Op 16 Februarie 2025 is prop Zilcha Mostert, ’n proponent van die NG Kerk, as predikant van die Hervormde Kerk se Gemeente Louis Trichardt bevestig.

Dit is die eerste keer dat ’n proponent deur dié gemeente beroep en as leraar bevestig is, en ds Mostert is ook tans die jongste predikant in die NHKA.

Die NG gemeente Levubu het hul erediens vir die dag gekanselleer en die bevestiging van prop Mostert bygewoon. Haar man, ds Johan Mostert, is in Desember 2024 by dié NG gemeente as leraar bevestig.

Tydens ds Zilcha se bevestiging het Levubu ’n Kanselbybel aan die NHKA oorhandig, en ds Johan is genooi om die nagmaal by een van die tafels te bedien.

Ds Zilcha vertel self:

“Ek is op 15 Augustus 2000 in Roodepoort gebore en het ’n plattelandse laerskool bygewoon. My hoërskooljare het ek aan Hoërskool Monument (Monnas) deurgebring. Dit is juis tydens my hoërskooljare dat ek sekerheid en rustigheid gekry het oor my roeping om in die teologie te gaan studeer.

Die vyf jaar van voltyds student wees aan die Universiteit van Pretoria is op 30 Desember 2023 op ’n hoë noot afgesluit toe ek en my beste vriend en medestudent, Johan, afgehaak het. Na baie gebede, gesprekke en oorweging, het ek en Johan aan die einde van 2024 op die Here se roepstem gereageer, toe hy die beroep na die NG Kerk Levubu aanvaar het en ons hierheen verhuis het. Net so, na nog gebede, gesprekke en oorweging, het ek en Johan weer op die roepstem van die Here gereageer toe ek op 30 Januarie 2025 deur die Hervormde Kerk van Louis Trichardt beroep is.

Ons glo dat die Here ons hierheen gelei het, en ons sien uit om in afhanklikheid van die Here en in samewerking met ons medegelowiges voort te gaan met die goeie werk waartoe Hy ons lei en roep en waarmee Hy lankal reeds besig is in Louis Trichardt en Levubu.”

(Hooffoto: Di Johan en Zilcha Mostert)