En almal is vervul met die Heilige Gees, en het in ander tale begin praat, soos die Gees aan hulle gegee het om hardop uit te spreek. (Handelinge 2: 4, AFR2020).
Lees Handelinge 2: 1-13
So pas het ons die voorreg gehad om nog ’n Paasfees te vier. Om opnuut dankbaar te staan voor ’n leë kruis en ’n leë graf. Die prys betaal en die oorwinning behaal. Die geleentheid om weer te kon sing: Die Heer, die Heer het opgestaan… Ja, die Heer het waarlik opgestaan.
Maar nou is dit Mei. Amper halfpadtyd vir 2021. Nog ’n vreemde jaar met snaakse maatreëls en inperkings om ’n onwelkome gas te probeer hokslaan. Frustrasies en ek-wonder-hoe-lank-nog-praatjies oor ’n virus wat weier om op stal te bly. Praat ons padlangs hier in ons gemeente in Nieu-Seeland, loop die gesprek baie vinnig na groot heimwee en diep verlange na ons mense in Suid Afrika – die hartseer van toe grense, uitgestelde vliegkaartjies en afgestelde kuierplanne. Ook hier is dit nie altyd maklik nie.
Inperking, aanpassing…
Hierdie tyd van die jaar sou ook vir Jesus se volgelinge groot aanpassings bring – die groep mense wat so gereed was om Hom na sy opstanding terug te verwelkom in hul lewens. Die dood was ’n verslaande vyand, en nou was hul Here terug om weer voor te loop en die weg te baan. Maar 40 dae na die wonderlike leë-graf-ontdekking, moet hulle toekyk hoe hul teruggekeerde Messias wegvaar, opvaar, totdat ’n wolk Hom verberg. Al waarmee hulle agterbly en waaraan hulle verbete vasklou, is die wete dat Hy weer gaan terugkeer.
Messiaswoorde. Heilige beloftes. Woorde waaraan ons vandag nog vashou… of dalk baie maal nie? Ek dink ons het so ’n bietjie langs die pad vergeet. Of baie kere nie onthou dat ons met ons Here se hemelvaart nie net die belofte van ’n wederkoms ontvang het nie, maar ook die Heilige Gees verwelkom het. Die Here het mos gesê dit sal so wees.
En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van die waarheid… (Joh 14: 16-17, AFR2020). Parakleet: Helper; Voorspraak; Trooster.
Tien dae na die hemelvaart word ’n groepie mense daar in Jerusalem toegerus (of is dit toegeruis?) met sy Heilige Gees, om anders te wees en anders te leef. Mense – gewone mense – praat skielik op ’n ander manier. En nou weet ek ook as ons oor daardie gemeente van Handelinge 2 praat, slaan ons altyd vure dood oor nuwe tale wat nie brabbeltale was nie. Dit was verstaanbare vreemde tale, gehoor en ingeneem deur gretige ore en opgewonde harte. Maar so met die vure doodslaan, kyk ons baie maal verby ’n waarheid wat deur ons uitgeleef moet word. Die Heilige Gees het ons anders leer praat – ook in ons eie taal.
Die Heilige Gees laat mense nuut praat. En terwyl ons soms skepties is oor ons eie gemeentes wat klaarblyklik sleg afsteek teen die eensgesinde, getroue gemeente van Handelinge 2 wat alles met mekaar gedeel het en die tempel getrou besoek het, moet ons tyd maak om met nuwe oë na mekaar te kyk. Jy sal verbaas wees: Die Heilige Gees word deur niemand ingeperk nie. Ek sien hoe mense mekaar bemoedig in seer oomblikke, mekaar lei in stormtye – ek sien hoe laste gedra word en probleme gedeel word. Ek sien hoe ’n koppie koffie en ’n simpatieke oor wondere verrig. Ek beleef hoe opgewonde die kudde is om mekaar by die kerk te sien. Hoe daar dikwels vir ’n volle uur na die diens gekuier word, want die behoefte is groot. Ek sien hoe graag hulle deel en gee… selfopofferende liefde en deurleefde dankbaarheid…
En dan kom die besef: Ons moet anders leer kyk na onsself. Die Heilige Gees is besig om te doen wat die Gees moes kom doen. Miskien is dit makliker om dit raak te sien in ’n klein gemeente in ’n vreemde land waar mense mekaar werklik nodig het en eintlik familie word.
Maar kyk na jou eie gemeente. Kyk vir ’n slag op ’n ander manier. Kyk verby die goed wat jou soms irriteer en omkrap. Maak oop jou oë en sien hoe ons deel is van ’n heilige plan in ’n stukkende wêreld…