Die vraag na teologiese opleiding word alreeds in 1890 by die 25ste AKV geopper. Die konflik het alreeds hier ontstaan oor óf ’n kerklike kweekskool óf universitêre opleiding gewens is. Daar word nog altyd beweer dat die Hervormde Kerk van die begin af ’n voorstander was van ’n universitêre opleiding. Dit is egter nie waar nie.
Die voorstander van die universitêre opleiding was ds MJ Goddefroy. Goddefroy het beklemtoon dat ’n kweekskool nie vir die Hervormde Kerk aanvaarbaar is nie: Wij moeten een Hoogeschool hebben – geen Kweekschool (Notule, bl 20). By die AKV’s van 1893 en 1897 bly hy pleit dat die voornemende studente by ’n universiteit opgelei moet word. Indien dit nie hier ter plaatse kan gebeur nie, dan in Nederland. Die mislukte kerkvereniging het egter wel gesorg dat daar nie gevorder is op die terrein van teologiese opleiding nie.
Toe dinge begin bedaar, is teologiese opleiding weer bespreek. By die 29ste AKV van 1899 tree ds JAC van Belkum na vore as die voorstander van ’n kweekskool. Sy argument was dat aan ’n universiteit jongmense tot teoloë gevorm word, maar aan ’n kweekskool kan die kerk vir hom herders en leraars vorm. Uiteindelik is die beskrywingspunt van Gemeente Pretoria aanvaar dat eene kweekschool tot opleiding van predikanten opgerig moet word. Ongelukkig het die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog die saak weereens vertraag.
Op ’n manier was die eerste teologiese opleiding van die Hervormde Kerk ’n kweekskool, alhoewel dit op baie informele voet was. Prof PJ Muller (voormalige hoogleraar aan die Stadsuniversiteit van Amsterdam) het van 1906 tot 1909 twee studente, te wete JJ Kühn en JJ Prinsloo, in sy pastorie opgelei en hulle is na hul opleiding in die Hervormde Kerk beroepbaar gestel. Op so ’n wyse het dit albei pole, naamlik die ideaal van ’n kerklike opleiding gekombineer met vertroue in die Nederlandse leermeesters.
Na die verwoesting van die Tweede Vryheidsoorlog was daar eers vir ’n tyd gefokus op die heropbou van die gemeentes. By die 34ste AKV in 1909 word teologiese opleiding weer indringend bespreek. Weereens word die voorkeur aan ’n kweekskool gegee. Die entoesiasme vir die kweekskool het so hoog geloop dat daar uitvoerig in Die Hervormer daaroor berig is om die gemeentelede te motiveer om tot die saak by te dra. JJ Prinsloo skryf byvoorbeeld in 1911 dat die Hervormde Kerk die oude voortrekkergeest bewaar. Volgens hom is ’n kweekskool juis nodig om die eie karakter van die Voortrekkers te behou.
By hierdie vergadering word die eerste Kuratorium ook verkies. Die Kuratorium het werk gemaak daarvan om ’n kweekskool daar te stel. Maar die verarmde toestand van die Afrikaner het dit waarskynlik verhinder. Daar is ook benoeminge in 1910 uitgebring op prof dr PJ Muller, asook di Jac van Belkum en HCM Fourie. Op daardie stadium het beide Van Belkum en Fourie reeds hul doktorale eksamens voltooi. Muller en Fourie het die benoemings van die hand gewys, wat die vestiging van ’n kweekskool weer vertraag het.
Uiteindelik het sake rondom die oprigting van die Transvaal University College (TUC) die Kerk ingehaal. Tydens die 37ste AKV (1916) was dit reeds bekend dat daar ’n teologiese fakulteit aan die TUC gevestig gaan word. Op 20 Julie 1916 ontvang die Kerk ’n amptelike uitnodiging om mee te werk aan teologiese opleiding aan die TUC. Die Kerk antwoord positief en beveel aan dat die Hervormde Kerk een dosent beskikbaar sou stel. Sodoende het die Hervormde Kerk teologiese opleiding teen wil en dank by ’n universiteit gevestig.
Opsommend kan ons dus besin oor die voorkeur vir ’n kweekskool bo universitêre opleiding. Eerstens is ’n eie universiteit vir die Transvaal as onmoontlik gesien. Die ZAR-regering het net nie oor die fondse beskik nie. Gevolglik het ds Goddefroy aangevoer dat die predikante in Nederland opgelei moet word. Tweedens het sommige predikante en lidmate gevoel dat ’n kweekskool opregte geaarde (Van Belkum) predikante sal oplewer en die unieke geaardheid van die Hervormde Kerk (Prinsloo) sal beskerm. Laastens het die keuse waarskynlik op ’n kweekskool geval omdat dit die konsep was waaraan ’n groot aantal van die predikante bekend was. Van die 11 diensdoenende predikante in 1909 was vyf afkomstig uit die NG Kerk se kweekskool en ses het hul opleiding aan Hollandse universiteite ontvang. Verder is daar in die periode vanaf 1875 tot 1909 tien beroepe uitgebring op NG leraars. Hierdie leraars was vertroud met ’n kweekskoolopleiding. Hulle het deelgeneem aan die debatte en die guns geswaai in die rigting van ’n kweekskool.
Hierdie vertroue in die NG Kerk se kweekskool kan gesien word in die aanstelling van die eerste dosent by die nuut gestigte teologiese fakulteit, prof JHJA Greyvenstein in 1917. Hy het na sy matrikulasie aan die Victoria College in 1897 vir ses maande skoolgehou en toe teruggekeer vir die Kaapse Intermediêre Eksamen. Daarna het hy ingeskryf vir die BA-graad, maar hy het sy studie onderbreek om as Kaapse rebel deel te neem aan die Tweede Vryheidsoorlog. Hy is in 1900 gevange geneem, maar vrygelaat om onder die toesig van die Kaapse regering sy studies privaat voort te sit. Hy het in 1902 sy BA-graad ontvang. Daarna skryf hy by die Kweekskool op Stellenbosch in en voltooi sy studie daar in 1905. Na aflegging van die kandidaatseksamen en legitimasie vertrek hy na Edinburgh vir verdere studie.
(Hierdie is ’n verkorte weergawe van ’n lesing wat by die Kerkhistoriese Genootskap se vergadering gehou is.)
(Ds Willem Dreyer is predikant in Gemeente Groot-Marico en voorsitter van die Kerkhistoriese Genootskap)