Vandeesmaand 62 jaar gelede op 8 Maart 1961, die dag voor die opening van die 53ste Algemene Kerkvergadering (AKV), is die voormalige sinodale kompleks van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), die Dirk van der Hoffgebou, amptelik geopen. Die hoeksteen (tans by die SP Engelbrecht-museum) is op 5 September 1959 gelê; die gebou is vernoem na die eerste voltydse predikant van die NHKA in Transvaal. In 2017 is die sinodale kompleks verkoop.

Die voorsitter van die boukommissie, ds Theuns FJ Dreyer, het met sy verwelkoming van die volgepakte sinodalesaal (vanaf 1986 bekend as die Goddefroysaal), die aandag gevestig op syfers rakende die oprigting van die gebou. Die gebou, insluitende die sinodalesaal, die Musiekkonservatorium, die administratiewe kantore, die Kerkargief, die Kerkmuseum en die magasyn vir voorrade van die verskillende kerklike inrigtings, asook die meublement, die groot orrel plus die paar kleiner orrels, klaviere, ensovoorts, asook die verversings, het die totale bedrag van R308.000 (£154.000) gekos. Die groot groei van die Kerk kon gesien word in die groei van die Kerkkantoor, wat vroeër jare begin is met één klein kantoor.

Die gebou is deur die argitek Hendrik Vermooten oorhandig aan ds Andries JG Oosthuizen, die voorsitter van die AKV, wat dit namens die Kerk in ontvangs geneem het. Die NH Weeshuisbouers was die bouaannemers.

Vir prof dr SP Engelbrecht, die argivaris, wat die Argief en Museum namens die Kerk in ontvangs geneem het, was dit ’n groot dag. 53 jaar tevore het hy as jongman begin met die insameling van ou kerklike dokumente en museumstukke. Op 20 Oktober 1961 het die feestelike inwyding van die SP Engelbrecht-museum gevolg op die 70ste verjaardag van prof Fanie Engelbrecht.

By afwesigheid deur ongesteldheid van prof dr Barend de Loor, wat vir baie jare lid en voorsitter van die Raad van Finansies was, het ds Abraham Ras, die ondervoorsitter, die administratiewe kantore in ontvangs geneem. Ook hy het gewys op die nederige begin van die kerklike administrasie. Die eerste kerkkantoortjie is vir £5 per maand gehuur. Die tikster het £3 per maand ontvang en die administrateur £450 per jaar. In 1937 was die kantoorhuur £20 per maand. ’n Tydjie daarna is die herehuis, bekend as Barton Keep, op die hoek van Paul Kruger- en Jacob Maréstraat, aangekoop vir £25000. Langsaan is die Generaal Pretoriusgebou opgerig vir ’n kwartmiljoen pond. Op die ander gedeelte van dieselfde erf is die Dirk van der Hoffgebou opgerig met sy front in Jacob Maréstraat.

Dr G Jordaan, rektor van die Onderwyskollege, het as visevoorsitter van die kuratore van die Musiekskool die Musiekkonservatorium in ontvangs geneem. Hierdie Musiekskool is klein begin in Krugersdorp, deur mnr Willem Mathlener.

Gelukwense van die Eerste Minister, dr HF Verwoerd, is deur die seremoniemeester van die aand, Albert B van N Herbst, die administrateur van die Kerk, voorgelees. In sy boodskap het dr Verwoerd ons museum genoem ’n geestesmonument as middelpunt vanwaar inspirasie uitgaan vir opkomende geslagte.

Die gelukwense van die stad Pretoria is gebring deur die burgemeester, CH Janse van Vuuren, wat gewys het op die noue band tussen die NHKA en Pretoria, aangesien die eerste predikant van die NHKA in Transvaal, ds Dirk van der Hoff, ook die naamgewer van die stad Pretoria was. Uit waardering vir sy dienste is een van die groot deurgangstrate deur die stad na dié pionierpredikant vernoem, te wete Van der Hoffweg.

(Erkenning aan Die Hervormer met rapportering oor die gebeure in 1961)

(Ds Carel Johann de Bruin is curator van die SP Engelbrecht-museum)