Scary! Erg scary! Dis die antwoord van ’n eerstejaar op my vraag hoe sy voel oor die vooruitsig van ’n splinternuwe jaar vol uitdagings. Haar woorde som die algemene gevoel van ’n eerstejaar op.
Die verandering van ’n veilige ouerhuis en matriekjaar na ’n nuwe lewe vol onsekerheid is inderdaad scary. Dis ’n splinternuwe lewe vol uitdagings en enorme aanpassings. Nuwe vriende moet gemaak word, ’n nuwe omgewing moet verken en die bekende word, ’n nuwe ritme moet aangeleer word. In hierdie scary onbekende is die Kerk ’n veilige hawe, ’n plek waar ’n verwarde eerstejaar kan vasmeer en vir ’n rukkie kan asem skep. ’n Studentegemeente is by uitstek ’n gemeenskap waar mense veilig voel en, hoewel tydelik, die liefde en deernis van die Here kan ervaar.
Koinonia, gemeenskap. Dis ’n woord wat baie in die Kerk gebruik word, maar verstaan ons nog wat opregte gemeenskap is? ’n Studentegemeente is veral ’n voorbeeld van die uitleef van koinonia. Al wil ons nie altyd ’n gemeenskap wees nie, al verskil ons van mekaar, is gelowiges een. Eenheid weerspieël die wese van God. Ons besit ook nie die geskenk van gemeenskap nie. Ons álmal ontvang hierdie geskenk, uit genade alléén, van God. Hierdie geskenk leer ons om mekaar te omarm, want die kerk behoort nie aan ons nie. Ons behoort aan Christus. Ons is die liggaam van Christus. Ons het ook nie alleenreg op die geskenk van gemeenskap nie. Ons déél hierdie geskenk met ander. ’n Gemeenskap van heiliges – ’n veilige hawe waar ek vir ’n rukkie kan vasmeer en veilig kan voel. Dis ’n plek waar ek ’n grootmens word, vaardighede leer om die lewe te hanteer, en my gedagtes kan bons met mense wat verstaan. Mense wat in dieselfde bootjie as ek is en my kan help om my bootjie in die vaarwater van die lewe te kan stuur.
’n Studentegemeente fokus baie op koinonia, maar iewers in die veilige hawe leer ’n student ook om diensbaar te wees en wyer te kyk as die grense van sy of haar eie klein wêreldjie. ’n Broodaksie, ’n Rata-kamp of ’n sopkombuis dwing jou om so ’n bietjie uit jou eie gemaksone te beweeg, met ’n vreemdeling te gesels en te gee sonder om terug te verwag. Jy word blootgestel aan die seer en stukkend van die wêreld. Jy leer dat die wêreld groter is as jou eie behoeftes.
Het die Kerk ’n rol om te speel in jongmense se lewens? Beslis! Die Kerk is ’n gemeenskap wat omarm en ’n veilige ruimte skep. ’n Asemskep-ruimte in ’n wêreld vol uitdagings, werkopdragte, take, eksamens, onsekerhede en nuwe belewenisse.
As studenteleraar wonder ek ook baie oor die rol wat ons moet speel in die lewens van jongmense wat tydelik by ons gemeentes vasmeer. ’n Opmerking van ’n jong student het my laat dink. Sy het my aan haar ma voorgestel met dié woorde: Ma, ontmoet my Pretoria-ma! Dalk doen ons, te midde van ons eie vrae van hoe en waar en wat nou, tog somtyds iets reg…