Ds GC (Gert) van Staden, een van die NHKA se oudste leraars, is op 21 November 2025 in die ouderdom van 93 jaar oorlede.
Ds Van Staden is op 28 Augustus 1932 gebore. Ná afloop van sy studies is hy op 4 Desember 1958 gelegitimeer en op 24 Januarie 1959 in Gemeente Carletonville georden. In 1959 tree hy in die huwelik met Johanna van der Merwe. Hy dien in Gemeente Waterval-Boven vanaf 1962, Gemeente Losberg in 1963, Gemeente Bloemfontein in 1969, Gemeente Bloemfontein-Wes vanaf 1970, Gemeente Krugersdorp-Noord/Tarlton vanaf 1974 en Gemeente Silverton vanaf 1980. In 1984 word hy aangestel as die direkteur Diakonale Dienste. Hy bedien die Evangeliestandplaas Pretoria en Gemeente Pretoria-Suid vanaf 1986 en Gemeente Pretoria vanaf 1994.
Ds Van Staden aanvaar emeritaat op 15 Oktober 1997.
Hy het op die breër kerklike terrein hoogstaande werk op die gebied van barmhartigheidsdiens verrig. Hy was voorsitter van die Algemene Diakonale Raad asook voorsitter van die Direksie van die Kinderhuise. Hy het ook vir etlike jare op die Direksie van die sakebedrywe van die Kerk en die beheerraad van KITAL gedien. Hy het ook as viseskriba van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering gedien en tree vir nege jaar op as lid van die Moderamen.
Ná sy hartomleidingsoperasie in 1998 het hy besluit om as uitvoerende bestuurder, voorsitter en lid van die Direksie van die Kinderhuise uit te tree. Mev Van Staden het terselfdertyd as supervisor vir die kinderhuise uitgetree.
In 2019 het die Kerk saam met ds Van Staden sy 60-jaar-ampsjubileum gevier.
Tydens die legitimasie-erediens van 2025 is ds Van Staden die geleentheid gegun om die Skriflesing uit 2 Timoteus 1: 3-14 te behartig.
Ons groet ds Van Staden met die woorde van 2 Timoteus 1: 9: Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.