Reg deur die Bybel lees ons van mense wat bymekaar kom en saam eet. Jesus gee aan baie mense kos, maar Hy eet ook saam. Sekerlik die bekendste ete is die maaltyd wat Jesus saam met sy dissipels genuttig het net voor sy kruisiging. En ons lees in Lukas 22: 15 dat Jesus daarna uitgesien het om hierdie maaltyd saam met die dissipels te eet. Eet en samesyn is ’n belangrike tema reg deur die Bybel.

Van my kosbaarste herinneringe het iewers ’n etenstafel in. Dis amper deel van die Suid-Afrikaanse tradisie om geleenthede met kos en om die etenstafel te vier. Om ’n etenstafel word daar stories vertel, saam gelag en gehuil en soms geredeneer oor die sake van die wêreld. Toekomsplanne word gemaak en drome word gedroom.

Ek kan byvoorbeeld presies onthou wat ons geëet het met my 21ste verjaardag en wie die tafel met my gedeel het. Talle Kersfeeste is saam met familie om ’n tafel gevier. Verjaardae, huweliksherdenkings en ander spesiale geleenthede word om ’n tafel herdenk. Nuwe herinneringe word gemaak en ou herinneringe word weer opgeroep as ons saam met geliefdes om ’n tafel sit. My laaste herinnering saam met my oupa aan vaderskant is aan sy groot etenstafel op die plaas, en om daardie selfde tafel kan ons nou ons herinneringe van hom met mekaar deel. Ek sal nooit vergeet hoe Oupa sy tafelgebed met ’n baie sagte amen afgesluit het nie, so sag dat jy amper skelm moes loer om seker te maak hy is klaar.

Maar daar is een ete en etenstafel wat ek in my lewe nooit sal vergeet nie, en dit was die eerste keer toe ek die voorreg gehad het om by die Nagmaaltafel te kon aansit. Ek was nog nooit weer so op my senuwees om by ’n tafel te gaan aansit nie. Dit was een van die grootste voorregte om daardie Sondag saam met my ouers en mense voor wie ek grootgeword het by die tafel van die Here te kon aansit. Om saam met my broers en susters in die geloof deel te kon hê aan die Brood wat lewe gee. Dit is ’n etenstafel wat ek vir altyd sal onthou.

Dit is juis daarom dat dit vir my hartseer is dat dit lyk of Nagmaal deesdae nie meer bo aan die kerkganger se prioriteitslys is nie. Ek ervaar dit ongelukkig dat dit ’n erediens is wat nie baie goed bygewoon word nie. Toe ek jonk was, het dit altyd vir my gevoel of Nagmaaleredienste ure lank was omdat daar so baie mense was wat by die tafel gaan aansit het. Deesdae is dit net nie meer so nie.

Is dit net ek wat dit ervaar?

Dit is wel vandag vir my die grootste voorreg om die Nagmaal te kan bedien, of ons ’n hele kerkgebou vol mense is of net ’n handjie vol. Om die Vrydag voor die tyd die tafel te kan dek vir hierdie besondere ete waarby ons die voorreg het om te mag aansit. Om die brood te breek en die wyn te skink vir elke gelowige wat weet dat Jesus ook vir hulle gesterf het. En om self weer elke keer daardie gemeenskap te ervaar, ’n familie wat saam eet met ons Vader as ons Gasheer.

Die Nagmaal is waar ons bymekaar kom om weer eens herinner te word aan dit wat Jesus vir elkeen van ons gedoen het. En om dan ook met die opstaan uit die bank daardie herinnering en belydenis met ander te deel.

af
af
Deel met behulp van
Copy link