Na aanleiding van dr André Ungerer en adv Joël Fourie se skrywes in Die Hervormer van April 2022 oor waarom besluit is om te appelleer teen die hofuitspraak, wil ons graag ’n ander kant van dié netelige saak stel.

Eerstens, ons dank en waardering aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering wat toegewyd die sake van die Kerk bestuur in ’n baie uitdagende tyd.

Alles in die geloof is vrywillig. Om by ’n gemeente aan te sluit of om die gemeente te verlaat, is altyd vrywillig en sonder enige regsimplikasies. Jesus self het ook nooit enige een gedwing om in Hom te glo of by Hom te bly nie.

In die Hervormde Kerk is dit ook wat ons verkondig binne die Reformatoriese tradisie: Ons is vrygemaak van die wet. Geloof alleen, genade alleen en God se Woord alleen. En ons waarsku ons lidmate gereeld in ons prediking teen die gevaar van wettisisme.

Die wegbreek van die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes (GHG) was vir die NHKA traumaties en dat dit as liefdeloos beleef is, veral deur gemeentes wat direk daardeur geraak is, ly geen twyfel nie. Intussen het baie water in die see geloop, wat ’n nuwe perspektief op die gebeure bring.

Om van kettery beskuldig te word, maak seer. Ons verskil van die GHG dat ons as NHKA Christus se opstanding met Besluit 54 van die 69ste AKV verloën het. Ons verskil egter ook van die redaksie van Die Hervormer dat dit steeds soos ’n swaard oor ons koppe is, dat ons as ketters verklaar is. Die wen of verloor van hierdie hofsaak gaan aan daardie beskuldiging van die GHG niks verander nie. Kom ons los daardie beslissing gerus vir God wat regverdig sal oordeel. En laat die Kerk se optrede getuig dat ons nie “ketters” is nie.

’n Appèl sal die NHKA help om eenheid te koester en te bewaar. Dit was die opskrif van dr Ungerer se artikel.

Ons verskil van die Kommissie van die AKV oor die wese en aard van eenheid. Eenheid kan nie bereik of afgedwing word deur ’n kerkordelike ordinansie nie. Dít is bloot organisatoriese eenheid.

Kerklike eenheid is ’n saak van die hart en gewete. Dit lê in eenderse en gemeenskaplike denke en belydenisse. In ons Kerk het die drie formuliere van eenheid daardie denke nog altyd verwoord en saamgevat.

Anders as met die waterskeiding Standertonsaak, toe daar eenheid was binne die NHKA, is dit ongelukkig nie die geval tans in die NHKA nie. Dis gewoon so dat sommige akademici in ons Kerk oor jare heen in hul Bybels-wetenskaplike kritiese denke soms uitsprake maak wat leraars en kerkrade ontstel. Onlangs, in die pandemie nog, het ons van ’n dosent gehoor dat Jesus waarskynlik nie self die Nagmaal ingestel het nie…

Kyk ons terug op besluite van die AKV die laaste klompie jare, hét die NHKA ’n verskuiwing in teologiese denke gehad, met besluite wat daartoe gelei het dat sommige sukkel om dit met die Bybelse leer te versoen. Meningsverskille oor Skrifverstaan is gewoon ’n werklikheid. Die moontlikheid bestaan dat hierdie soort uitsprake en besluite oor kernsake op die lang duur verdeeldheid kan, en sal bring.

Die hofsaak teen die GHG was, na ons mening, nooit die Bybelse weg nie. En om nou, ná ons die saak verloor het, te appelleer, ook nie.

Trouens, so ’n mening dat die hof in ons guns móét beslis, stuur nie ’n boodskap uit dat God self sy kerk in stand hou, wat ons so dikwels van die kansels af verkondig nie.

Voorts het ’n kerkwet of kerkorde, na ons mening, beperkte waarde en gesag. Dis nie landsbeleid of die Grondwet nie. Dit het waarde alleen vir hulle wat deel is en steeds wil wees van ’n kerk of gemeente. Ons moet daarteen waak dat ons selektief wetties optree deur net sekere ordinansies daarin te wil afdwing.

Die Reformed Church in America (RCA) beleef tans ’n skeuring as gevolg van verskille oor Bybelse denke. Vir diegene wat wegbreek, kos dit ’n jaar se heffings, en alle agterstallige gemeenteskuld moet vereffen word. Die eiendom word dan geregistreer in die plaaslike gemeente se naam. Hulle verwys daarna as “Separation in Grace”. Alhoewel sekerlik pynlik, is dit dalk die Bybelse weg van vrywillige deelname of wegbreek van die kerk?

Wat wen ons regtig as ons die appèlsaak wen? Sal die “gees van fragmentasie” daarmee verdwyn en eenheid weer herstel wees? Het “geregtigheid” dan geskied?

Dit sal ’n treurige dag wees as ons primêr ons kerklike eenheid moet skoei op en bewaar deur middel van ’n kerkordelike reëling. In praktyk beteken dit dat gemeentes wie se lidmate verloën en vervreemd voel van hul Kerk as gevolg van besluite, dan hul gemeentes kan en sal verlaat. Die kerkgebou sal egter steeds aan die NHKA behoort tot die laaste lidmaat besluit het om die kerk te verlaat… Hierdie scenario herinner sterk aan die praktyke waarvan die Roomse Kerk in die geskiedenis al beskuldig is.

Die laaste tien jaar was ’n droewige hoofstuk in die NHKA. Vier advokate, oor die R3 miljoen rand in regskoste later en ’n hofsaak wat verloor is. Ons grootste verlies is dalk egter die beeld van die Kerk…

Dus, as dit in dié saak, soos die skrywe van die Kommissie van die AKV lui, ten diepste gaan oor die eenheid van die Kerk en nie oor kerkgeboue nie, wil ons, as predikante van die ring van Krokodilrivier, versoek dat die Kommissie van die AKV die appèlsaak terugtrek. Kom ons gooi die juk van die hofsaak van ons nek af en begrawe die strydbyle met die GHG. Dit sal meer voordelig wees as ons besluit om aan te beweeg, te vergewe en proaktief in ons geloof te beweeg, verlore siele te bedien en te fokus op suiwer Bybelse Woordverkondiging.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap