Die jaarlikse legitimasiegeleentheid het op Donderdag 4 September 2025 plaasgevind. Dr Frikkie Labuschagne het die erediens gelei. Sewe sesdejaarstudente het by dié geleentheid proponente van die Kerk geword.
Die sewe nuwe proponente is Peet Bloem, Zanedrieka de Lange, Carien Janeke, Helga du Plessis, Kharla Guest, Christo Pieterse en Elizabeth Rossouw.
Die geleentheid het verskeie interessanthede opgelewer. Peet Bloem is op 66-jarige ouderdom gelegitimeer – die lewensjaar waarin dominees al ’n jaar lank met emeritaat is. Gelukkig maak besluite van die Kerk dit vir hom moontlik om steeds as predikant georden te word. Christo Pieterse (swaer van dr Frikkie Labuschagne) is ’n boer en sakeman wat later in sy lewe besluit het om teologie te studeer. Elizabeth Rossouw is ’n gebore en getoë Namibiër. Die res is almal vanuit die ou Transvaal afkomstig.
Nog ’n interessantheid is dat elkeen ’n prys vir die beste prestasie in ’n bepaalde vakgebied ontvang het: Zanedrieka de Lange in Nuwe Testament (81%), die toekenning vir akademiese prestasie oor die hele terrein van teologiestudie (gemiddelde punt van 80% oor die vyf jaar), en die Cules Boshoff-erepenning; Peet Bloem in Kerkgeskiedenis (86%); Helga du Plessis in Praktiese Teologie (82%); Kharla Guest in Godsdiensstudies en Missiologie (82%); Carien Janeke in Godsdiensstudies en Missiologie (82%); Christo Pieterse in Ou Testament (85%) en vir die beste skripsie (80%); en Elizabeth Rossouw in Sistematiese en Historiese Teologie (86%).
Baie geluk aan die nuwe proponente. Ons bid julle ’n verrykende en geseënde loopbaan in die bediening toe.
(Hooffoto: Peet Bloem, Helga du Plessis, Christo Pieterse, Zanedrieka de Lange, Elizabeth Rossouw, Carien Janeke en Kharla Guest)