Pres Jan Brand (die vierde president van die Vrystaat) het by geleentheid gesê: Alles sal regkom, as elkeen sy deel doen. Wanneer ’n mens oor burgerlike verantwoordelikheid nadink, is hierdie uitspraak van pres Brand van die uiterste belang.
In ’n demokrasie wat reg funksioneer, sal burgerlike verantwoordelikheid meer op die vlak van gehoorsame onderdanigheid aan die regering wees. Waar ’n demokrasie egter nie vlot funksioneer nie, sal burgerlike verantwoordelikheid eerder deelname behels – om die samelewing te help bestuur en seker te maak dat alle dienste normaal bly funksioneer.
Prof JA Heyns wys in sy boek Teologiese Etiek, Deel 1 dat daar dinge in die lewe is wat ons kan doen, mag doen en behoort te doen. Hy sê die verband tussen die mens en sy plig kan deur hierdie drie sake verduidelik word.
Hy gee dan die volgende voorbeelde. ’n Mens kan iets doen: Hy kan byvoorbeeld ’n skildery maak of ’n motor bestuur. Die mens mag iets doen: Hy mag byvoorbeeld met vakansie gaan, of hy mag sy tee drink. Die mens behoort iets te doen: Hy behoort sy naaste lief te hê, of hy behoort sy werk goed te doen.
- Die kan-aspek wys op ’n moontlikheid en die mens se toerekenbaarheid.
- Die mag-aspek dui op ’n vergunning, en die mens se voorreg om dit te kan doen.
- Die behoort-aspek dui op ’n noodsaaklikheid en die mens se plig wat daaruit voortvloei.
Nie alles wat ek kan doen, mag ek noodwendig doen nie; en nie alles wat ek mag doen, behoort ek dalk te doen nie. Hy gebruik die volgende voorbeeld om hierdie beginsel te verduidelik: ’n Mediese dokter kan (tegnies gesproke) genadedood toepas, maar hy mag en behoort dit nie te doen nie, aangesien dit onwettig is.
Sy volgende voorbeelde dui op die negatiewe en positiewe kante van hierdie beginsel. Ek kan en mag stad toe gaan, maar ek behoort nie te gaan nie, want my siek vrou het my tuis nodig. En ek behoort my naaste lief te hê, en ek kan en mag dit ook doen.
Waarop kom hierdie argument dan neer? Wat ’n mens behoort te doen, is sy plig, en ’n plig is wat die mens behoort te doen. Met ander woorde: Die ideale wat die mens behoort te verwesenlik en die norme wat hy behoort te gehoorsaam, is sy plig.
Kom ons gebruik ’n ander voorbeeld. Toe my kinders nog op laerskool was, het ek baie maal saam met hulle geleer. In Lewensoriëntering het hulle geleer dat ons regte, voorregte en verantwoordelikhede het. Jy het die reg en voorreg om skool toe te gaan, maar dit is jou verantwoordelikheid om seker te maak dat jy jou geleenthede aangryp en na die beste van jou vermoë presteer.
Kom ons pas nou hierdie beginsels op ons leefwêreld toe. Wat staan ons as Christene in hierdie wêreld te doen? Heyns wys daarop dat plig (behoort) en wet onlosmaaklik aan mekaar verbind is. Kom ons neem die grootste gebod in die wet soos dit in Matteus 22: 37-40 opgeteken is. Die grootste gebod bepaal dat jy God en jou naaste lief moet hê soos jouself. Jou plig is dus dat jy jou naaste moet liefhê. Dit is wat jy behoort te doen.
Veronderstel jou bure se grasdakhuis brand af. Jy sien jou bure verloor alles en word negatief daardeur geraak. Indien ons gaan kyk na die beginsels van kan en mag en behoort, sien ons dalk dat dit in jou vermoë is om hulle te kan help. Nou kom jy voor die morele besluit wat jy moet neem. Jy kan hulle help, maar jy mag ook besluit om hulle nie te help nie. Maar dan kom ons as Christene by die oomblik wanneer ons onsself moet afvra wat ’n Christen onder die omstandighede behoort te doen. En op hierdie punt besluit jy om te help of anderpad te kyk.
Wat is jou burgerlike verantwoordelikheid? In ons land het ons in baie dorpe en stede die punt bereik waar die munisipaliteite nie meer die mees basiese dienste met enige vorm van sukses kan verskaf nie. Ook hier kom ons as gelowiges voor die keuse om óf aan te hou kla óf om iets te doen. Weer is ons terug by Heyns se driedeling. Wat kan en mag ek doen, teenoor dit wat ek behoort te doen?
Ons almal ken die ou beeld van almal, iemand, enige iemand en niemand. Daar was ’n belangrike werk wat gedoen moes word en almal was seker dat iemand dit sal doen. Enige iemand kon dit doen, maar niemand het dit gedoen nie. Iemand het toe kwaad geword, want dit was almal se werk. Almal het gedink iemand sal dit doen, maar niemand het besef dat nie enige iemand dit sou doen nie. Die uiteinde van die saak was dat almal iemand blameer het omdat niemand gedoen het wat enige iemand kon doen nie.
En dit is hier waar pres Brand se woorde weer uiters aktueel is: Alles sal regkom as elkeen sy deel doen. Dit is waaroor burgerlike verantwoordelikheid gaan. Ons moet besef dat, omdat ons regte en voorregte het, ons ook verantwoordelikhede het. Ons moet besef dat ons kan en mag besluit wat ons gaan doen of nie doen nie, maar dat ons onsself altyd moet afvra wat ons behoort te doen.
Burgerlike verantwoordelikheid gaan daaroor dat ons ons verantwoordelikheid moet aanvaar ten opsigte van wat rondom ons gebeur. Daar is so baie inspirerende stories in ons land oor groepe en individue wat hul verantwoordelikheid aanvaar het en bereid was om te doen wat hulle behoort te doen. In hierdie uitgawe word die mooi verhaal vertel van Delmas wat begin doen het wat hulle behoort te doen.
Maar ook op ’n ander vlak moet ons onsself afvra wat ons kan, mag en behoort te doen. Ons leef in ’n wêreld wat gebuk gaan onder ’n pandemie wat baie lewens al geneem het en ander mense se lewens benadeel het. Ja, ek kan besluit om onverskillig te lewe. Ek mag dalk besluit om nie ’n masker te dra of my te laat inent nie. Die vraag wat ek myself egter moet afvra, is wat ek behoort te doen.
Meet jou uiteindelike besluit aan die Woord van God, aan wat die grootste gebod is. Besluit hoe jou optrede, jou besluite, die grootste gebod weerspieël. Hoe jou liefde vir God en jou naaste in die manier hoe jy optree, gesien kan word.
Barend Uys antwoord hierdie vraag goed in ’n artikel op Maroela Media op 22 Maart 2020. Hy sê dat ek en jy onsself moet afvra wat die resultaat, die uiteinde sal wees as almal optree soos jy optree. As almal doen wat jy doen, of besluit om niks te doen nie. Wel, as daar nie ’n positiewe resultaat gaan uitkom nie, is jy nie besig om jou Godgegewe burgerlike verantwoordelikheid na te kom nie.
Ons as kerk van die Here kom voor die uitdaging te staan om ook ons verantwoordelikheid in die groter geheel van ons leefwêreld raak te sien. Dink net aan die impak wat die kerk destyds in Stilfontein gemaak het toe mynwerkers hul werk verloor het. Hoe die kerk gehelp het tydens die Knysna-brande, die hulp tydens 2020 se vyf weke van inperking. Gemeentes moet hierdie geleenthede raaksien en ’n verskil maak, want ons as gemeentes leef nie in ’n vakuum nie, maar in hierdie wêreld. Daarom moet ons onsself die heeltyd afvra wat ons kan, mag en behoort te doen om ’n verskil te maak.
(Ds Willem Sauer is leraar in Waterberg, en redakteur van Die Hervormer)
