Dis Maandagoggend laat en jy het pas by die werk ingestorm. Jou vergadering het reeds begin, en jy is laat! Jy skarrel om te krap in elke sak, want jou selfoon is net nêrens nie. Skielik besef jy dat jy dit tuis vergeet het! Jou kop draai soos jy probeer uitwerk hoe die afwesige foon jou dag gaan beïnvloed en dit moontlik gaan bederf, en jy wonder hoe jy deur jou dag gaan kom.

Dit klink na so ’n normale situasie. Dis asof jy verlore is as jou foon nie by jou is nie. Sonder jou foon kan jy nie gou iemand bel of ’n boodskap stuur nie; jy kan nie ’n foto of video neem en met jou vriende en familie deel nie; jy kan nie gou iets opsoek op die Internet nie; jy kan nie die beste en vinnigste roete huis toe bepaal nie – soveel dinge wat jou dag gewoonlik soveel makliker maak.

Maar wat van jou verbinding met God? Jy het nie data of lugtyd nodig om met Hom te praat nie. Vir Hom hoef jy nie foto’s en video’s te stuur nie, want God sien alles. Saam met God vind ons die roete na die ewige lewe. Dis wel nie die maklikste en vinnigste roete nie, maar vir seker die beste roete.

En tog staar baie mense daagliks blindelings na hul selfoonskermpies. Dit kry aandag met elke ping-ping; ons neem eerder ’n video van die kruipende baba as om hom aan te spoor en te bemoedig; ons kuier eerder op WhatApp as om die fliek waarvoor ons duur betaal het, te kyk; ons speel eerder ’n speletjie soos Candy Crush as om ’n boek te lees; en wanneer dinge in ons verhoudings onsmaaklik raak, google ons soortgelyke gevalle eerder as om te bid en ons antwoord by God te soek.

Nou wonder ek: Is selfone dan die moderne wêreld se afgod? ’n Afgod is iets of iemand wat ons voor God plaas in ons harte. Ons is so geneig om heel eerste in die oggend op ons fone te loer vir enige nuwe boodskappe of kennisgewings. Ek doen dit self, en so maklik vergeet ’n mens dan om die dag met ’n gebed te begin.

Sedert my seuntjie se geboorte is my selfoon se klank altyd afgestel. Jy leer gou dat ’n selfoon net sal lui sodra die baba uiteindelik aan die slaap is! My familie is al goed gefrustreerd met my wat nooit my foon antwoord nie. Maar ten spyte hiervan, kyk ek steeds baie gereeld wat aangaan op my foon. Dalk is dit tyd dat ons ons selfone gebruik as dit wat dit is. Dit is ’n hulpmiddel met spesifieke funksies. Daar is ’n tyd om dit aan te hê, en ’n tyd om dit af te sit. Ons kan dit nie gebruik as ’n plaasvervanger vir werklike geloof en verhoudings nie. Dit kan ons help, maar dit mag ons lewens nie beheer nie.

Dis Maandagoggend vroeg en jy het pas by die werk ingestap. Jy kry alles gereed vir jou oggend se werk, en moontlik ’n vroegoggend-vergadering. Laaste stappie is om jou selfoon binne bereik te plaas vir ingeval die familie ’n krisis het. Maar waar is die foon dan nou? Jy soek orals, en besef dat jy dit tuis vergeet het. Jy skiet jou tweede gebed op vir die oggend, en vra vir die beskerming van jou geliefdes terwyl hulle jou nie kan kontak nie. Jy stap vergadering toe, en is sommer bly dat jy nie vandag oral hoef te loop met die foon in die hand nie.

Now wouldn’t that be something!

af
af
Deel met behulp van
Copy link