Dr Cobus Jansen van Nieuwenhuizen het die PhD-graad (Pastorale Studies) aan die einde van 2021 verwerf. Hierdie artikel (Deel 2) en die teks in die Januarie/Februarie 2022-uitgawe (Deel 1) is ’n verwerking van sy proefskrif.

Die proefskriftema was “Stilte, gebed en Lectio Divina: Kreatiewe hulpmiddele in die pastorale intervensieproses na trauma”. Vir die doel van die studie is Richard Osmer se kwalitatiewe literêre navorsingsmodel gebruik.

Trauma en die brein

Die impak van trauma op die brein van die individu is soortgelyk aan ’n harde hou teen die skedel. Trauma laat dus nie net emosionele en psigiese letsels nie, maar het ook neurologiese gevolge en beïnvloed ’n mens se totale funksionering, insluitende normale gedrag, gedagtes, emosies, lewenskwaliteit, beskouings, denkwyses, karakter, beweging, mediese en psigiese toestande, sosiale inskakeling, kognitiewe funksionering, en meer.

Trauma beïnvloed ook ’n mens se sensoriese en dikwels ook motoriese vaardighede: die tassintuig (gevoel), vestibulêre sisteme (gehoor en balans), en ander sensoriese vaardighede wat deel vorm van die neurologiese sisteem. Sensoriese vaardighede is die oor- en ooggetuies van wat ervaar word. Wat sensories ervaar word, het psigiese, fisiologiese, mediese en neurologiese gevolge en moet professioneel gediagnoseer en behandel word.

Trauma, die neurosisteem en kreatiewe laterale denke

Wanneer trauma plaasvind, beskadig en verbreek dit dikwels die neurologiese bande tussen die hemisfere van die linker- en regterbrein. Die linkerbrein gee logiese orde aan emosionele ervaringe en kreatiewe denkpatrone, terwyl die regterbrein emosie, kreatiwiteit, sensoriese vaardighede en sorg verskaf.

Kreatiewe laterale denke bevorder en stimuleer samewerking tussen die linker- en regterbrein en help om beskadigde bane tussen links en regs weer te herstel. Hierdie soort denke probeer ’n heelbreindimensie bevorder, wat bevorderlik is vir persoonlike ontwikkeling en groei in die algemeen, en baie nuttig is na trauma.

Trauma veroorsaak chaos in sekere dele van die brein, wat die hippokampus insluit. Die hippokampus berg gesonde normale geheue op georganiseerde wyse. Trauma word in die amigdala van die brein geberg, ongeorganiseerd. Trauma en die chaos wat heers in die amigdala, veroorsaak chaos in die hippokampus en by ander belangrike breinfunksies. Daarom kom slagoffers soms gedisoriënteerd voor, toon tekens van amnesie en funksioneer anders as hul natuurlike, normale self. Deur die chaos in die amigdala te stabiliseer, word normale funksionering bevorder.

Kreatiewe laterale denke in samewerking met die geloofsdissiplines wil die chaos met gesonde kennisinsette organiseer. Hierdie insette help om stabiliteit te bring en die slagoffer te bemagtig. Dit vorm deel van neuroplastisiteit. Die bestuur van die amigdala kan verhoed dat snellers so ’n groot impak op die individu het.

Kreatiewe laterale denke, neuroplastisiteit en die Bybel

Vanuit die navorsing is vasgestel dat die basiese vertrekpunte van die konsep plastisiteit grootliks met ’n aantal basiese Bybelse vertrekpunte ooreenstem en dat dit in wese daaroor gaan om nuut te vorm en nuut te skep. Neuroplastisiteit en kreatiewe denke beskryf gevolglik die brein se vermoë en vaardigheid om te verander, aan te pas, nuut te dink. Hierdie funksie het geen ouderdomsbeperking nie.

Rus, stilte, gebed en Lectio Divina (bepeinsende tyd met God se Woord), tesame met kreatiewe laterale denke, fasiliteer gevolglik ’n vormingsproses wat die brein bekendstel aan goeie kennis, gesonde denkpatrone en denkprosesse, en wat kan help om beskadigde neurone te herstel of nuwes te skep.

Neuroplastisiteit as kreatiewe modaliteit het gelei tot die gedagte dat neurosculpting binne die pastoraat aangewend kan word om die brein na trauma te herprogrammeer met feite en gesonde denkpatrone. Die brein is deur God so geskape dat dit kan aanpas, nuut kan dink en nuut kan skep. Die geloofsdissiplines van stilte, gebed, Lectio Divina en rus kan inderdaad skeppend en herskeppend tot hulp wees in die intervensieproses. Soos wat die Woord bestudeer word, tyd vir innerlike stilte ingeruim word en daar ook in gesprek met God (gebed) getree word, kry God die geleentheid om op bonatuurlike wyse wysheid en insig te fasiliteer, wat na heling kan lei. Dié dissiplines help om die brein te kalmeer en ’n meer kreatiewe funksionaliteit, veerkragtigheid en helderheid te ontwikkel.

Stilte as kreatiewe hulpmiddel

Stilte as geestelike dissipline impliseer ’n herskeppende praktyk om na God en die self, sonder onderbrekings, te kan luister. Stilte bied vryheid en die geleentheid om in God se rus in te gaan. Tydens so ’n proses begin God gewoonlik om die individu van die greep wat die wêreld op hom of haar het, los te maak. Dit is in wese ’n geestelike proses en mag nie meganies gemanipuleer word nie.

Stilte is ’n belangrike terapeutiese komponent, soos aangetoon in die pastorale gedeelte van die studie, en is ’n aktiewe, erkende, wetenskaplik gefundeerde en funksionele terapeutiese tegniek vanuit die geesteswetenskappe. Stilte kan egter wel konfronterend wees en kan by die slagoffer ’n vlug- of stolreaksie ontlok.

Gebed as kreatiewe hulpmiddel

Gebed is ’n kreatiewe hulpmiddel wat daartoe kan bydra dat die hoë spanningsvlakke van trauma gereguleer word. Die gevolg is gewoonlik verbeterde fokus, ’n groter mate van innerlike kalmte, en verskerping van die geheue weens die feit dat die brein gekalmeer het. Hoe meer die berader en beradene intiem met God in gebed verenig, hoe groter is die moontlikheid dat God skeppend tot die traumatiese episode kan toetree.

Gebed bevorder verder konstruktiewe gesprek, dit bring geestelike onderskeiding en dit bemagtig weldeurdagte strategieë op ’n produktiewe, skeppende en funksionele wyse. Stille gebed gee aan God die geleentheid om sy kinders as’t ware te “verpleeg”, te versorg en geestelik en emosioneel te vertroetel. Gebed as geloofdissipline begelei individue wat verwond en verwerp voel na ’n plek waar hulle besef hulle is nie alleen in hul lewenstryd nie en dat God hulle deur hierdie krisis sal begelei.

Gebed is ’n stuk gereedskap wat God aan die mens gegee het.

Lectio Divina as kreatiewe hulpmiddel

Lectio Divina is ’n antieke praktyk wat geskik is vir hedendaagse gebruik. Dit is ’n kreatiewe hulpmiddel wat die individu van God se teenwoordigheid bewus maak en bevestig dat Hy aktief deel is van die getraumatiseerde persoon se lewensverhaal. Terwyl die Skrif bestudeer word, fasiliteer God heling en herstel, en help Hy om die persoon te mobiliseer.

Die Skrifwoord speel vervolgens ’n uiters belangrike rol in die kreatiewe laterale intervensieproses na trauma en sluit as proses baie nou aan by Richard Osmer se pastorale benadering en by Edward de Bono se kreatiewe laterale denke. Gebed en stilte vorm saam met die Woord van God ’n skeppende krag, terwyl dit ook beweging en aksie onder die leiding van God die Heilige Gees inisieer.

Lectio Divina beklemtoon tradisioneel en histories die volgende vier basiese stappe: lees (lectio), reflekteer (meditatio), reageer (oratio), en rus (contemplatio). In aansluiting by die konsep van kreatiewe denke, voeg Jan Johnson twee stappe by, naamlik stilte (silencio) en die neem van aksie (incarnatio).

Stilte, gebed, Lectio Divina en aanverwante wetenskappe

Wat die pastorale begeleiding van traumaslagoffers betref, het dit geblyk dat gefokusde geestelike bepeinsing ’n besonder positiewe uitwerking op slagoffers se algemene funksionering en herstel na trauma het. Kontemplatiewe geestelike dissiplines het ook ’n bepaalde invloed op sekere areas van die brein. Skanderings wat voor en na fases van kontemplatiewe geestelike bepeinsing gedoen is, het getoon dat sekere neurologiese aktiwiteite binne die brein plaasgevind het en dat ooraktiewe areas in die brein gestabiliseer en gekalmeer het. Die gevolgtrekking is dat gebed en bepeinsing help om die ooraktiewe brein te kalmeer.

Kontemplatiewe geloofsdissiplines kan inderdaad slagoffers se funksionering bevorder, hetsy psigies, neurologies, medies, emosioneel, kognitief of geestelik.

’n Voorlopige kreatiewe pastorale intervensiemodel

Hierdie interdissiplinêre prakties-teologiese model bestaan uit ses verskillende prosesse en 14 basiese stappe wat elkeen in onderskeie taakgedrewe fases ingedeel word. Die model volg nie noodwendig ’n logiese volgorde nie, hoewel die volgorde funksioneel en strategies binne die raamwerk van kreatiewe denke beplan en saamgestel is.

Die model bevat verder ’n aantal funksionele aspekte asook waardevolle getoetste kennisinsette wat tot voordeel van die wetenskap, slagoffers, beraders, terapeute en die praktiese teologie aangewend kan word.

Tersaaklike kennisaspekte soos die NBI-persoonlikevoorkeurtoets (Neethling Brain Instruments), die 3E en 3P kreatiewe modelle, neuroplastisiteit, asimmetriese gedrag, mindfulness, neurosculpting, kreatiewe dissosiasie, emosionele kreatiwiteit, asook verskeie ander insette vanuit die aanverwante wetenskappe, is in die praktykgerigte model opgeneem.

Die voorgestelde model is teologies-eties suiwer en Bybels gefundeer, en is op ’n dinamies-kritiese wyse kreatief en oop ten opsigte van verandering en verdere verruimende insette.

Die ses basiese prosesse van die voorgestelde model is die volgende:

  • Proses 1: Wat is besig om te gebeur, of wat het gebeur, of wat is die behoefte?
  • Proses 2: Waarom gebeur wat met die individu gebeur?
  • Proses 3: Wat behoort te gebeur?
  • Proses 4: Die neem van ’n ruspose.
  • Proses 5: Wat behoort te verander?
  • Proses 6: Terugvoer, vorderingsverslag en instandhouding.

Samevattend

Die navorsing het getoon dat stilte, gebed en Lectio Divina ’n belangrike rol as kreatiewe hulpmiddel kan vervul in die pastorale intervensieproses na trauma. Hierdie standpunt word vanuit sowel die praktiese teologie as die gedragwetenskappe ondersteun.

Heelwat tersaaklike en verfrissende areas is ontgin, wat in terme van terapeutiese prosesse verder ontgin behoort te word om transformerend momentum op te bou vir die fisiese, geestelike en emosionele welsyn van traumaslagoffers. In die lig hiervan is dit belangrik dat daar in die toekoms ’n groter mate van samewerking tussen die pastoraat en die aanverwante wetenskappe moet wees.

(Dr Cobus Jansen van Nieuwenhuizen is leraar in Gemeente Hartebeeshoek)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap