Lees 1 Petrus 1: 13-21 (AFR83)

In haar bundel Verhale van Hoop het Ingeborg Drewitz die volgende gedig opgeneem:

Die kreet van ’n jongmens

Van die lewe verwag ek niks nie,
want die lewe verwag ook niks van my nie.
Wie sou tog kon verstaan
waarom ek so voel?
Ek lewe, en tog lewe ek nie …

Is dit nie verskriklik nie! In plaas van vreugde en hoop wat so eie behoort te wees aan ’n jongmens se lewe het daar sinisme gekom, bitterheid en moegheid. En nou weet ons, dit gebeur nie slegs met jongmense nie. Die wanhoopsindroom kan enige mens pak wanneer jou gesondheid ingee, inkomste verdwyn, huwelik verbrokkel, jy bedreig voel in jou eie huis… Feit is, geen mens kan sonder hoop lewe nie. Hoop is lewe.

Petrus, ook genoem die apostel van hoop, skryf juis oor hoop vir mense in ’n hopelose situasie. Maar dan skryf hy oor Christelike hoop: Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus (vers 13), en ook: Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig (vers 21).

Alles wat tussen hierdie twee verse staan, staan so te sê tussen die hakies van hoop. Veral twee perspektiewe is belangrik. Die eerste is dat Christelike hoop buite ons geanker is. Dis gegrond in dit wat God in Christus gedoen het, met as hoogtepunt Christus se opstanding (vers 21). Die tweede is dat hoop ook in ons hande is: As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld (vers 14-17). Hierdie verse skets ’n lewe waar daar hoop is.

Omdat ons lewe tussen dit wat God reeds in Christus gedoen het, en dit wat God ook in die toekoms nog in Hom sal doen, kan ons in die hede uit daardie hoop leef. Omdat ons geanker is tussen dit wat was en wat kom, of nee, omdat ons geanker is in Hom wat is en wat was en wat kom, kan ons elke dag met hoop lewe. ’n Mens wat hierdie hoop het, kyk met ander oё na gesondheid wat ingee, inkomste wat ontbreek, onveiligheid, na alles, terwyl hy/sy glo en weet: God wat in Jesus verlossing gebring het, sal op sy eie tyd uit al die ellende hier op aarde finale verlossing bring. Met hierdie hoop kon die gelowiges vir wie Petrus geskryf het, onder die moeilikste omstandighede lewe en oorleef.

Ons het hierdie selfde hoop vandag meer nodig as enigiets anders om te kan lewe en te kan oorleef.