Op 2 Januarie 2024 verskyn daar ’n artikel in die Daily Maverick onder die opskrif The five best reasons not to believe in God. Die skrywer val daarin godsdiens in die algemeen aan en die basis van sy argument is soos volg: So I’m going to be upfront: my hope and goal is that the belief in God, and the religions that underpin it, are wiped from the face the earth. I think they are pernicious, facile and malevolent, and I think the world would be a better place without them. If I can make any contribution to this, no matter how small, I consider that worthwhile.
Daarna lys hy vyf redes hoekom die godsdienste wat God as onderwerp het, naamlik die Moslemgeloof, Judaïsme en die Christendom, verwerp moet word, te wete: omdat daar geen getuienis van so ’n God is nie; dit totaal onlogies is dat daar ’n God is; die voortslepende en nimmereindigende lyding in die wêreld ’n bewys is dat God nie bestaan nie; die mensdom Hom nie nodig het nie; en dat die lewe baie beter is sonder Hom.
Hierdie respons is nie daarop gemik om alles wat die skrywer kwytgeraak het, te weerlê nie, maar om vir myself die saak uit te maak hoekom ek onwrikbaar glo in die Drie-enige God soos dit veral in die Nuwe Testament van die Bybel aangestip word. Ek wil die rede(s) hoekom ek so glo, antwoord vanuit my persoonlike ondervindings met God.
God is op ’n persoonlike vlak, in my intieme verhouding met Hom, vir my ’n Alomteenwoordige God. Hier waar ek nou in my studeerkamer hierdie gedagtes op my rekenaar tik, beleef ek God op ’n baie persoonlike, intieme vlak. Ek glo onteenseglik in Jesus Christus se bevestiging aan my persoonlik in Johannes 14: 21: Jy wat my opdragte het en dit uitvoer – dit is jy wat My liefhet. En jy wat My liefhet, vir jou sal my Vader liefhê, en Ek sal jou ook liefhê en My aan jou openbaar. (Ek verpersoonlik die verse vir my.) En ook vers 23: As jy My liefhet, sal jy my woorde ter harte neem; en my Vader sal jou liefhê, en Ons sal na jou toe kom en by jou woon.
Ek glo onteenseglik wat Jesus aan my as een van sy dissipels in Johannes 15: 1-8 verduidelik: dat Hy die wingerdstok is en ek is die loot wat uit Hom uit groei. Hy is die onteenseglike oorsprong en rasionaal vir my bestaan. My belewing en ervaring van God is dat Hy ín en bý my is – 24/7@365. Ek bevestig Paulus se woorde: Ek wat Christus Jesus as Here aangeneem het, lewe in verbondenheid met Hom, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos ek geleer is, en met dankbaarheid vervul (Kol 2: 6-7). Omdat ek saam met Christus uit die dood opgewek is, strewe ek na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Ek rig my gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want ek het gesterwe, en my lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat my lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal ek ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel (Kol 3: 1-4) Daarom ken ek sy stem want Hy IS my Herder en ek volg Hom. Al gaan ek ook deur ‘n dal van doodskaduwee, ek sal niks vrees nie want sy stok en sy staf die vertroos my. Hy verkwik my siel!
Ek kan getuig dat ek by vier verskillende geleenthede in my lewe Jesus as ’n sigbare wese persoonlik aanwesig in my teenwoordigheid ervaar het: In my kamer in ons huis in Komatipoort in 1976 toe ek geroep is om ’n dominee te word (maar wat toe nooit gerealiseer het nie weens verskeie redes). Daarna, as seker die mees sigbare beeld op 10 November 2006 toe Jesus fisies en sigbaar aan my verskyn het oorkant my studeertafel om 03:00 terwyl Hy vir my (soos vir Paulus 2 000 jaar gelede) in 2 Korintiërs 12: 9 gesê het: My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. Daarna het Hy weer aan my verskyn in my tuin (ek het ’n “gebedshoekie” in my tuin wat ek my eie Getsemane noem) gedurende Covid-19 in Junie 2020 en daarna in ons slaapkamer in Julie 2021 terwyl ek gereed gemaak het om te gaan slaap. Interessant genoeg, tydens beide die laaste twee verskynings het Jesus weer eens vir my gesê: My genade is vir jou genoeg. Verdermeer het hierdie fisiese ontmoetings gebeur terwyl ek stoksielalleen was en dit stil om my was en ek in diepe gesprekke in my hartskamer besig was met God oor verskeie aspekte in my persoonlike lewe.
Hoe weet ek dat dit inderdaad Jesus was? Ek weet dit net. Ek kan dit nie verduidelik nie. Ek weet net onteenseglik dit was Hy. Hoe lyk Hy? Geen idee nie, want Hy is Gees en elke keer het ek sy manifestasie beleef as bloot ’n skimagtige teenwoordigheid. Watter emosies het ek beleef? Elke keer het ek die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, soos Paulus dit in Efesiërs 3: 19 uitdruk, ervaar. En elke keer het ek daarna gehuil – hoekom weet ek nie… miskien omdat ek ook soos Paulus met alle nederigheid kan sê: Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn (1 Kor 15: 8). Maar dat daar ’n misitieke teenwoordigheid was wat direk met my op ’n persoonlike vlak gekommunikeer het, is sonder enige twyfel so!
En daardie boodskap dat sy genade vir my genoeg is, is net WOW: Nie te veel nie, nie te min nie, net absoluut volmaak genoeg! En dit het my default position geword om altyd deur goeie en minder goeie tye te besef dat Hy die Eerste, die Een verhewe bo die hele skepping, Hom deur wie God alles wat in die hemel en op aarde geskep het, vir my persoonlik kom sê dat sy genade vir my genoeg is, want deur sy bloed aan die kruis het Hy my vrede herstel en deur Hom het God alles (ook vir my) op die aarde en in die hemel met Hom versoen (Kol 1: 15-20). En daardeur weet ek is ek heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom gestel (Kol 1: 22).
Ek het hieroor teenoor my kinders en my vrou getuig, en teenoor sekere leraars en ook sommige van my geesgenote in Christus. En terwyl ek hierdie tik, wonder ek hoekom ek dit nog nooit uitgebasuin het vir almal om te hoor nie. Ek besef dit is omdat ek baie nederig gevoel het dat God my spesiaal geag het om Hom aan my te openbaar (soos aan Moses en Elia). Dus getuig ek nie nou hieroor om verwaand of aanstellerig te wees nie. Nee, ek deel dit sodat die lesers hiervan sal weet God is inderdaad nie ver of afwesig of onbetrokke nie. Nee, Hy is ’n teenwoordige realiteit wat in my is en by my is! Ek kan ook soos Paulus bid: Ek bid dat die God van my Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan my wysheid gee en Hom so aan my openbaar dat ek Hom werklik kan ken. Ek bid dat Hy my geestesoë verder so sal verhelder dat ek kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir my bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in my wat glo (Ef 1: 17-19).
As ek vra Waar is God? kry ek die Stefanus-perspektief vir my oë: Toe die mense vir Stefanus gestenig het, het nie een van die klipgooiers en die toekykers soos Saulus en die Hoë Priester vir God gesien of ervaar nie. Vir hulle was God, in wie, volgens hulle, se Naam hulle vir Stefanus vermoor het, dalk teenwoordig met ’n knikkende kop en ’n aanmoedigende stem. Maar vir Stefanus, waar was God vir Hom? Hoekom het God hom nie beskerm nie, sou ons kon vra? Hoekom het God nie sy engele opdrag gee om hom te beskerm, om hom op hul hande te dra sodat hy nie sy voet teen ’n klip sal stamp nie? God belowe dan aan sy kinders in Psalm 91: 14-16: “Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,” sê die Here, “omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm. Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel.” En ook in Psalm 121: 5-7 verseker God dan vir die gelowige: Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare. Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.
En dan breek Stefanus se woorde in Handelinge 7: 55-56 deur: Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan. “Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.” Ja, as ’n marteldood soos vir Stefanus ongevraagd ’n gelowige se pad kruis, is dit nie ’n bewys van ’n afwesige of onbetrokke God nie. Nee, God is áltyd daar. Die skille moet net van jou oë afval sodat jy Hom kan sien… Waar Hy jou nooi: Kom na My toe, jy wat vermoeid en oorlaai is, jy wat moeg is in die stryd om jou persoonlike chaos te oorleef, jy vir wie die ekonomie gestroop gelaat het of wat deur hartseer gebroke gelaat is, as swaarkry jou jou vrede gekos het en uitdagings jou siel broos gelaat het, en Ek sal jou rus gee!
As gevolg van my diep persoonlike, intieme verhouding met God, dui alle getuienis vir my daarop dat daar wel ’n God is. Hy is vir my totaal logies en verstaanbaar. Omdat ons tans in ’n gebroke wêreld lewe, is lyding veroorsaak deur die sonde, en deel van die realiteit daarvan. Maar juis as gevolg daarvan het ék Hom nodig en is mý lewe beter mét Hom.
(Oudl Johan Rossouw is lidmaat van Gemeente Krugersdorp-Oos)
