In die bestek van slegs een week moes die NHKA twee van haar leraars aan die dood afstaan. Ds Thomas Joubert is 11 Julie oorlede en dr Wian Kloppers op 16 Julie.

Ds Thomas Joubert

Ds Thomas Joubert is op 4 Junie 1958 gebore. Ná sy studies is hy op 25 November 1982 gelegitimeer en op 16 Januarie 1983 in Gemeente Voortrekkerhoogte georden. Hy dien in Gemeentes Walvisbaai vanaf 1983, Zwartruggens vanaf 1985 en Swellendam/Bredasdorp-afdeling vanaf 1988. Hy aanvaar emeritaat in 2023. Ds Thomas was getroud met Ronel en hulle het drie kinders gehad. Dawie is getroud met Hesca en hulle het twee kinders, Esther (11) en Katryn (7), beide die appels van hul oupa se oog. Paul is in 2018 oorlede aan kanker. Hy was getroud met Siret. Corli is getroud met Jedri. Ds Thomas was ’n toegewyde en baie geliefde pastor in die gemeentes waarin hy gedien het. Hy was ’n kranige stapper en het die Spaanse Camino in 2013 gestap. Hy het die Visrivierstaptog verskeie kere gestap en baie gereeld die berge rondom Swellendam uitgeklim. Een van sy gunsteling roetes was om tot bo-op Twaalfuurkop te stap. Hy het ’n ensiklopediese kennis van bome, veral inheemse bome gehad. Ds Thomas is ná ’n baie kort siekbed oorlede.

Dr Wian Kloppers

Dr Wian Kloppers is op 16 November 1956 gebore. Ná sy studies is hy op 27 November 1980 gelegitimeer en op 30 November 1980 in Gemeente Voortrekkerhoogte georden. Hy dien in Gemeentes Fonteinedal vanaf 1983 en Rietvallei vanaf 1986. Hy is in 2004 aangestel as die redakteur van Konteks. Hy was vir 15 jaar die redakteur en sal veral onthou word vir sy aandag aan die viering van spesiale geleenthede in die Kerk of die geskiedenis van Kerkhervorming. In 2005 word hy aangestel as die hoof van SENTIK. In 2007 word hy die sekretaris van SENTIK en in 2008 die redakteur van Visuele Kommunikasie. Hy dien in Gemeente Montana-Oos vanaf 2017 tot hy emeritaat in 2019 aanvaar. Hy sal onthou word vir sy besondere bydrae tot kommunikasie binne die NHKA en betrokkenheid by die NHSV. Soos die lig deur sy loodglasvensters in Gemeente Pretoria-Oos val, sal sy nalatenskap voortleef.