Ds Danie Taljard het die graad MPhil in Bestuursafrigting met die titel The influence of coaching on clergy who manage their own congregations aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Hy vra hier of predikante wel bestuurs- en leierskapsafrigting moet kry.

Kort predikante afrigting? Die vraag word in ’n ligte luim gevra omdat ons op sportgebied goed weet dat ’n talentvolle, fikse en ervare span dikwels faal as gevolg van swak afrigting. Dan eis ons dat die afrigter se kop moet rol. Aan die ander kant weet ons ook wat ’n goeie afrigter met selfs ’n middelmatige span kan vermag.

Nie alles vanuit die besigheidswêreld kan op die kerk van toepassing gemaak word nie. Tog kan die manier waarop leiers toegerus en ontwikkel word tot voordeel van die maatskappy, nuttige gereedskap vir die kerk se leierskorps bied.

Navorsing toon dat leiers ’n kragtige impak op organisasies het. Hulle bepaal die visie, doelwitte en strategiese rigting. Bekende suksesverhale van ’n positiewe impak sien ons byvoorbeeld by Johann Rupert van die Rembrandt-groep. Daar is helaas ook talle voorbeelde van die destruktiewe gevolge wanneer leiers ’n negatiewe invloed op hul organisasies uitoefen.

Die eise van ’n vinnig veranderende en komplekse wêreld het ’n groot impak op korporasies en ook op die kerk. Die druk van verandering, aanpassing en oorlewing stel hoë uitdagings aan die persoonlikheid en vaardighede van leiers. Daarom benodig hulle ’n veilige en ondersteunende omgewing om deur die uitdagings te navigeer. Hier moet hulle nuwe maniere van dink, voel en optree aanleer om resultate te behaal.

Wat is bestuurs- en leierskapsafrigting?

Afrigting kan gedefinieer word as ’n menslike ontwikkelingsproses met gestruktureerde, gefokusde aksie wat doelmatige strategieë, gereedskap en tegnieke gebruik om volhoubare verandering en groei te bewerkstellig tot voordeel van alle belanghebbendes.

Afrigting word in die korporatiewe wêreld aangewend om leiers se potensiaal te ontsluit en sodoende prestasie te verbeter. Dit vind plaas binne ’n een-tot-een samewerkende verhouding waar die leier se vaardighede, persoonlik en professioneel, in lyn met die doelstellings en waardes van die organisasie ontwikkel word. Die professionele, uitkomsgebaseerde leerproses fokus op ’n volhoubare impak met betrekking tot optrede en prestasie.

Bestuurs- en leierskapsafrigting word spesifiek gebruik om senior leiers en bestuurders te help om verandering en groei in besighede te fasiliteer. Dit is ’n proses wat organisasies help om te groei deur die ontwikkeling van die leier op grond van wat die organisasie benodig. Hier gaan dit nie net oor die verhouding afrigter-kliënt nie, maar ’n derde vennoot, naamlik die doelstellings en waardes van die organisasie, kan bygevoeg word.

Die bestuursafrigter gebruik verskillende modelle, gespreksraamwerke en tegnieke wat dikwels vanuit die terreine van sielkunde, berading en terapie aangepas is om die vaardighede van die leier te ontwikkel. Binne die korporatiewe wêreld word afrigting as ’n effektiewe intervensie beskou.

Die kerk se leierskorps

Die verandering en transformasie van die 21ste eeu beïnvloed die kerk as organisasie, en predikante as leiers moet hierdie dinamika verstaan. Vir die kerk om in die huidige tydgleuf relevant, effektief en groeiend te bly, gaan uitsonderlike leierskap verg.

Al is die kerk as organisasie net so sterk soos sy leiers en lidmate, sal leierskap altyd ’n dienskarakter hê, omdat Jesus Christus die Hoof van die kerk is. Leierskap is ’n dinamiese proses waar toerusting en leiding deur die Heilige Gees bepaal word. In die veranderende tye word van leiers verwag om meer buigbaar, kreatief en innoverend te lei.

Die oorlewing en transformasie van gemeentes in die komplekse wêreld gaan bepaal word deur ’n vaste geloof en vertroue in God, maar ook deur sterk visionêre leierskapspraktyke en goeie bestuur.

Hoe gaan dit met predikante? Internasionale navorsing se opnames onder predikante het jare gelede al onrusbarende vlakke van hoë stres (75%) en gevorderde tekens van uitbranding (40%) getoon. Hervormde predikante is nie hiervan gevrywaar nie.

’n Opname in die VSA in 2010 het gevind dat die rol van die predikant of pastor baie groter geraak het as om net geestelike leiding te gee. Kyk maar na gemeentes met vakante standplase se advertensies en sien hoeveel komplekse leierskaprolle van ’n predikant verwag word. Predikante voel teologies deeglik geskool, maar opleiding en ondersteuning in leierskaps- en bestuursvaardighede skiet te kort.

Die rol van die afrigter

Die afrigter funksioneer as ’n dink-vennoot wat die kliënt ondersteun op die pad van groei en ontwikkeling. Die klem val nie soseer op deel van raad en ervaring nie, maar begeleiding binne ’n proses waar nuwe uitkomste geskep kan word. Dit is daarom ’n direktiewe proses wat uitdaag om grense te skuif.

’n Wye spektrum van tegnieke en gespreksraamwerke word aangewend om ’n doelwit te formuleer en suksesvol uit te voer. Die afrigtingsproses kan letterlik op enige onderwerp toegepas word.

Die afrigter skep ’n emosioneel veilige ruimte waar die kliënt sonder inhibisie met idees en gedagtes kan werk. Geakkrediteerde afrigters onderskryf ’n streng etiese kode oor onder andere vertroulikheid, met selfs aanbevelings dat die afrigter ook na ’n aantal ure vir toesighouding gaan.

’n Afrigter moet goeie luistervaardighede hê sodat die kliënt se gedagtegang gemonitor kan word, aangesien dit juis hier is waar nuwe uitkomste ontstaan.

Bestuursafrigting en predikante

Navorsing in 2017 by die Universiteit van Stellenbosch se Bestuurskool het tien predikante, onder andere ook van die Hervormde Kerk, blootgestel aan bestuursafrigting. Die navorsingsdoelwitte was eerstens om hul persepsie daaroor te toets. Tweedens om te bepaal watter aspekte van afrigting op predikante as leiers en bestuurders geïmpakteer het, en derdens om te bepaal of bestuurs-afrigting ’n proaktiewe intervensie vir die kerk kan wees. 

Kort predikante afrigting? Die resultate van die navorsing word in ’n volgende uitgawe bespreek. 

(Ds Danie Taljard  is leraar in Gemeente Sionshoogte)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap