiede by UP. Dit blyk dat minder predikante as in die verlede in verdere studie belangstel, wat die aantal aanstelbare kandidate in sommige vakgebiede onder druk plaas.
’n Tweede rede spruit uit die feit dat teologiestudente sedert begin 2024 in hul sesde jaar hul opleiding volledig by die HTK deurloop en nie meer by UP soos voorheen nie. Naas die sesdejaarstudente se praktykvorming aan ’n opleidingsgemeente, word hulle aan vyf kontakweke onderwerp waarby die HTK-dosente intens betrokke is.
’n Derde rede gaan oor die feit dat die NHKA tans letterlik net ’n handjievol voltydse dosente aan UP het en dat die aanstelling van die HTK-dosente nuwe motivering aan predikante sal bied om tog maar die moeisame proses van verdere studie aan te pak aangesien die moontlikheid van ’n dosentepos en die status daaraan verbonde, nou ’n groter werklikheid geword het.
’n Predikant wat nie studeer nie, is nie bekeer nie, is ’n spreuk wat blykbaar sy ontstaan aan die Switserse teoloog Karl Barth te danke het. Net dalk motiveer studerende “bekeerde” predikante met die energieke kennis wat hulle uitstraal, voornemende studente om vir teologie in te skryf.
(Dr André Ungerer is hoof van die Hervormde Teologiese Kollege)
