Dis vir buitestanders moeilik om die bestaanskrisis te verstaan wat die uitslag van hierdie Amerikaanse verkiesing by die helfte van die bevolking daar ontketen het. Ek begryp dit glad nie. Toegegee, ek kon Amerikaners nog nooit kleinkry nie, en om met hulle saam te werk, was ’n hare-op-die-tande-gedoente.

Nou verwonder ek my aan hoe dominees, blogskrywers en joernaliste daar bontstaan net om die versekering te gee God regeer steeds, al lyk dit of die hel los is en die bose beheer het.

Amerikaners weet mos alles. Amerikaners is van alles wat hulle weet, doodseker. Amerikaners weet altyd van beter. Amerikaners is van die hele mensdom die afgeskepte room. Dís my belewenis van Amerikaners se selfverstaan. Ek het by Amerikaners nog geen bedagsaamheid of versigtige ingetoënheid teëgekom nie. Nederig is hulle nie. Links of regs, Amerikaners is per definisie altyd reg. Daarom, vir Linkses was Donald die wolf, en vir Regses is Joe die vark. En elke vier jaar heers om die beurt ’n kloon van een van die twee: die Amerikaanse droom is ’n nagmerrie, George Orwell se 1984 in volkleur, of jy nou rooi is of van blou hou. Amerika staan met elke vier jaar voor die poorte van die hel, kniediep al in die gladde goed wat hulle die distopie in laat gly. Elke verkiesing is die eindtyd in ’n kleine. Gehenna dreig. Dis ’n geween en ’n gekners van tande.

Dis dié demokrasie. Dís nou van alle volke die vryste en die rykste, die gelowigste, die magtigste, die greatest, wat só maak. Dis die mense vir wie nie eens God onverhoeds kan betrap nie.

Ek weet ek veralgemeen. Met hierdie verkiesing was en bly dit moeilik om nié kopskuddend en oopmond die drama in die supermoondheid aan te gaap en hart vas te hou dat iemand tog net nie die sneller trek nie. Só erg is vir hulle die onderlinge geskille, só ver skiet hulle tekort aan verdraagsaamheid, só kleinserig het hulle geword, dat met reëlmaat iemand swaar gewapen cowboy-styl uit die heup skiet om dood te skiet, letterlik en figuurlik.

Ek het eenmaal met die opening van ’n Christelike byeenkoms gepreek oor lydsaamheid, oor Jesus. Ek het gedink dat die omstandighede dit noop. ’n Amerikaanse spreker het, onmiddellik daarna, wat ék verkondig het voor dieselfde gehoor uitgelag, uitgediend verklaar, want kragdadige (gewapende?) verset is al wat sal keer dat kruisiging weer gebeur.

Ek sidder om te dink wat van ons sou kon word, ons wat regtig ingrypende verskille het, as ons dié houding van Amerikaners ons eie sou maak. Dáár gaan al stemme op vir burgeroorlog en afskeiding. (As die Sowjetunie kon verbrokkel, die Verenigde State van Amerika kan ook.) Die Great Melting Pot is onder druk. Hier by ons is steeds ’n verbintenis tot saambestaan, hier hou welwillendheid nog uit, al het iemand lankal al die pot goud aan die einde van die reënboog leeg gesteel, en is die pad soontoe met landmyne besaai.

Wat keer dat ons dieselfde pad loop? Is ons vuisvoos en reissuf, papperds? Ek dink nie so nie. Alles behalwe!

Ons is ’n heldegeskiedenis geleer. Nou, uit ’n ander hoek terugskouend bekyk, strek wat eens goed was, ons tot skande. (Die huidige bestel is dalk ewe welmenend, maar nog vér van goed af.) Nou, met die verlies van die Afrikaanse republikeinse ideaal, kom daar herwaardering van ons goddelike roeping: Waarvoor is ons nog hier in Afrika?

Ek sien met droogtes en brande en roof en moord, nuwe, insluitende samehorigheid, sorgsaamheid en daadwerklike hulpverlening daag. Konvooie vol kos, voer en water is nou weer Vrystaat toe. Met die groot stormskade van verlede jaar, is net soveel hulp hiervandaan Mosambiek toe. Hier is selfbeheersing, geduld en meelewing. Swart Maandag is stigtelik herdenk, ons het oor Senekal na rede geluister.

Ons soek vrede en jaag dit na. Ons het fyner onderskeiding van waarop dit werklik aankom, van hoe die goeie lyk. Ons besef algaande die goeie en die bose het geen enkele kenmerkende kleur nie. Ons verstaan verganklikheid ook nou beter: Wat ons gedink het ewigheidswaarde gehad het, het voor ons oë vergaan, die grond is onder ons voete weg. En kyk, hier stáán ons nog, gewond maar onoorwonne.

In hierdie laaste tydgleuf van die kerklike jaar waarin ons eindtydgerig is, leer ons ’n God ken wat deur aardskuddende verandering een en ewig dieselfde bly. Die belangrike verskille tussen kapitaal en sosiaal, despotisme en demokrasie, die geraas oor ras, alles vervaag in die lig van God wat helder skyn, helderder as enigeen van ons, en as enigiets wat ons mag oorkom.

Wat maak ons hier? God heers! En ons? Mét Hom? Al dienend?

Waarvoor ons ook al bedoel is, ons is niks beter as Amerikaners nie. Dieselfde slaggate kan ons van die wal in die sloot stoot. Ligloop! Bly bedag!

Maar moet nooit vergeet nie dat, die keer toe God oor skepping spyt gekry en besluit het om van voor af oor te begin, mense die einde van die wêreld oorleef het. Toe mense die Christus vermoor het, het God Hom met ’n verheerlikte liggaam laat opstaan. En dis wat God nou van die laaste (finale?) einde ook sê: Dit kóm nog, maar onthou dit die dag as mense jou die see wil injaag: Hout dryf, of jy dit nou vir ’n skip of ’n kruis gebruik. Hou daaraan vas, en julle sal die einde oorleef en die nuwe beleef.

God bless America! Here, help ons ook.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link