Ds Danie Taljard
Bestuurs- en leierskapsafrigting word in die besigheidswêreld gebruik om leiers se potensiaal te ontsluit en prestasie te verbeter. Dit is ’n metode van leer wat mense ontwikkel en met gereedskap toerus om aktief doelwitte te bereik. Wat gebeur wanneer predikante bestuursafrigting ontvang?
Navorsing aan die Universiteit van Stellenbosch se Besigheidskool wou die persepsies daaroor toets, bepaal watter aspekte van afrigting ’n impak maak op predikante as leiers, en vasstel of dit in die kerk aangewend kan word. Tien predikante van verskillende denominasies wat die Hervormde Kerk insluit, het aan die studie deelgeneem. Hier word hul insette aan die woord gestel.
Hoe het die predikante die afrigtingsproses beleef?
Data uit die navorsing wys dat predikante die verhouding met ’n onafhanklike denkvennoot wat begelei en uitdaag selfs in angstige situasies as professionele ondersteuning ervaar. ’n Vertroulike omgewing waar iemand eerlik luister en help reflekteer, het hulle uitgedaag en begelei om buite die kassie te dink en na antwoorde te soek. Die bereiking van persoonlike en organisatoriese doelwitte het ’n positiewe invloed op hul vlakke van motivering gehad wat selfs ná die kursus voortgeduur het.
Aspekte van afrigting wat ’n impak gemaak het
Die afrigtingsproses waar hulle aktief kon reflekteer oor hul rol as leiers en bestuurders het gehelp om ervarings in die gemeente nuut te interpreteer en kreatiewe doelwitte vir die toekoms uit te werk. Die skep van kennis het hulle ou vaardighede laat herontdek en nuwe vaardighede laat aanleer. Daar was beter insig in hul swak- en sterkpunte sowel as in die bestuursproses.
Dit het hulle gehelp om meer effektief te kommunikeer en besluite te neem. Die fokus op aksie om ’n doel te bereik het predikante meer produktief betrek by lidmate en die kerkraad rondom die werksaamhede van die gemeente.
Kan bestuursafrigting die kerk baat?
In die vorige artikel is reeds beklemtoon hoe belangrik leierskap vir die kerk is in veranderende en onsekere tye. Uit die navorsing sien ons dat afrigting predikante bemagtig om probleme te oorkom deur self oplossings te vind. Dit is ’n metode om alternatiewe uitkomste te konstrueer, veral waar daar ’n tekort aan hulpbronne is.
Die uitwerk en kommunikering van duidelike doelwitte het veroorsaak dat die kerkraad en lidmate meer betrokke raak, en die dominees het vrymoedigheid gehad om take te delegeer – iets waarmee hulle gewoonlik sukkel. Die ontdekking van vaardighede het hulle gehelp om lidmate se verwagtings van die leier se rol met groter selfvertroue te hanteer. Verskeie deelnemers het aangetoon dat hulle daardie moeilike gesprekke kon gaan voer en kalmer in emosionele vergaderings was.
Die formulering en bereiking van ’n persoonlike of organisatoriese doelwit word sterk gekoppel aan verhoogde vlakke van motivering en prestasie. Dinge waarteen sommige predikante opgesien het, is met groter motivering aangepak, en hulle het ook meer beplan en gedoen rondom die bereiking van die doel. Uit die tien doelwitte wat die predikante uitgewerk het om oor afgerig te word, het ses gefokus op groei en vier op produktiwiteit.
Afrigting het ’n invloed gehad op die welstand van predikante. Hulle toon aan dat die afrigtingsproses professionele ondersteuning binne die werkruimte gebied het. Die isolasie wat predikante dikwels ervaar binne vasgeloopte situasies en onvoorsiene probleme, word deurbreek wanneer daar op ’n konstruktiewe manier oplossings gevind word. Toe deelnemers oor die afrigtingsproses gereflekteer het, het hulle ’n gevoel beskryf van opgewondenheid om met nuwe energie en selfvertroue te werk.
Binne die kerk hoef afrigting natuurlik nie so ’n sterk besigheidskarakter te hê nie. Die fokus kan eerder geplaas word op voortdurende vernuwing, welstand en die ontwikkeling van leiers- en bestuursvaardighede van predikante.
Die resultate van die navorsing is nie net beperk tot predikante nie, maar waardevol vir enige lidmaat wat ’n leierskapsrol in die gemeente vervul.
Die oorlewing en transformasie van gemeentes gaan afhang van sterk visionêre leierskap en bestuur deur predikante wat in geloof aan God geanker is. Bestuursafrigting kan as een van vele instrumente deur die kerk aangewend word om predikante en gemeenteleiers vir die toekoms voor te berei.
(Ds Danie Taljard is leraar in Gemeente Sionshoogte en betrokke by die Christelike Seemansorganisasie)