Daar het ’n ander perd, ’n vuurrooie, uitgegaan. Aan sy ruiter is opdrag gegee om die vrede van die aarde af weg te neem, sodat die mense mekaar sal uitmoor. ’n Groot swaard is aan hom gegee (Op 6: 4, AFR83).

So lui die teks vir ’n preek van dr HCM Fourie wat op ’n biddag, 6 September 1914, in Pretoria gelewer is en enkele dae later op 15 September 1914 in De Hervormer gepubliseer is.

Dit was nie die eerste maal dat die Kerk en haar lidmate in oorlog gedompel is nie. Dr Fourie was as jong man ‘n getuie van die geweld van die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902), van die prys daarvan op die slagveld, die konsentrasiekampe en wat vandag bekend is as post-traumatiese stres en intergenerasie trauma soos psigohistorici dit beskryf.

In dié tydperk van dr Fourie se preek, het die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) met mening losgebars en die mens en die wêreld in ellende gedompel. Op bladsy 8 van De Hervormer klink vrae op wat deur die eeue gevra is en steeds gevra word: Ons moet rekenskap gee. Hoe staan ons teenoor oorlog, in besonder teenoor hierdie oorlog?

Vroeër het menings en verklarings die lig gesien. Ds Jac van Belkum skryf in Augustus 1914 na aanleiding van Psalm 146 Vertrouwt nie op Prinsen  dat mense onbetroubaar is, ooreenkomste verbreek word, beloftes nagelaat word. Die mens is onbetroubaar. Vir die kinders van God is daar ’n ander rotsbodem. Die Here stel nie teleur nie, Hy is ons toevlug. 

Die Kerk, so skryf ds LE Brandt, is wakende en biddende voor God, en hierop volg dr Fourie se uitspraak: Oorlog is ’n ramp, ’n godsoordeel en loutering. Ons glo dat ook dit is nie buite God se raad en wil nie en hierop dui tekste uit die Ou en Nuwe Testament.

Die Kerk moes lidmate help om die oorlog te verstaan, om weer sin en samehang te skep, want van die gevolge van oorlog is dat die samelewing uitmekaar skeur, geestelik leeg word en die mens stroop van hoop en betekenis. Die Kerk moes wakende en biddende wees, trou bly aan haar wese en roeping want oorlog verideologiseer die lewe, selfs die Woord van God.

Prof HP Wolmarans skryf in Die Hervormer van 25 Oktober 1939 na aanleiding van ’n vraag deur ’n lidmaat, hierdie keer oor die Tweede wêreldoorlog (1939-1945): Moet die kerk hom oor neutraliteit ten opsigte van die Europese oorlog uitspreek of nie? 

Die antwoord is afhanklik van ons kerkbegrip, ons verstaan van die kerk en die verhouding tussen die kerk en die staat, antwoord ons Kerk se hoogleraar. As die kerk slegs ’n menslike instelling is, iets wat in diens van die volk en haar karakter is, wat afhanklik is van en haar krag put uit die lede daarvan, sal die kerk haar altyd uitspreek ten gunste van oorlog.

So ’n kerk sal die regverdigheid van God ook net dan erken as Hy die oorwinning aan die eie volk gee. Dit was ook die voorstelling van die heidense volke rondom Israel, wie se gode niks meer was nie as dienaars van die volk. (Die Hervormer, Jaargang XXVIII, no. 56).

En die kerk wat haarself sien as die liggaam van Christus op aarde, keur elke vorm van oorlog in beginsel af: Die wat na die swaard gryp, sal deur die swaard vergaan, voeg Wolmarans toe. 

Dit is nóg die kerk se taak om die owerheid of staat aan te por om oorlog te voer, nóg haar uit te spreek oor neutraliteit of regverdiging daarvan. Die Kerk het ’n ander taak, ’n ander roeping. 

Die Switserse teoloog Karl Barth het rekenskap van hierdie roeping gegee. Ses jaar voor prof HP Wolmarans se artikel, sien die publikasie Theologische Existenz heute! in 1933 die lig. Die eerste fluisteringe van die nasionaal-sosialisme het geklink, hierop volg die Tweede Wêreldoorlog en tussen die twee wêreldoorloë en daarna baar Karl Marx se Das Kapital die kommunisme met sy bloedspoor.

Oor sekere sake is die kerk eenstemmig, sê Barth. Daar is geen dringender eis in die ganse wêreld as dit wat God se Woord stel nie: Hierdie Woord moet verkondig en gehoor word

Daar is ook instemming dat die Woord van God alles wat teen dit staan, uit die weg ruim, dat dit oor ons en alle opponente sal triomfeer, omdat dit reeds vir ons en ter wille van ons oor alle teenstanders getriomfeer het, want die Woord is gekruisig, het gesterf, is begrawe en op die derde dag opgewek is en sit aan die regterhand van God.

Die einde van die Tweede Wêreldoorlog het ’n nuwe stryd ingelui. Dit was die begin van die Koue Oorlog tussen Westerse magte en Sowjet-Rusland en uiteindelik die botsings tussen beskawings, aldus die historikus Samuel P Huntington in Clash of Civilizations. 

Vir Suid-Afrika en die Kerk het die Slag van Ongulumbashe in 1966 die begin van die Grensoorlog (1966-1989) aangedui. Dit was ’n konflik wat bykans ’n kwarteeu sou duur. 

Nie net die opkoms van bevrydingsbewegings, dekolonisasie van Afrika en die impak van die Koue Oorlog het in die lewe van lidmate ingegryp nie, maar terreur soos deur Anthea Jeffery in die People’s War (2009) beskryf word, het bygedra tot onsekerheid en ’n verdeelde samelewing – ’n samelewing in die greep van geweld, verwyte en haat.

In hierdie dae moes die Kerk vrae probeer antwoord soos in Die Hervormer van Januarie 1975: Is Christus ’n voorstander van geweld?

In die daaropvolgende uitgawes word gevra na Frelimo en die dekolonisering van Afrika, Die Kerk en Rewolusie, Die Christen en oorlog, Die Kerk en Nasionale diensplig en Die Angola-vlugteling drama.

Ook in hierdie berigte skenk die Kerk se predikante aandag aan wat die Kerk se standpunt teenoor oorlog is.

Toe is geluister na die kerkvader Augustinus wat met Aristoteles en Cicero poog om oorlog te temper, om te vra na wanneer is ’n oorlog geregverdig; of al eerder te luister na Tertullianus en Origenes, die kerk voor Konstantyn, wat enige bloedvergieting veroordeel. By die kleinseun van ’n Pruisiese predikant, Carl von Clausewitz klink die oortuiging dat die brutaliteit van oorlog aan bande gelê kan word, om waar diplomasie en onderhandeling misluk, met oorlogreëls en krygswet oorlog te tem, oorlogsmisdade te vervolg of om, soos die filosoof Hannah Arendt, die futiliteit van oorlog uit te wys en vergifnis na te streef.

In 2025 en 2026 woed ’n oorlog tussen die Staat Israel en die Palestynse beweging, Hamas. In hierdie dae brei die oorlog uit – die VSA en Iran is ook nou op die slagveld. Dié keer lyk dit, soos Ernest Becker dit in sy werke The Denial of Death en Escape from Evil verklaar, na ’n botsing van sinstrukture, ’n botsing tussen werklikheidsbeskouings, die vrees vir die dood en betekenisloosheid daarvan.

Die oorsaak en die regverdiging is in die hande van politici, ekonome en sosioloë. Wat eie en besonders aan hierdie oorlog is, berus by staatsmanne en historici en dit blyk, soos in die verlede, dat oorlog uiteenlopend begryp, beleef en geregverdig word.

Die kerk se roeping bly steeds om trou te wees aan die Hoof en Heer van kerk en wêreld; deur gehoorsaam na die Woord te luister en belydend te verkondig.

Die Woord van God wat in die Heilige Skrif na ons kom, verseker ons dat Jesus Christus deur sy kruis en opstanding, hoop en sin gee in ’n gefragmenteerde, verskeurde wêreld.

(Dr Christo Pretorius is leraar by Gemeente Pretoria en dosent by die Hervormde Teologiese Kollege)

 

(Die standpunte in die teks is die mening van die skrywer en is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)