Sit ek en twee pastore toe by die Lapa aan’t filosofeer, met koek en boeretroos vir ontbyt. Gewoonlik is ons ’n hele spannetjie leraars, want in die Laeveld groei alles, selfs die kerk; helaas, nie in grootte nie, maar in verskeidenheid. Ons is ’n ekumeniese paradys van al die gewone denominasies en ’n duisternis huiskerke wat soos paddastoele in die trope gedy, die meeste van hulle nuutskeppings wat aan saam met en soos die kerk geen erg het nie, en ook na niks bekends lyk nie. Dog, gewyd geroepe na die goddelose “Hoed” (plaaslik vir Hoedspruit) toe, want hul harte is in beroering gebring oor die dringende bekeringsnood alhier.
Dié twee pastore is eerbare manne. (Ja, hier is dominees en alle dergelike wesens nog net mans.) Hulle het die verskeurdheid geërf, nie veroorsaak nie. Hul geloof is nie onder verdenking nie; wel ánders, maar nie dodelik bedwaald nie. Hulle getuig van eerlike worsteling, nes ek ook maar, dog (vir my gevoel) oor middelmatige goed. Nietemin, hulle en hul twee gemeentes se eie uitdaging om met God en mekaar saamgeleef te kry, gee eenderse moeilikheid af as ons sʼn. Ons kon mekaar destyds glo net nie meer genoegsaam verdra om dié uitdagings saam aan te pak nie.
Bekering is toe nie wat dié platteland wou hê nie, skeuring wel. Hier is afskeiding ’n deug: Liefs skeuring voor bekering. Trouens, skeuring ís bekering!
Skeuring slaag hier, op klein skaal maar meervoudig, sonder die nodigheid van hogere teologiese geskille oor belydenis. Want om saam met en soos die kerk te bely, is glo “uitgediende kerkwees”. Dié kerke wat tóg nog iewers anders geaffilieer bly, verdoesel dit. Sies! sê hulle vir alle binding aan belydenis. Maar skeuring verloop vreeslik ordentlik: Net ’n enkele storie oor ’n grief teen die kerk van oorsprong, is al wat skeuring verg.
As jy ons almal hier nou bymekaar sou tel, soos krummels van ’n koek, sal jy by naastenby die volronde dubbellaagspons uitkom wat die kerk eens was, nie 12 mandjies vol meer nie. Dieselfde koek is nou al so dun gesny dat skaars ’n nagmaalproetjie vir elkeen oorbly, geeneen op sy eie ’n maaltyd wat jou vol hou nie.
Gróót is ons nie meer nie. In die stad was (is dalk nóú nog?) groot ook góéd: groot en indrukwekkende kerksentrums, stadions, skares en grootse meesleurende eredienste.
Kleiner is hier by ons beter, sê selfs dié wat in die stad groot gaan as dit hulle pas. Hulle pas goed hier aan. Reis lig! Los die padkos, die ekstra baadjie en skoene, geboue met torings, pastorieë en professionele predikante. Kerk-lite. Ek hoor jou, Lukas. Ek hoor jy skud (ons) stof van jou voete af. Maar nêrens lees ek dat jy die belydenis ook maar agterlaat nie, ook nie wrokke nie. Ek hoor ons moet kragte saamsnoer, beursies en bagasie. Verkoop jou klere vir ’n swaard! Want die Een van wie ons getuig en bely dat Hy die Here is, word algemeen ’n misdadiger gereken. Ons wat Hom volg, dus noodwendig ook.
Daarom verg kerk geloof. Geloof word bely.
En daarom versoen gelowiges in die strydende kerk.
Die Drie Susters is nog hier, sukkelend, aldrie nog net gedeeltelik versorgd bedien. Wat gebeur in die Kerk dat ons daarvan wil wegkom? wil ek weet. Selfs net 100 belydendes is hier by ons al ’n groot gemeente, groot genoeg vir die gewone binnegevegte.
Maar waarom op aarde ons wat glo die swaard teen mekaar opneem, verdeel en heers, gaan my verstand te bowe.
Paddastoele gedy op warm plekke.
Illustrasie: Tekening van Beverly Shipko http://www.beverlyshipko.com/beverly-shipko-last-piece-chocolate-cake-16-x-20-inches-img_0470/
Daar is niks fout by die kerk of kerke nie die foute lê by ons die lidmate wat alewig nie die son oor ander gun skyn nie. My beskeie mening is dat die liefdes gebod nie onderhou word en ook nie aktief uitgeleef word nie. My uitdaging aan almal is daar moet meer liefde onder ons wees, minder haat, meer luister en minder praat.
Ds Hennie la Grange antwoord:
Ek dink ook so, Arrie. Ongelukkig, ne, is ons, die mense en lidmate van die kerk, ook almal saam die kerk. So word ons sonde die kerk se probleem. Maar dis n probleem wat ons kan help oplos. Ons kan n verskil maak.
Kan dit wees dat die manier waarop ons kerkwees pleeg en dit wat ons bely en doen nie altyd so duidelik herkenbaar is in die Bybel en in Christus se optrede nie? Elkeen glo hy het die totale waarheid beet en verketter dan die res; so vervreem ons mekaar en raak ons opponente – is jou kerk nie meer my kerk nie – glo ek nie soos jy nie, en moet jy amper soos ‘n Servetus brandstapel toe, met groen hout en al!
Het dit nie tyd geword (dalk nou al te laat) om al die ou geskrifte, gebruike en gewoontetjies wat ons afgrens in die spreekwoordelike Dooie see te gooi en opnuut Jesus Christus as die gekruisigde te verkondig (sonder al die ou mensuitgedinkte interpretasies) nie? En of iemand nou groot doop of klein doop of glad nie doop, uit ‘n beker of ‘n kelkie wyn drink, of waarookal en waarmee ookal ons verskil, kan ons nie begin om saam die gekruisigde Jesus te verkondig, om Jesus te leef, Sy hande en voete te wees en ander s’n te was nie? Solank hy/sy in Jesus Christus glo as sy/haar verlosser is hy/sy my broer of suster in die geloof en deel van die liggaam van Christus en kan ons saam die Here ons God liefhê met ons hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en met al ons krag. En ons naaste soos onsself!
Ds Hennie la Grange antwoord:
Jy het reg, Anton, dat ons lewe by ons geloof moet pas, so nie lieg ons oor wat ons glo. Daar is baie te sê vir meer begrip van ander kerkkulture en christelike geloofstradisies, en selfs vir viering van ons verskillende aksente: Ons is immers een liggaam van Christus! Die probleem is dat ons almal die Skrif interpreteer, en ons is, almal van ons, mense. Alles wat jy hierbo as vanselfsprekend aanvaar, het ook jy van jou leermeesters ontvang, van wie jy ookal kies om te leer, en hulle het dit vir jou so, soos jy dit nou glo, ingekleur: Dat Jesus wat in Nasaret gebly en n misdadiger gesterf het, ook die “Christus” is, soos jy (en ek ook) Hom noem; wat dit inhou om “die gekruisigde Jesus te verkondig”; hoe om “Jesus te leef, Sy hande en voete te wees. . .” Oor elkeen van hierdie goed verskil mense van jou/ons, en noem hulleself steeds kerk. Alles is interpretasie. Dat jy n kampvegter is vir kerklike (of te wel geloofs-) eenheid en diens aan God, daarmee is ek dit met jou roerend eens.
As kerk van die reformasie is ons eerste taak tog sekerlik om voortdurend te reformeer en nie alles wat Calvyn en sy wegbrekers kwytgeraak het as soetkoek op te vreet nie. Gelowiges wat erns maak met God en sy Woord het van vroeg al met Calvyn en sy nalopers verskil. Na 500 jaar klou die drie susters nog halsstarrig vas aan Calvyn se teologie en weier om te reformeer maar is kwaad wanneer andersdenkendes die kerk “skeur” – so asof hulle moreel verplig is om aan te bly in ‘n kerk met wie se belydenis hulle verskil. Die feit dat die drie susters alle andersdenkendes deur die jare verketter het (soos Luther en Calvyn trouens met mekaar ook gedoen het), het ook nie daartoe bygedra dat skeurings tot goeie wedersydse verhoudings bygedra het nie.
Ons sê: sola scriptura, maar bedoel eintlik: Calvyn se interpretasie daarvan.
Reformata et semper reformanda, anders gaan daar net krummels van die koek oorbly!
Ds Hennie la Grange antwoord:
Jy het natuurlik reg, Anton. Ons is Hervormend, eerder as Hervormd.
Dog, die stelling dat ons “halsstarrig vas[hou] aan Calvyn se teologie en weier om te reformeer” dink ek nie neem in ag wat alles al sedert die Hervorming en ook in die Hervormde Kerk se teologie gebeur het nie. Ons Hervormers glo egter steeds in “een algemene christelike kerk”, en daardie eenheid bestaan in wat ons en ander van God die Vader, Seun en Gees glo. Sulke geloof verg bekering, nie skeuring nie.