Die Wêreldgelukkigheidsindeks wat sedert 2012 jaarliks gepubliseer word, toon aan dat Suid-Afrikaners se gelukkigheidsvlakke steeds daal. Suid-Afrika beklee die 95ste plek uit 147 lande op die 2025-indeks – met dieselfde indekstelling as Mosambiek!
Die vier lande boaan die lys (Finland, Denemarke, Ysland en Swede) is sonder uitsondering lande met sekulariserende samelewings wat al hoe minder waarde heg aan georganiseerde godsdiens. Dit laat ’n mens wonder: Waarom sou ’n land soos Suid-Afrika wat spog met ’n oorwegend Christelike bevolking só laag op die lys verskyn? Is Filippense 4: 4 se oproep tot vreugde dan net ’n mooi vers wat geen sigbare impak op ons daaglikse lewens maak nie?
Suid-Afrika se lae gelukkigheidsvlakke kan natuurlik deels aan tasbare uitdagings toegeskryf word. Sosio-ekonomiese faktore en veiligheidskwessies knaag aan die algemene welstand. Navorsers beklemtoon dat die ondersteuning van ander mense ook ’n sleutelrol in gelukkigheid speel. Ewe-eens vind Suid-Afrikaners blykbaar op daardie terrein min troos – wat nie vleiend vir die kerk is nie.
Maar daar is ander moontlike redes vir die vreugdeloosheid. Sommige Christene is so gefokus op die lewe ná die dood dat hulle die waarde van die lewe vóór die dood misken. Tog sê Jesus in Johannes 10: 10: Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Hierdie belofte is nie tot die ewige lewe beperk nie. Die lewe ná die dood is in elk geval in soveel misterie gehul, dit bly uitsluitlik God se domein. Oor die lewe vóór die dood het die Bybel heelwat meer te sê.
Maar hoe lewe ons in oorvloed, veral in ’n tyd en wêreld wat toenemend hoër eise aan ons stel en ons lewens dikwels alles behalwe oorvloedig voel? Lewe in oorvloed in hierdie konteks het niks met materiële dinge te make nie. Sommige mense met min besittings lewe immers sinvolle en vreugdevolle lewens, terwyl ander met meer as genoeg aardse goed daagliks leegheid ervaar. Lewe in oorvloed is iets heeltemal anders as lewe met oorvloed.
Selfs sonder ’n fiksasie met die hiernamaals, kan ’n obsessie met die onbekende toekoms ons daaglikse lewensgenot belemmer. In Matteus 6: 25-34 leer Jesus ons om nie oor môre bekommerd te wees nie, maar om nóú te leef met volle vertroue in God se voorsiening. As ons lewe vir eendag, die dag wanneer alles perfek gaan wees, dan mis ons die skoonheid van die oomblik – ’n besondere sonsondergang, die geur van wildejasmyn in blom, ’n onbaatsugtige liefdesdaad en oneindig meer…
Die Israeliete het destyds in die woestyn opdrag gekry om elke dag slegs dáárdie dag se voorraad manna en kwartels bymekaar te maak en hulle nie oor die volgende dag en dae te kwel nie. Hulle moes leer om God vir hul daaglikse brood te vertrou. Om elke dag uit God se hand te lewe, dít is ’n oorvloedige lewe.
Om sinvol en oorvloedig te lewe, is soos om ’n boek te lees. Jy moet elke woord, elke paragraaf en elke hoofstuk lees. Dit is al manier hoe die verhaal sin sal maak soos die skrywer dit bedoel het. As jy ’n bladsy oorslaan, verloor jy dalk die draad van die storie. Jy moet al die karakters ontmoet en jouself in elke intrige inleef. Sommige hoofstukke sal jou laat huil, ander sal jou laat glimlag of hardop laat lag. Soms sal jy voel asof jy wil ophou lees omdat die verhaal te intens geword het. Ander kere weer sal jy die boek nie kan neersit nie. Maar jy moet bladsy vir bladsy deurdruk en niks misloop nie. Uiteindelik sal al die legkaartstukke van die verhaal ’n geheelbeeld vorm. Dít is die verhaal wat God besig is om oor en met elkeen van ons se lewens te skryf. Hy is die meesterouteur van ’n meesterwerk.
Ons moet doelbewus stadiger lewe – die lewe is nie eers môre nie; die lewe is nóú! ’n Anonieme skrywer beskryf dit so: Dit was lente, maar ek wou somer hê – warm dae en heerlike buitelewe. Dit was somer, maar ek wou herfs hê – kleurvol en koel. Dit was herfs, maar ek wou winter hê – koue lug en kaggelvuur. Dit was winter, maar ek wou lente hê – bloeisels en nuwe lewe. Ek was 10, maar ek wou 20 wees – onafhanklik en vry. Ek was 20, maar ek wou 30 wees – meer volwasse en gesofistikeerd. Ek was 30, maar ek wou 40 wees – vermoënd en standvastig. Ek was middeljarig, maar ek wou afgetree wees – sonder sorge en verantwoordelikhede. Ek het afgetree, maar ek wil 20 wees – gesond en sonder beperkings. Ek droom steeds, want ek het nooit gekry waarvoor ek gewens het nie.
Omhels die wonder van nóú. Soos iemand wie se jongste kind onlangs die huis verlaat het, sê: Die dae was lank, maar die jare was kort. Ja, die jare is reeds so kort, moet hulle nie omwens nie.
Vandag is ’n genadedag deur God aan ons geskenk. Ons hoef nie hoog op ’n wêreldranglys te verskyn om vreugdevol te leef nie. Elke nuwe dag is ’n uitnodiging om te lééf en nie net te bestaan nie – onbevange en voluit te lewe, nie eendag nie, nie wanneer alles perfek is nie, nie eers ná ons dood nie, vandag. Herwaardeer die lewe se mooi. Want Jesus het gekom sodat ons die lewe kan hê – en dít in oorvloed. Hier. Nou.