Is konsolidasie ’n vloekwoord? Wat beteken sinergie? Kan dit werk?

Die rigtinggewende eerste besluit van die 72ste Algemene Kerkvergadering (AKV) roep alle gemeentes, ringskommissies en sinodale strukture op om deurlopend sinergie na te streef en die Kerk se werk op alle vlakke te konsolideer en te optimaliseer. Maar beteken konsolidasie eintlik dat ons gemeentes sommer net “toemaak”? En maak gemeentes se pogings om saam te werk regtig energie los, of laat dit net die vonke spat?

Dikwels lei pogings tot konsolidasie tot konfrontasie, en pogings tot sinergie dreineer net ons energie. Mense voel hulle word nie in gesprekke geken nie en verdink mekaar van duistere motiewe. Elke gemeente beskerm eintlik maar net hul eie belange of dié van hul predikant. Daar word maklik gesê dié predikant is net agter geld aan of júlle gemeente verwag van óns gemeente om julle sinkende skip te kom red.

Dis ontstellend wanneer gelowiges so van mekaar praat! Sulke praatjies lê gou op straat rond en strek die Here en sy kerk net tot skande.

Tog laat die werklikheid ons nie veel keuses nie. Weens die skielike skerp daling in ons geboortesyfer 30 jaar gelede, hou ons lidmaattalle steeds aan met daal, word ons gemeentes se werkkragte net ouer en minder, en kom ons finansies al meer onder druk. Die Hervormde Kerk het tans minder as die helfte van die hoeveelheid lidmate van 30 jaar gelede, maar ons het amper ewe veel gemeentes en kerkgeboue.

Die gevolg is dat ons onsself te dun op die brood smeer: Daar is al meer deeltydse predikante wat in kwynende gemeentes ’n sukkelbestaan voer en al minder bekwame en energieke kerkraadslede, skribas en kassiere, kategete en susters. Ja, en al minder kinders in elke klein gemeentetjie se kategeseklasse. Terwyl ons kerkgeboue – wat eens vir ons ’n groot bate was – al meer ’n las word weens hoë onderhoudskoste, munisipale rekenings, tuindienste, sekuriteit, versekering en dies meer.

Daarom moet ons nuut dink. Ons kan nie uitgaan van die gemeentes en kerkgeboue wat ons opgerig het nie; ons moet  begin deur ernstig na te dink oor ons roeping! Hoekom het die Here ons hier bymekaargebring, en wat wil Hy hê dat ons in ons omgewing doen? Hoe kan ons dít die beste doen? Hoe kan ons die gawes wat die Here aan ons gegee het – mense en stoflike middele – die beste benut om te doen wat die Here van ons vra? As ons saam hieroor praat, kan ons ons kragte saamsnoer en konstruktiewe nuwe energie loslaat.

’n Aantal gemeentes het dit reeds in die vorige AKV se termyn (2016-2019) begin doen. In sommige gevalle is die proses van konsolidasie reeds ver gevorder of selfs afgehandel, in ander gevalle is dit steeds aan die gang.

Gemeentes Primrose en Primrose-Oos het reeds in 2018 volledig saamgesmelt. Weens die vermindering en veroudering van lidmate en die verandering van die omgewing, moes Primrose noodgedwonge vra dat hul predikant van die gemeente losgemaak word, en het hulle ’n kombinasieooreenkoms met Primrose-Oos aangegaan terwyl hulle onder leiding van die ringskommissie begin het om ’n bedieningsplan vir drie jaar op te stel. ’n Inbraak in die kerk wat groot skade veroorsaak het, het egter die moontlikheid van volledige samesmelting tussen die twee gemeentes op die tafel geplaas. Terwyl daar uiteraard lidmate was wat dekades lank lidmate van die gemeente was en groot sentiment oor die gemeente gehad het, was daar uiteindelik egter geen skerp teenkanting meer teen ’n samesmelting nie.

Nadat die besluit geneem is om saam te smelt, is Primrose se kerkgebou aan ’n ander denominasie verkoop en het omtrent 70% van die aktiewe lidmate van Primrose by Primrose-Oos ingeskakel. In die proses is die nuwe kerkraad geseën met ervare ampsdraers, en is die talente van die twee gemeentes se lidmate gekombineer.

Die nuwe gemeente het ook heelwat ander dinge van Primrose oorgeneem. Die as van lidmate in Primrose se gedenkmuur is oorgeplaas na Primrose-Oos. Primrose se doopvont en kanselstoel word nou in Primrose-Oos gebruik. Die foto’s van Primrose hang nou in Primrose-Oos se gebou.

Met die laaste erediens en Nagmaal in die kerkgebou van Gemeente Primrose was die kerkgebou stampvol met lidmate uit albei gemeentes. Na afloop van die erediens is die Kanselbybel aan die skriba van Gemeente Primrose-Oos oorhandig om daarmee aan te dui dat die verkondiging van die Woord in die verenigde gemeente voortgaan. Een van Primrose se oudlidmate skryf die week daarna in Blitspos: Soms is dit nodig vir verandering om beter te word en beter dinge te doen

’n Entjie verder aan die Oos-Rand het Gemeentes Springs en Springs-Noord reeds in 2016 saamgesmelt. Ook hier was lidmaattalle en kwynende inkomste die groot dryfvere agter die samesmelting. Die gesprek tussen die twee gemeentes het aan die einde van 2015 begin en is reeds in 2016 onder leiding van die ringskommissie deurgevoer. Nadat albei gemeentes kerkraadsvergaderings en gemeentevergaderings gehou het, is daar ooreengekom om Springs se kerkgebou (wat nie meer goed geleë was nie) te verkoop en het die samesmelting maklik en met weinig weerstand verloop.

Maar, hoewel die verenigde gemeente nou getalsgewys en finansieel sterker was, het baie van die lidmate nog nie die geleentheid gehad om die pynlike verliese en aanpassings wat noodwendig saam met so ’n samesmelting gaan, te verwerk nie. Aan die een kant moes party lidmate die verlies van ’n kerkgebou wat verkoop is, verwerk. Aan die ander kant moes party lidmate weer hul Sondagroetine aanpas by veranderde eredienstye. ’n Tydperk van rou en aanpassing is inherent deel van ’n samesmelting. Dit het ’n tydjie gevat voordat die lidmate van die nuwe gemeente mekaar kon leer ken en vertrou, voordat hulle bande met mekaar kon smee en kon saamwerk aan ’n gemeenskaplike doel.

Nog iets wat die proses uitgewys het, is dat ’n samesmelting ook die ander gemeentes in die ring en selfs aangrensende ringe raak. ’n Hele paar van die ander gemeentes in die ring het ook reeds samewerkingsooreenkomste gesluit of is steeds met mekaar in gesprek. Daarom is dit belangrik dat gesprekke oor konsolidasie van die begin af nie net tussen twee gemeentes gevoer mag word nie, maar dat die ringskommissie ’n baie aktiewe rol moet speel om gemeentes te help onderskei wat die beste herskikking is om die Kerk se dienswerk oor die lang termyn volhoubaar voort te sit.

Daarteenoor het die proses van samewerking en konsolidasie tussen Gemeentes Pretoria en Wonderboom-Suid baie stadiger en versigtig verloop. Weens al die drastiese veranderings in hul omgewing het die kerkraad van Gemeente Pretoria reeds in 2016 met ’n proses van strategiese beplanning begin, met kundiges gesprek gevoer en scenario’s, prioriteite en aksiestappe geformuleer.

Die gemeente het besluit om vennootskappe te sluit om met ander gemeentes, veral in die Moot-area, saam te werk. So het die gemeente na verkennende gesprekke ’n ooreenkoms met Gemeente Philadelphia gesluit om Pretoria se administratiewe en finansiële bestuur oor te neem, en het Pretoria begin gesprek voer met ander gemeentes oor die geestelike bediening van die jeug en studente. Terselfdertyd het Gemeente Pretoria met die hulp van ds Arthur Ngwezi (MRCC) ’n eiesoortige bediening in die middestad gevestig.

Gesprekke tussen Pretoria en Wonderboom-Suid het in die tweede helfte van 2017 begin met informele koffiegesprekke tussen die onderskeie skribas en predikante. Daar is eerlik gesels oor die probleme en behoeftes van die twee gemeentes, oor elkeen se etos, die inrigting van die liturgie, hul roeping in die gemeenskap, die visie vir hul dienswerk, en oor hindernisse of bottelnekke wat uit die weg geruim moes word. Mettertyd het ’n klein groep ampsdraers uit die twee gemeentes begin skaaf aan gemeenskaplike doelwitte en ’n proses vir samewerking wat aan die kerkrade voorgelê kon word. Die klem was deurgaans om eerlike gesprek te voer, verhoudings te bou en gemeenskaplike doelwitte te formuleer.

Daar was ook ’n periode toe die proses ’n bietjie gerem moes word. Nadat Gemeente Pretoria hul kerkgebou verkoop het en ds David du Plessis as predikant van Wonderboom-Suid geëmeriteer het, moes albei gemeentes eers die gevoel van verlies verwerk. Eers daarna het die twee gemeentes daartoe oorgegaan om ’n gemeenskaplike kalender op te stel, kansels te ruil en saam Nagmaaletes te hou. Gereelde en effektiewe deel van inligting, en van mekaar weet, is die doel hiervan. Uiteindelik is ’n samewerkende kerkraad daargestel wat twee keer per jaar vergader, en is ’n formele samewerkingsooreenkoms opgestel wat aan die onderskeie gemeentevergaderings voorgehou is en aan die ringskommissies gekommunikeer is.

Volgens oudl Albertus Breytenbach, skriba van Wonderboom-Suid, was die sleutel om al die struikelblokke te oorkom goeie kommunikasie en versigtige implementering. Namate die gemeentes kon sien hoe die samewerking begin vorm aanneem, het daar ook ’n groter rustigheid gekom en gaan dit tans besonder goed in die gemeentes.

Op ’n vraag na die wins of verlies van die samewerking, antwoord hy dat daar – ten spyte van die verkoop van Pretoria se kerkgebou en die emeritaat van Wonderboom-Suid se predikant – nie werklik enige verlies was nie. Wonderboom-Suid kon alleenlik baat by ’n ooreenkoms wat die pastorale versorging van die gemeente volhoubaar voortsit en ander toekomsmoontlikhede rondom die bediening oopsluit. Verder wen Pretoria die geleentheid om weer haar voetspoor te hervestig as gemeente binne die groter gemeenskap.

Dis duidelik dat dit by ’n konsolidasieproses nie oor wen of verloor mag gaan nie, nie oor jul kerkgebou of ons predikant nie. Maar as ons rustig en eerlik met mekaar praat oor ons gemeenskaplike roeping en ons gedeelde waardes, as ons saam werk, dan wen almal. Nee, veel meer: Dan dien ons daadwerklik die Here waar Hy ons ook al roep!

(Dr Wouter van Wyk is sekretaris van die Kommissie van die AKV)

af
af
Deel met behulp van
Copy link