Lidmate hoor die afgelope tyd dikwels dat ons in uitdagende tye in ’n gebroke wêreld leef – dit het al feitlik soos ’n refrein geword. Tye wat siektetoestande van minder of meer ernstige aard tot gevolg kan hê. Ons ken almal daardie dae wat in die volksmond bekend staan as afdae, wanneer ons minder goed voel. Dit gebeur met elke mens, is minder ernstig, hou nie vir lank aan nie en het nie ’n wesenlike impak op ons daaglikse funksionering nie.
Sommige van ons ontwikkel egter meer ernstige gesondheidstoestande, soos depressie, wat nie van korte duur is nie en ons funksionering belemmer. Die Psigologiewoordeboek van Gouws en ander beskryf depressie soos volg: Dit is ’n toestand van intense neerslagtigheid (onsekerheid, bedruktheid) wat in die reël gepaardgaan met gevoelens van ontoereikendheid, onsekerheid, pessimisme oor die toekoms, asook sosiale onttrekking en verlaagde psigomotoriese aktiwiteite.
Baie jare gelede kyk ’n praktiserende psigiater een oggend by sy venster uit en verwonder hom aan die mooi uitsig voor hom van die destydse kleinhoewes in Centurion. Hy begin droom van ’n psigiatriese kliniek waar die persoon met psigiese ongemak weer in sy totale menswees hoop en heling kan vind, en die uitsig op die lewe weer positief verander kan word. Hierdie droom word in 1984 bewaarheid met die totstandkoming van die nou bekende Vista-kliniek in Centurion.
Die plaaslike predikant en ander gemeenteleiers is dikwels die eerste linie tussen die ongemak wat lidmate ervaar en enige professionele hulp wat daarna mag volg. Op grond hiervan en die bande wat die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB) met Vista het, is ’n kuierdag by die kliniek gedurende Oktober 2021 gereël wat deur ses predikante en ’n ouderling bygewoon is. Die dag is as besonder verrykend ervaar. Die pragtige, netjiese, goedbeplande geboue is indrukwekkend en die bekwame aangename personeellede opvallend. Dit is jammer dat daar steeds ’n stigma aan sulke gesondheidstoestande en fasiliteite kleef.
By Vista word mense met gemoedsversteurings holisties op biologiese, psigologiese, sosiale en spirituele vlak ondersteun. Die dienste word gelewer deur psigiaters, sielkundiges, maatskaplike werkers, arbeidsterapeute, fisioterapeute, verpleegkundiges, ander gesondheidsberoepe en terapeute. Medikasie alleen is selde suksesvol op die lang termyn en dit is nodig om die ongemak ook op terapeutiese vlak (wat medikasie insluit) te hanteer. ’n Trein het twee spore nodig om voort te beweeg – een gaan nie help nie. So is dit ook in die optimale helingsproses. Waar medikasie nodig is, moet dit in die meeste gevalle deur die terapeutiese proses ondersteun word. Die een kan nie sonder die ander nie. Op biologiese vlak is die kontrolering van medikasie, regte eetgewoontes, slaapgewoontes, gereelde oefening en ontspanning van kardinale belang. Die aanbeveling is dat wanneer ’n mens verlof neem, dit vir minstens twee weke aaneenlopend moet wees.
Op psigologiese vlak word onder andere aandag gegee aan irrasionele denke, gebrek aan motivering en ’n lae selfbeeld. Denkfoute kan byvoorbeeld manifesteer in veralgemenings, digotomiese denke (iets is net reg of verkeerd / sleg of goed), verwag altyd die ergste, blameer ander, dit is belangrik om altyd reg te wees en suksesvolle mense maak nie foute nie. In die terapeutiese proses (byvoorbeeld kognitiewe terapie) word mense gehelp om anders te dink, sodat hulle anders kan voel, sodat hulle dan anders kan optree.
Gebrekkige sosiale vaardighede kan die ongemak verder kompliseer. Onaanvaarbare sosiale gedragspatrone soos sosiale uitbarstings, behoefte om mense altyd tevrede te stel, te min slaap en rus kan ongemak verorsaak. Dr Henry Cloud skryf in sy boek Changes that heal oor die noodsaaklikheid van die stel van grense deur die individu. Jy moet jouself ken, weet wat jy kan doen en wat jy nie kan doen nie, en wanneer om ja of nee te sê. Word dit nie gedoen nie, kan dit aanleiding gee tot depressie. Musiekterapie word byvoorbeeld suksesvol by Vista aangewend om sosiale vaardighede te verbeter.
Die spirituele deel van menswees speel ’n belangrike rol in die helingsproses. Die Bybel leer ons hoe die status van die hart die res van ons lewens beïnvloed. Spreuke 4: 23 sê vir ons: Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. ’n Kapel is op die terrein opgerig waar jy stil kan raak in die teenwoordigheid van die Here.
Die Vista Akademie is ook gevestig om professionele persone met die nodige vaardighede toe te rus. Verskillende kursusse is saamgestel met die oog op voortgesette toerusting en ontwikkeling van professionele lui. Die inhoud van die kursusse is sodanig gestruktureer dat die pastorale vaardighede van die predikant daardeur uitgebou kan word. Die Akademie het ’n e-biblioteek beskikbaar waar kursusgangers die opleiding kan koop en aanlyn kan voltooi. Predikante kan so ook punte vir verdere beroepsgerigte opleiding (VBO) verdien. Praktykgerigte toerusting en die effektiewe begeleiding van predikante is die rede waarom die SGB op hierdie vlak by Vista Akademie aansluiting vind. Kursusse sluit onder andere doeltreffende kommunikasie, tydsbestuur, begrip van trauma en angs, streshantering en die hantering van die stigma van geestesongesteldheid in. Belangstellende predikante en kerkrade word aangemoedig om met dr Frikkie Labuschagne, hoof van die SGB, hieroor te skakel.
Ons het ’n besondere motiveringspreker, Deon Labuschagne, tydens ons besoek ontmoet. Deon is ’n gestremde wat as kind gediagnoseer is met depressie. Ten spyte daarvan en ander siektetoestande is hy ’n gelowige wat hou van uitdagings en as volwassene geleer het om fiets te ry. Hy is so opgewonde oor dié vaardigheid dat hy deesdae na homself verwys as Deon Bicycle. ’n Publikasie uit sy pen, die lewe is soos bicycle ry, sal eersdaags die lig sien. Ja, die meeste van ons het mos al met ’n fiets geval en weer opgeklim en verder gery. So is dit ook met die lewe.
En jy, liewe leser? Word jou afdae te veel? Kry dan hulp en bly hoop. Hoop is nie maar bloot optimisme nie. Hoop is die anker in jou lewe. Nie net op die dae wanneer dit goed gaan nie, maar ook op jou afdae – en Jesus Christus is jou anker. Elkeen van ons is verantwoordelik om die stigma rondom geestesgesondheidstoestande te laat verdwyn. In 1 Petrus 1: 3 en 4 lees ons: Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. Daar ís hoop en heling!
(Oudl Dries le Roux is lid van die Kommissie van die AKV en van die Welstandskomitee vir Predikante)